Search this journal:     Advanced search
Article Information

Author:
Gerda de Villiers1

Affiliation:
1Department Old Testament, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to:
Gerda de Villiers

Postal address:
Faculty of Theology, Department Old Testament, University of Pretoria, South Africa

Dates:
Received: 28 Sept. 2012
Accepted: 21 Mar. 2013
Published: 05 Sept. 2013

How to cite this article: De Villiers, G., 2013, ‘Rut 4:18–22: ’n Venster na Israel se verlede?’, Verbum et Ecclesia 34(2), Art. #798, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ve.v34i2.798

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Rut 4:18–22: ’n Venster na Israel se verlede?
In This Original Research...
Open Access
Abstract
Voorwoord
Inleiding
Tipes genealogieë
Datering van die boek Rut
Rut 4:18–22
   • Tien name
   • Rut 4:18–22 en 1 Kronieke 2:4–15
   • Rut 4:18–22 en Genesis
   • Rut 4:18–22 – deel van die oorspronklike teks, of nie?
      • ’n Latere addendum?
      • Rut 4:18–22 is inherent deel van die teks
Wyk die manlike stamboom af van die vroueperspektief?
   • Rut 4:11a – ‘Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel’
   • Rut 4:11b – ‘Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem’
   • Rut 4:12 – ‘Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is’
   • Rut 4:14a – Die vrouens sê toe vir Naomi: ‘Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ’n losser gegee het.’ Vers 17b: ‘’n Seun is vir Naomi gebore’
   • Rut 4:14b – ‘Jou skoondogter wat jou liefhet en vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring’
   • ’n Wending in die woestyn
      • ’n Vrou beslis betrekkinge
   • Vroue versteur verhoudinge
Wie het die boek Rut geskryf?
Slotsom
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Voetnotas
Abstract

Ruth 4:18–22: A window to Israel’s past. The genealogy at the end of the Book of Ruth starts with Perez and ends with David, thereby covering Israel’s history since the time of the sojourn in Egypt to the Davidic monarchy. This article focuses on Ruth 4:18–22 and what its genealogy may reveal. After a brief review of different types of genealogies in the Hebrew Bible, the problematic dating of the Book of Ruth becomes secondary; however, a particular perspective will determine the rest of the interpretation of the genealogy. My point of view in this article is that the Book of Ruth dates back to the period of the Second Temple. I examine the following issues: the connection between Ruth 4:18–22 and 1 Chronicles 2:4–15, as David’s genealogy appears only in these two passages of the Hebrew Bible; the connection between the ten-member genealogy in the Book of Ruth and similar ten-member genealogies of Genesis; and whether Ruth 4:18–22 is a later addendum to the text or part of the original. The conclusion to these questions is that the genealogy of the Book of Ruth is similar to those in Genesis, and that it was part of the original book. The median of the genealogy of the Book of Ruth takes place in the desert with Nahshon as the representative of that era. Nahshon’s sister happens to be married to Aaron whose priesthood is elevated above the rest of the tribe of Levi, and to whose descendants eternal priesthood is promised. Phinehas, his grandson, appears to be extremely intolerant of mixed marriages – an attitude which is later sustained by his descendant, Ezra, the scribe. The article also touches briefly upon the whole problem of mixed marriages and a sense of identity during the Second Temple period. The conclusion is that the author of the Book of Ruth was written by members of the scholarly circles of this period in opposition to exclusivist circles as to remind the community of the important role that women – especially foreign women – played in the formative history of the nation.

Voorwoord

Hierdie artikel word opgedra aan Jurie le Roux. Ek sal hom onthou as iemand met ’n besondere voorliefde vir die teologiese wetenskap en die geskiedenis. Jurie het egter altyd beklemtoon dat ’n mens nooit ’n vaste greep op die geskiedenis kan kry nie, want die oomblik nadat iets gebeur het, is die feitelike verlore, en bly slegs ’n interpretasie oor. Geskiedenis is dus nie feite nie, maar interpretasies van gebeure. Daarom begin ek hierdie artikel met ’n veelseggende aanhaling uit ’n boek.

Inleiding

‘Die verlede is ’n ander land; waar is die pad wat soontoe loop?’ Roerende eerste woorde in Karel Schoeman se boek, Na die geliefde land (1972:1). In hierdie boek worstel die mens met sy gebondenheid aan die verlede. Hy kan sy verlede nie ontsnap nie, maar terselfdertyd kan hy nie regtig daarby uitkom nie, want hy kry nie die pad daarheen nie. Dis ’n diepe tragedie, want nou is hy vasgevang, hy stagneer en dis vir hom onmoontlik om vooruit te gaan.

’n Geslagsregister, oftewel ’n stamboom, kan die mens dalk ’n bietjie help om hierdie pad na die verlede na te spoor, natuurlik nie die hele pad nie, want dié is vir ewig verlore. Nogtans bestaan iemand se stamboom uit die name van mense wat op ’n manier familie van mekaar is, maar wat op verskillende tye geleef het. Wanneer gebeure aan name gekoppel word, dan verskyn daar ’n venster – weliswaar een met dowwe ruite – na die verlede, en kry die mens ’n blik op sy geskiedenis. Treffend stel Martin Fitzenreiter (2005) dit:

Durch das ‘Genealogische’ in der Anordnung der Ereignisse wird die Vergangenheit als ein dimensioniertes Gebilde, als ‘Zeit-Raum’ konstruiert: es gibt einen Anfang/ein Hinten; es gibt Abzweigungen/‘Seiten’; es gibt verknüpfenden ‘Nähen’ und trennende Entfernungen, es gibt das Jetzt/‘Vorn’. Durch das ‘Genealogische’ wird die Vergangenheit zudem als bewegt und als kausal verknüpft gesehen; die Ereignisse ‘werden’, sie ‘blühen’, sie ‘vergehen’, sie entstehen aus einander. Durch das ‘Genealogische’ wird die Vergangenheit schließlich zu einem logischen Teil – zum Ursprung – der Gegenwart. [Deur die gebeure by wyse van genealogieë met mekaar te skakel, neem die verlede grootse tydruimtelike afmetings aan. Daar is ’n begin / ‘agter’; daar is vertakkinge / ‘sykante’; daar is bande van naasbestaandes, en ander wat verbreek is, en dan is daar die hede / ‘voor’. Die verlede beweeg deur genealogieë heen, die oorsaaklike verband tussen die gebeure blyk: iets gebeur, floreer, gaan verby en die een ding gee aanleiding tot die ander. Uiteindelik maak genealogieë die verlede ’n logiese deel – die oorsprong – van die hede.] (bl.1, [outeur se vrye vertaling])

In hierdie artikel gaan ek na die genealogie aan die einde van die Rutboek kyk – ’n boek oor vroue – en na wat die manlike stamboom oor die geskiedenis van die volk Israel openbaar.

Tipes genealogieë

Antieke kulture het hul gode, konings en volke na aanleiding van genealogiese beginsels georden (Hieke 2010:150). Antieke geslagsregisters was nie in die eerste plek bedoel om eksakte historiese gebeure te weerspieël nie, maar hulle was esteties literêre kultuurprodukte. Die doel was om sin en betekenis aan mense en volke te gee deur doelbewus sekere name te kies, hulle te orden en op ’n bepaalde manier te struktureer (sien ook Fitzenreiter 2005:2).

Thomas Hieke (2010:166–167) onderskei twee basiese vorme van genealogieë waarbinne hy vier elementêre tipes identifiseer. Die twee basiese vorme is segmentêr en lineêr. Segmentêre genealogieë dui die basiese geslagslyn sowel as meerdere vertakkings aan. Met ander woorde, die naam van die stamvader en soms ook die stammoeder, sowel as meerdere seuns en dogters word opgeteken. Lineêre genealogieë daarenteen is meestal patrilineêr en strek slegs oor een lyn: oupa, vader, seun, kleinseun oor etlike geslagte heen.

Die vier elementêre tipes is: toledot (gewoonlik vertaal met ‘geslagsregister’ of ‘geskiedenis’); yalad-aktief (X ‘het die lewe geskenk aan’ of ‘was die vader van’ Y), en yalad-passief (‘vir X word Y gebore’); ben-tipe (meestal manlik, maar soms vroulik ook – ‘hy/sy was die vader/moeder van’, of ‘hy/sy was die seun/dogter van’); broer-suster-tipe (hy/sy was die broer/suster van). Eersgenoemde twee tipes, die toledot- en yalad-tipes wat na aanleiding van die Hebreeuse werkwoord yalad gekonstrueer is, is gewoonlik meer spesifiek en toon een bepaalde deurlopende linie aan. Die ben-tipe en die broer-sustertipe word na aanleiding van die betrokke selfstandige naamwoord gekonstrueer – vader, moeder, seun, dogter, broer, suster is gewoonlik algemeen en dui etlike familivertakkinge aan. Die eerste drie tipes genealogieë, toledot, yalad en ben kan etlike generasies oorspan; laasgenoemde, die broer-suster-tipe, is slegs tot een generasie beperk.

Datering van die boek Rut

’n Omvattende bespreking van die datering van die boek val buite die bestek van hierdie artikel. Omdat die datering van die boek die interpretasie daarvan raak, is dit egter nodig dat ek ’n standpunt inneem. Sonder om die redes te bespreek, gee ek dus bloot ’n kort oorsig oor die tydperk waar sommige navorsers die boek Rut plaas. ’n Vroeë vooreksiliese datering, in die tyd van Dawid en Salomo, word voorgestel deur onder andere Prinsloo (1982:6–7), Sasson (1989:251), Gow (1992:206), Loader (1994:12), Hamlin (1996:2) en Nielsen (1997:28). Sakenfeld (1999:4–5) stel voor dat die boek net voor die ballingskap (laat vooreksilies) of pas daarna (vroeg na-eksilies) geskryf is; Frevel (1992:34) dateer die ontstaan van die boek vroeg na-eksilies. Bogenoemde navorsers is ook van mening dat die boek Rut nié as polemiek op die verbod teen gemengde huwelike geskryf is nie.

Aan die ander kant is daar byvoorbeeld Zenger (1986:26–28), Zakovitch (1999:62), Fischer (1999:34, 2001:89, 91), Köhlmoos (2010:XIV–XVI) en Cohn Eskenazi en Frymer-Kensky (2011:xvii) wat daarvan oortuig is dat die boek betreklik laat in die tydperk van die Tweede Tempel geskryf is, en duidelike polemies van aard is, veral met betrekking tot die verbod op gemengde huwelike.

My standpunt in hierdie artikel sluit aan by laasgenoemde navorsers, naamlik dat die boek in die tydperk van die Tweede Tempel geskryf is, as onteenseglike polemiek op die verbod teen gemengde huwelike.

Rut 4:18–22

Tien name
Die stamboom aan die einde van die boek bestaan uit tien name wat met Peres begin en met Dawid eindig. Dit strek oor ’n tydperk van min of meer 700 jaar in die geskiedenis van Ou Israel (Prinsloo 1982:104). Die tien name kan dus onmoontlik ’n akkurate geskiedkundige rekord weergee. Veel eerder het die getal tien simboliese waarde wat op volmaaktheid, volledigheid, of afgerondheid dui (vgl. Frevel 1992:158; Prinsloo 1982:104; Zenger 1986:100). In die Ou Nabye Ooste het koninklike genealogieë tipies uit tien name bestaan (Fischer 2001:259; Frevel 1992:158), en ’n geldige gevolgtrekking sou wees dat ’n geslagsregister wat uit tien name bestaan, ’n bepaalde vaste tradisie verteenwoordig.

Juis die dwang van die tradisie kan verduidelik waarom die geslagsregister by Peres, en nie by die stamvader Juda begin nie.1 Juda word immers reeds in vers 12 genoem; sou die geslagsregister by hom begin, dan het dit uit elf name bestaan, en nie tien nie (Gow 1992:88; Loader 1994:100; Sakenfeld 1999:85). Maar belangriker as dit, is die feit dat tienledige genealogieë spesiaal gestruktureer is om voorrang aan die sewende en tiende lede te gee, in hierdie geval, Boas en Dawid (vgl. Frevel 1992:158; Gow 1992:88; Köhlmoos 2010:84; Nielsen 1997:97; Sasson 1989:181; Sakenfeld 1999:85; Zenger 1986:100). Uiteraard is Dawid in tiende posisie die hoogtepunt waarop die ketting van name afstuur (Zenger 1986:100), terwyl, in die sewende posisie, Boas se rol as ‘held’ van die verhaal beklemtoon word (Sasson 1989:182; Zenger 1986:1002).

Rut 4:18–22 en 1 Kronieke 2:4–15
Die geslagsregister van koning Dawid kom slegs op twee plekke in die Hebreeuse Bybel voor: Rut 4:18–22 en 1 Kronieke 2:4–15. Die vraag is nou: wat is die oorspronklike bron: Rut of Kronieke? Het Rut Kronieke geraadpleeg of het Kronieke by Rut kers opgesteek?

In terme van Hieke se onderskeidings (sien hierbo) is die boek Rut se genealogie ’n lineêre toledot-tipe wat slegs oor een lyn loop, en Kronieke s’n ’n segmentêre ben-tipe met heelwat vertakkings. Aanvanklik wil dit lyk asof Rut Kronieke geraadpleeg het om ’n uittreksel daarvan te maak (vgl. Köhlmoos 2010:84; Prinsloo 1982:102; Zenger 1986:11, 100). Daar is nie ’n enkele naam in die boek Rut wat nie ook in Kronieke voorkom nie. Die outeur van Rut sou dus tien name doelbewus uit Kronieke uitgekies het, heel moontlik om ’n tienledige geslagsregister saam te stel, om redes hierbo uiteengesit.

Maar juis die boek Rut se toledot-tipe geslagsregister begin met die geykte priesterlike inleidingsformule: ‘Hierdie is die toledot van …’ en dit dui op ’n tyd vóór Kronieke (Frevel 1992:157). Dit sou impliseer dat die outeur van Kronieke eerder die boek Rut as bron gehad het en daarop uitgebrei het.

’n Laaste verduideliking is dat dit eenvoudig onmoontlik is om vandag vas te stel of Rut of Kronieke die oorspronklike bron was. Miskien was daar ’n ander gemeenskaplike bron wat albei boeke se outeurs tot hul beskikking gehad het – iets soos ’n tempelrol – en wat hulle vir verskillende doeleiendes aangewend het (Gow 1992:88; Loader 1994:100; Prinsloo 1982:104): Kronieke, om ’n grootse ingangsportaal tot die geskiedenis van Israel te skilder, en Rut, om ’n tipiese tienledige geslagsregister soos in die priesterlike tekste van Genesis na te boots.

Rut 4:18–22 en Genesis
In die Pentateug kom die meeste geslagsregisters in die boek Genesis voor (Hieke 2010:165). Die intrige van die Genesis-boek word as’t ware deur genealogieë opgebou (vgl. Steinberg 1989:41). Byvoorbeeld, net ná die broedermoord word Kain se nakomelinge aangekondig (Gen 4:17–24); daarna volg ’n oorsig van Skepping tot Vloed (Gen 5:1–29); ná die Vloed word die nakomelinge van Sem aangekondig tot by die eerste aartsouer, Abram (Gen 11:10–26); en alhoewel die Here se beloftes aan Abraham deur Isak verwerklik sou word, kry Ismael tog wel sy eie stamboom (Gen 25:12–15), en so ook Esau (Gen 36) wat sy eersgeboortereg aan Jakob prysgegee het. Teen die einde van die boek word die name van al die seuns van Israel wat in Egipte gekom het, aangegee (Gen 46:8–25). Anders gestel, die boek Genesis bestaan uit ’n getal narratiewe siklusse wat deur middel van genealogieë aan mekaar verbind word. Genealogie is die kapstok waaraan elkeen van Genesis se stories opgehang word.

Die slot-toledot aan die einde van die boek Rut toon sterk ooreenkomste met veral twee tienledige genealogieë in die boek Genesis: van Adam tot by Noag (Gen 5:1–29) en van Sem tot by Abraham (Gen 11:10–26) (vgl. Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:93; Fischer 2001:72; Frevel 1992:158; Hamlin 1996:73; Köhlmoos 2010:84; Sakenfeld 1999:85; Zakovitch 1999:172; Zenger 1986:100). Die geslagsregister in Genesis 5:1–22 begin by die Skepping, met Adam as die eerste lid, en vorm ’n logiese oorgang na die vloedverhaal met Noag as die laaste lid. Net so in Genesis 11:10–26: Sem se geslagsregister eindig by Abram, en so word die vloedverhaal met die aartsouerverhale verbind (vgl. Fischer 2001:72). In die Hebreeuse Bybel is tien generasies binne so ’n afgeronde genealogie kenmerkend van ’n besondere epog (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:93), en dui dit die oorgang van die een na die ander aan.

Die feit dat Dawid se geslagsregister slegs in die boek Rut en 1 Kronieke voorkom, dui nie noodwendig daarop dat hierdie twee boeke mekaar as bron gebruik het nie. Soos reeds gesê, die doel van die twee boeke verskil: 1 Kronieke 1–9 vorm ’n grootse voorportaal tot die geskiedenis van Israel; Rut se geslagsregister boots die tienledige styl van Genesis na. Daarom moet ’n verband nie tussen Rut en 1 Kronieke gesoek word nie, maar eerder tussen Rut en Genesis (Fischer 2001:71–72). Die redes waarom hierdie verband gelê kan word, hang egter saam met sieninge oor of die geslagsregister deel van die oorspronklike teks was, en of dit dalk later bygevoeg is. Dit word hieronder kortliks bespreek.

Rut 4:18–22 – deel van die oorspronklike teks, of nie?

’n Latere addendum?
Wat literêre styl betref, is die boek Rut ’n besonder kunstige vertelling. Dis in prosavorm geskryf en die verhaal vloei boeiend voort, sonder onnodige herhalings. Die geykte, formuleagtige styl van die slot is uiters vreemd aan die res van die verhaal, en op grond van literêr kritiese oorwegings, kon dit dus nie deel van die oorspronklike teks gewees het nie (vgl. Frevel 1992:28; Köhlmoos 2010:84; Larkin 1996:46; Loader 1994:11, 99; Prinsloo 1982:102–103; Zenger 1986:10–11).

Rut 4:18–22 is volgens sommige ’n onnodige duplisering met Dawid se verkorte geslagsregister wat reeds in vers 17c gegee word (vgl. Frevel 1992:28–29; Prinsloo 1982:102–103; Zenger 1986:5, 11). En, behalwe vir Boas en Obed – van wie laasgenoemde nie eintlik ’n prominente rol in die vertelling speel nie – is geeneen van die ander karakters deel van die storie nie, en is daar nêrens enige aanduidings dat alles uiteindelik op Dawid gaan afstuur nie. Met Dawid voor oë, is dit dalk moontlik dat die geslagsregister heelwat later (na-eksilies, vgl. ook Prinsloo 1982:106) aangeheg is om Dawid se Moabitiese herkoms te legitimeer – ’n geleentheid om ’n verleentheid weg te steek (Loader 1994:100).3

Die leviraatshuwelik word weerspreek. Volgens Rut 4:10 moet die kind Maglon s’n gewees het; en hy word hoegenaamd nie in die geslagsregister genoem nie (vgl. Frevel 1992:28; Prinsloo 1982:102; Zenger 1986:10).

Die boek Rut word deurgaans vanuit ’n vroueperspektief vertel. Vroue speel die hoofrol, selfs die rol van die manlike hoofkarakter, Boas, is sekondêr. Die slot-toledot is eksklusief manlik en is dus ’n radikale afwyking van die deurlopende vroueperspektief (Frevel 1992:28).

Die slotposisie van die genealogie aan die einde van ’n vertelling word as ongewoon beskou (Frevel 1992:28; Loader 1994:99; Zenger 1986:10).4

Rut 4:18–22 is inherent deel van die teks
’n Vooreksiliese datering: Die boek Rut is van die begin as ’n eenheid geskryf om koning Dawid se Moabitiese herkoms, wat ’n welbekende feit was, te verdedig (Nielsen 1997:21–24). Rut is waarskynlik in die tydperk van die vroeë monargie geskryf waartydens ondersteuners van Samuel en Saul onderskeidelik hulle daarop toegelê het om Dawid se naam en herkoms te beswadder. In reaksie teen hierdie sirkels, herinterpreteer die boek Rut alles wat verdag sou voorkom as ’n besondere uitverkiesing deur JHWH. Die genealogie vorm inherent deel van die verhaal.

Die hele boek is apologeties van aard. Die rede waarom Dawid – en die intensie van die boek – eers aan die einde genoem word, is vergelykbaar met die gelykenis van Natan, die profeet (Gow 1992:138). Alhoewel die boek Rut uiteraard nie ’n gelykenis is nie, word die klimaks van die storie tot die einde weerhou, om daardeur die trefkrag te verhoog.

Nielsen en Gow (hierbo) dateer die boek Rut as geheel in die tyd van die vroeë monargie, en bring die verhaal sowel as die geslagsregister in verband met Dawid se Moabitiese afkoms. Daar is egter ook diegene (hieronder) wat ’n inherente samehang tussen verhaal en geslagsregister handhaaf – en dit het niks met Dawid se Moabitiese oumagrootjie te doene nie.

’n Posteksiliese datering: Die uitgangspunt van hierdie artikel is dat die boek Rut betreklik laat in die tydperk van die Tweede Tempel geskryf is. Hierdie tydperk kenmerk ’n bepaalde literêre genre, of Gattung, naamlik verhalende tekste wat die regstekste van die Tora uitlê en aktualiseer (vgl. Zakovitch 1999:62–63).5 Die uitleg en aktualisering van regstekste is egter nie al nie. Ook die narratiewe tekste word met mekaar verbind, amper soos ’n vervolgverhaal wat geleidelik voortgeskryf word (Fischer 2001:72), presies soos wat dit veral in die boek Genesis voorkom. En in Genesis spesifiek is dit genealogieë wat die verhalende siklusse by mekaar betrek en met mekaar verbind. Op hierdie manier vertel die verhale van die aartsouers nie bloot private familiestories nie, maar word dit deel van Israel se volksgeskiedenis. In die literatuur van die latere tyd van die Tweede Tempel hoort narratief en stamboom onlosmaaklik bymekaar.

Gegee die feit dat die boek Rut se stamboom die tienledige toledot-styl van Genesis naboots, impliseer dit dat ook Rut se narratief en stamboom bymekaar hoort. Met ander woorde, die boek Rut se genealogie was van die begin af deel van die oorspronklike vertelling (Fischer 2001:72, 76; vgl. ook LaCoque 1990:112). Verder is die slotposisie van die genealogie glad nie ongewoon, soos Zenger, Frevel en Loader hierbo beweer nie (Fischer 2001:20; vgl. ook Hieke 2010:165), want net soos in Genesis vorm so ’n slot-toledot ’n logiese einde van een verhalende siklus en vorm dit ’n brug na die volgende.

Is die boek Rut dan slegs ’n nabootsing van Genesis, ’n ‘Genesis in die kleine’ en nie veel meer as dit nie? Nee, hier is veel meer as blote imitasie. Sou narratief en stamboom geskei word, is die boek Rut – net soos Genesis sonder stamboom – ’n eenvoudige, private familieverhaal. Die eenheid van narratief-cum-stamboom plaas dié boek egter in dieselfde genre as Genesis, naamlik volksgeskiedenis wat in die vorm van familieverhale vertel word (vgl. Fischer 2001:74–75). Die feit dat Rut 4:18 met Peres begin, word in hierdie verband betekenisvol, en nie bloot net om die tradisie van ’n tienledige geslagsregister te behou nie (sien hierbo). Genesis 5 eindig met die toledot van Adam by Noag. Dit is die epog van die oergeskiedenis. Genesis 11 oorspan die volgende groot epog, naamlik van oergeskiedenis tot aartsouervertellinge: dit begin met die toledot van Sem en eindig met Abram, die tiende lid. Noag, die stamvader, word nie genoem nie (vgl. Fischer 2001:71–72). Wanneer die boek Rut se toledot met Peres begin – en nie met Juda, die stamvader nie – neem Rut die volksgeskiedenis oor waar Genesis eindig. Die boek Rut word dus ’n Fortschreibung van die aartsouervertellinge. Dit neem die geskiedenis vanaf die verblyf in Egipte tot by die dinastie van Dawid. Die geskiedenis is egter nie die volksgeskiedenis van die hele Israel nie, maar die fokus is slegs op een stam, naamlik die stam van Juda (Fischer 2001:74).

Wyk die manlike stamboom af van die vroueperspektief?

Een van die besware wat geopper word teen die stamboom as oorspronklike intensie van die boek Rut, is dat die boek se oorwegend vroulike perspektief laat vaar word, en ’n onvanpaste patrilineêre lyn gevolg word (vgl. Frevel 1992:28 hierbo). Hierdie beswaar word egter weerlê wanneer die genre van die boek Rut in ag geneem word: dis ’n baie spesifieke genre van die tyd van die Tweede Tempel waar narratief en ’n tienledige manlike toledot ten nouste verbonde is (Fischer 2001:74). Die doel van so ’n direkte stamboom was om slegs op een lyn van herkoms te fokus en alle ander vertakkinge buite rekening te laat. Direkte genealogieë is ’n bepaalde stylmiddel in die periode van die Tweede Tempel, en is altyd patrilineêr van aard (vgl. ook Hieke 2010:167).

In die stamboom van die boek Rut is daar net tien mansname (Rut 4:18–22). Maar word vroue dan heeltemal uitgesluit?

Nee. As die genre van die boek in ag geneem word, en die stamboom as deel van die oorspronklike vertelling gelees word, is die teenwoordigheid van die tien mans geen verrassing nie. Die verrassing kom egter in die wyse waarop mans die boek met die oorwegend vroulike perspektief afsluit.

Rut 4:11a – ‘Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel’
Die aanloop kom reeds in Rut 4:11, die scenario in die stadspoort. Die oudstes van die volk wens vir Boas met sy huwelik geluk. Oënskynlik lyk dit na ’n androsentriese toneel. Maar tog is dit nie. Die eerste deel van die seënbede lui: ‘Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel.’ Hier is ’n uiters subtiele sinspeling op die ‘broer’ se weiering om die ‘huis van sy broer op te bou’ (Deut 25:9). Boas word geluk gewens met die vrou wat in sy huis inkom, nie met die uitsluitlike doel om ’n man se huis op te bou nie, maar ’n hele volk, ’n nasie (Braulik 1996:124). Alreeds hier word dit duidelik dat die perspektief van die boek Rut nie op ’n klein, private familiegeskiedenis gerig is nie, maar op volksgeskiedenis (Hieke 2010:177–178).

In die gelukwensinge word die vrou – die vreemde vrou – gelyk gestel aan Ragel6 en Lea. Sy word dus op dieselfde vlak as die voormoeders van Israel gestel, en selfs die oudstes in die stadspoort definieer die genealogie van hul volk nie in terme van Jakob, die aartsvader nie, maar in terme van sy twee vroue (Fischer 2001:246). Nie die aartsvader Jakob nie, maar die twee vroue, Ragel en Lea, en hul slavinne het die huis van Israel opgebou (sien ook Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:83). Ragel en Lea verwys natuurlik direk na Genesis 29:31–30:34 (Hieke 2010:177–178). Net soos in die boek Rut, speel vroue ook in hierdie episode die hoofrol. Dié boek wil egter nie die hartseer wedywering tussen twee susters om die liefde van ’n man herroep nie. Veel eerder is die klem op die positiewe uitkoms (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:84), want uit hierdie kompetisie word die volk Israel gebore. Dit is die twee moeders, Ragel en Lea, wat hul kinders en dié van hul slavinne benoem7 (behalwe miskien Benjamin, Gen 35:18), en wat uiteindelik die twaalf stamme van Israel uitmaak. In die oorsprongsgeskiedenis van die volk Israel, speel vroue ’n beslissende rol (Hieke 2010:179).

Rut 4:11b – ‘Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem’
Nadat die oudstes die hoop teenoor Boas uitgespreek het dat sy vrou ’n volksmoeder sal wees, bid hulle hom persoonlike mag en roem toe. Op die oog af lyk die wens aan Boas om aansien en naam in Efrata en Betlehem te verwerf, na ’n netjiese inclusio. Die verhaal van Rut begin in Efrata – ’n ou naam vir Betlehem (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:84) en dis logies dat dit daar sal eindig. Maar ‘Efrata, dit is Betlehem’ (Gen 35:19) is ook die plek waar Ragel gesterf het en begrawe is. En in Juda se uitgebreide geslagsregister in Kronieke, is Efrata ook die naam van Kalef se vrou, een van die voormoeders (1 Kron 2:19, 50). Die verwysing na Efrata stempel die boek Rut met ’n vroulike teenwoordigheid aan die begin en aan die einde (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:6).

Rut 4:12 – ‘Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is’
Die volgende gelukwensing word in vers 12 uitgespreek: die ‘huis van Israel’ word nou beperk tot die nageslag van Juda: ‘Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.’ Die stamvader Juda word nie in die genealogie (4:18–22) genoem nie,8 maar word hier in 4:12, in die vroulike genealogie van die stam, geïmpliseer (Fischer 2001:258). Die parallelle tussen Tamar en Rut kan nie misgekyk word nie. In die eerste plek is dit opvallend dat albei vroue ‘vreemd’, oftewel nie-Judees, is en ’n mate van verset teen ’n androsentriese samelewing verteenwoordig. Verder word beide vroue se seuns, Peres en Obed, deur die onkonvensionele, selfs waaghalsige optredes van hul moeders in die wêreld gebring (Zenger 1986:102). Die gebeure in Genesis 38 (Tamar) en Rut 3 (Rut) word in hierdie seënwense herroep en op mekaar van toepassing gemaak. Meer as dit, die inisiatief van die twee vroue word by implikasie deur die outeur goedgekeur (Fischer 2001:259; Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:85). Peres se verhaal legitimeer as’t ware die verbintenis tussen Boas en Rut, en van hier af word die geskiedenis van die lyn van Juda via Peres voortgeskryf.

Rut 4:14a – Die vrouens sê toe vir Naomi: ‘Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ’n losser gegee het.’ Vers 17b: ‘’n Seun is vir Naomi gebore’
Rut se rol as volksmoeder, by name ’n volksmoeder in die lyn van Juda, is deur die oudstes van Betlehem bevestig. Nadat die gewenste kindjie in die wêreld gebring is, volg ’n tweede reeks gelukwensinge, hierdie keer deur vroue. Nou is dit egter nie Rut wat die objek van seënbede is nie, maar Naomi. Weer eens is dit die vroue wat vir die kind ’n naam gee (v. 17a). En alhoewel Rut aan die kindjie die lewe geskenk het, is die kind volgens die buurvroue vir Naomi gebore. In hierdie konteks – die eerste stamboom van Dawid (v. 17c) wat deur ’n vroulike genealogie voorafgegaan word – word Naomi as stammoeder voorgestel (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:92). Hiermee bevestig die skrywer van die boek Rut as’t ware weer eens die belangrike rol wat vroue in die geskiedenis van Ou Israel gespeel het.

Rut 4:14b – ‘Jou skoondogter wat jou liefhet en vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring’
In Naomi se lewe ag die vroue haar skoondogter Rut meer werd as sewe seuns. Dit mag bloot ’n geykte spreekwoordelike uitdrukking wees – vergelyk byvoorbeeld 1 Samuel 1:8 waar Elkana die huilende Hanna probeer troos met die woorde: ‘Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?’ (Köhlmoos 2010:82; Zakovitch 1999:168). Terselfdertyd blyk hier ’n radikale afwyking te wees van die tradisionele perspektief dat slegs mans sekuriteit kan bied (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:91). Die feit dat dit ’n Moabitiese vrou is, maak hierdie lofprysing des te meer merkwaardig.

‘Meer werd as sewe seuns’ hou egter ook verband met die genealogieë in die boek Rut: die vroulike lyn wat reeds vanaf Rut 4:11 ’n aanvang geneem het, sowel as die manlike lyn wat vanaf vers 18 die verhaal afrond. Die belangrike posisies in ’n geslagsregister is alreeds hierbo bespreek. In die manlike stamboom in die boek Rut neem Boas ’n betekenisvolle sewende posisie in. Wanneer Rut ‘meer as sewe seuns’ werd is, vervang sy as’t ware sewe manlike lede en word sy implisiet in die sewende posisie van die vroulike genealogie geplaas (Fischer 2001:259). Rut en Boas verkeer op gelyke voet in sewende posisie: sy in die vroulike genealogie, en hy in die manlike stamboom in die boek Rut.

Rut 4:18–22 moet dus nie as ‘aanhegsel’ of ‘afwyking’ beskou word nie. Veel eerder is dit die produk van ’n outeur wat die literêre konvensies van die tyd navolg, maar op ’n uiters kreatiewe wyse ’n vroulike en ’n manlike stamboom paralleliseer: beide genealogieë eindig op dieselfde wyse: Rut en Boas was ouers van Obed; hy was die vader van Isai, en Isai was die vader van Dawid (4:17c; 4:22).

’n Wending in die woestyn

’n Vrou beslis betrekkinge
Die geslagsregister begin met Peres en eindig by Dawid. ’n Onbeduidende tak in die stam van Juda, die huis van Elimeleg, word betrek by die hooflyn waarlangs die beloftes loop wat aan Jakob gemaak is (vgl. Fischer 2001:259; Zakovitch 1999:173–174). Juda se seun Peres, en nie Sela of Serag nie, is die direkte voorsaat van koning Dawid.

Rut 4:18–22 bevat tien mans se name: Peres, Hesron, Ram, Amminadab, Nagson, Salma/Salmon9 Boas, Obed, Isai, Dawid. Behalwe Dawid, speel nie een van die mans ’n besonder beduidende rol in die geskiedenis van die volk nie. Die meeste van hulle – behalwe Nagson – verskyn slegs in die genealogieë van die boeke Rut en 1 Kronieke, en nêrens elders nie. Selfs Boas tree slegs in die boek Rut as ’n handelende karakter op.

Die geslagsregister in dié boek omspan die geskiedenis van Israel se begin tot haar toetrede in die Ou Nabye Oosterse statewêreld onder koning Dawid. Hierdie tydperk kan in twee fases verdeel word by Nagson, die vyfde lid (vgl. Bv. Fischer 2001:259; Frevel 1992:157; Köhlmoos 2010:84; Loader 1994:100; Zakovitch 1999:172; Zenger 1986:101). Nagson is dan ook die enigste man in die betrokke geslagsregister wat buite die boek self ’n rol speel. Hy tree in die woestyntyd op. Hy is Juda se verteenwoordiger ná die vertrek vanaf Sinai en word voorgestel as leier van die stam van Juda in die woestyn (Num 1:7; 2:3; 10:15). En nadat Moses die tabernakel opgerig het, verteenwoordig Nagson weer die stam van Juda deur offers na die nuutgeboude altaar toe te bring (Num 7:12, 17) (vgl. Fischer 2001:260).

Die woestyntyd is egter nie slegs die middelpunt van die boek Rut se genealogie nie, maar ook ’n beslissende punt van betrekkinge tussen die stamme van Juda en Levi. Meer spesifiek: die betrekkinge tussen die stam van Juda en die Aäronitiese priesterskap. Dit begin by Amminadab, die vierde lid in die boek se genealogie. Hy het ’n dogter, Eliseba, dus Nagson se suster, wat met Aäron getroud is (Eks 6:22; vgl. Cohn Eskenazi & Frymer Kensky 2011:94; Fischer 2001:260; Hieke 2010:168; Zenger 1986:101).

Buiten die boek Genesis (wat die Pentateug betref), word die mees betekenisvolle genealogieë in Eksodus 6:14–25 en Numeri 3:1–4 aangetref, en albei het betrekking op die Aäronitiese priesterskap (Hieke 2010:167). Aäron en sy direkte afstammelinge, Eleasar en Itamar, word bo die res van die Levitiese priesters verhef en die Leviete moet voortaan diens aan die Aäronitiese priesters lewer. Nou, wanneer Amminandab se dogter met Aäron getroud is, moet Amminadab as voorsaat van die Aäronitiese priesters, sowel as voorvader van die Dawidiese monargie, gereken word.

Dus, in die woestyn skakel die stamme van Juda en Levi op ’n besondere wyse: Juda is in die algemeen nie aan die stam van Levi verbonde nie, maar spesifiek aan die Aäronitiese priesters, deur die vrou Eliseba.

Vroue versteur verhoudinge
Hierdie verbondenheid tussen Juda en die Aäronitiese priesters sou voortduur tot en met die tyd van die monargie. Sadok die priester, direkte afstammeling van Eleasar, seun van Aäron, is deel van die groep wat hulle by Dawid skaar wanneer hy voor sy eie seun Absolom moet vlug (2 Sam 15:24–29). Sadok is ook die priester wat Salomo tot koning salf wanneer hy die troon bestyg (1 Kon 1:13). En vermoedelik gaan albei stamme – die Judese aristokrasie en die Aäronitiese priesters – in ballingskap. En lede van albei stamme is ook onder die ballinge wat terugkeer met die ideaal om die volk en die godsdiens te herstel.

Onder diegene wat terugkeer, is Esra, priester en skrifgeleerde. Hy het ’n indrukwekkende genealogie wat oor sewentien geslagte heen strek. Dit word patrilineêr as ’n ben-tipe aangegee en herlei Esra se herkoms direk terug na Aäron. Esra het dus genoegsame outoriteit om hom op die Tora te beroep om die identiteit van die volk te herstel en die kultus te reinig (Quesada 2002:34). Hy het volle godsdienstige, spirituele, kulturele en politieke mag.

Saam met sy tydgenoot Nehemia is Esra diep ontsteld oor die gemengde huwelike onder die Judese mense (Esra 10; Neh 13:1–3, 23–29). Teenoor hul landgenote tree hulle besonder hard op: Nehemia raas met hulle, vloek hulle, slaan hulle en trek hul hare uit (Neh 13:25) en Esra gee bevel dat die vreemde vroue en hul kinders weggestuur word (Esra 10).

Hierdie gewelddadige optrede herroep ’n soortgelyke voorval in die woestyn, eeue vantevore. Moabitiese vroue het Israelitiese mans tot afgodediens verlei, en om met hul gemeenskap te hê (Num 25:1–2). Dit maak die Here kwaad en hy tref die kamp met die een of ander plaag. Hy beveel Moses om die oortreders in die volle gloed van sy son op te hang, maar die ergste gaan nog gebeur. ’n Man bring ’n Midianitiese vrou in die kamp, voor die oë van Moses en die hele gemeente. Pineas, seun van Eleasar, seun van Aäron en ’n direkte voorsaat van Esra sien dit. Hy staan uit die gemeente op, neem sy spies, volg die man na die vrouetent en deurboor albei deur die onderlyf.10

Wie het die boek Rut geskryf?

Die boek Rut vertel ’n verhaal van eenvoudige mense, twee weduwees, die hulpeloosstes onder die hulpeloses. Die kern van die verhaal is die opname van Rut, die Moabiet, in die Judese gemeenskap van Betlehem. Hierdie tema is ’n direkte weerspreking van Esra en Nehemia se onverdraagsaamheid teenoor vreemde vroue. Oënskynlik onpolemies in inhoud, vertel die verhaal van Rut in werklikheid ’n ‘teenstorie’ om Esra en Nehemia te weerspreek, ’n storie wat simpatie en selfs bewondering vir die vreemde Moabitiese vrou wek (Braulik 1999:18).

Die trant van die boek is glad nie polemies van aard nie, maar tog kan die aktiewe propaganda ten gunste van die opname van vreemde vroue – ’n Moabiet – in die gemeenskap van die Here, nie misgekyk word nie. Dit verklap iets van die Sitz-im-Leben van die outeur. Hy – of dalk sy – was beslis deel van die intellektuele en kulturele kringe in die tydperk van die Tweede Tempel (Fischer 2001:89–91, 2006:5). Gedurende hierdie tydperk was gemengde huwelike maar ’n simptoom van ’n veel groter en dieper probleem, naamlik die aard van die identiteit van die volk (vgl. Albertz 1994:470–471; Knoppers 2011:172). Boeke soos Esra en Nehemia dui aan dat daar aan die een kant streng ekskluwistiese groepe was wat etniese suiwerheid en endogame huwelike teen elke prys wou handhaaf. Aan die ander kant dui die latere tekste van Jesaja en ook die boek Rut aan dat daar ander kringe was wat ’n inklusiewe benadering voorgestaan het dat ook ander nasies in die gemeente van die Here welkom sou wees. Sentrale temas in Esra en Nehemia is die herstel van die kultus (Esra 7–10), en die herbou van Jerusalem (Neh 2–8). Nóg tempel nóg stad speel enige rol in die landelike milieu van die boek Rut (Fischer 2001:92).

Die skrywer van dié boek skryf ’n verhaal in die trant van die voorouerverhale van Genesis en neem die geskiedenis van die nasie op waar Genesis opgehou het: in Egipte, voor die uittog. Die geslagsregister begin by Peres, Juda se seun, wat gebore is terwyl die aartsvader Jakob nog gelewe het (Fischer 2001:92). Esra daarenteen herlei sy suiwer priesterlike herkoms na Aäron, ’n geslag of twee ná die dood van die stamvader Levi. By implikasie is die lyn van Peres meer oorspronklik en skakel dit direk met die beloftes wat aan Israel se voorouers gemaak is. Die beloftes van die Here en die identiteit van die nasie sluit egter nie vreemde vroue uit nie. Inteendeel, die geslagsregister van die boek Rut herlei die oorsprong en identiteit van die volk terug na die inisiatief – selfs ‘hutzpah’ (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:96) van vroue, insluitende vreemde vroue.11

Slotsom

Die verlede is ’n ander land – kan ’n stamboom die pad daarheen beduie? Nee, want die historiese pad is met lae en lae stof bedek. In die antieke tyd was genealogieë ook nie bedoel om ’n betroubare verslag van die geskiedenis te weerspieël nie, veel eerder was ’n genealogie ’n literêre konstruk om iets van ’n gemeenskap se identiteit te sê (vgl. Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:93). ’n Genealogie maak bloot ’n venster na die verlede oop, maar tog ’n venster wat ’n blik op die geskiedenis vanuit ’n bepaalde kamer bied.

Die geslagsregister in Rut 4:18–22 is geen uitsondering nie. Die venster na die verlede is ’n venster in ’n vrou se kamer. Die boek vertel ’n storie, ’n storie van twee hawelose vroue, maar eindig op ’n gelukkige noot, met die geboorte van ’n kind. Hierdie kind blyk bestem te wees om die oupa van die groot koning Dawid te word. Die narratief-cum-genealogie dui egter aan dat die boek Rut in dieselfde genre as Genesis val: dit wil sê, ’n familieverhaal wat nasionale geskiedenis vertel (Fischer 2001:74). Naomi se storie word die storie van Israel: ’n volk wat in ’n vreemde land ly – Egipte, maar ook die ballingskap later. Wanneer sy terugkeer, word ’n vol, ryk en geseënde lewe slegs moontlik deur die toedoen van haar Moabitiese skoondogter, die vreemde vrou. Rut se optrede word ’n direkte polemiek teen Esra en Nehemia se onverdraagsaamheid teenoor vreemde vroue. Was dit nie vir vroue nie – ook vreemde vroue – was daar geen volk nie.

Die kunstige parallelisering tussen die vroulike (4:11–17) en manlike (4:18–22) genealogieë transformeer die patriargale fokus van die meeste genealogieë in die Hebreeuse Bybel (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:93). Die outeur het die vernuftige ingrype van vroue in Israel se geskiedenis noukeurig nagespeur, en hul stories subtiel – of dalk onbeskaamd? – in die groter geheel van Israel se geskiedenis verweef.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Albertz, R., 1994, ‘A History of Israelite Religion in the Old Testament Period’, From the Exile to the Maccabees, vol. II, Westminster John Knox Press, Louisville.

Braulik, G., 1996, ‘Das Deuteronomium und die Bücher Job, Sprichwörter, Rut’, in E. Zenger (Hg.), Die Tora als Kanon für Jüden und Christen, pp. 61–138, Herder, Freiburg.

Braulik, G., 1999, ‘The Book of Ruth as Intra-Biblical Critique on the Deuteronomistic Law’, Acta Theologica (1), 1–20.

Cohn Eskenazi, T. & Frymer-Kensky, T., 2011, Ruth, The Jewish Publication Society, Philadelphia.

Fischer, I., 1999, ‘The Book of Ruth: A “Feminist” Commentary to the Torah?’, in A. Brenner (ed.), Ruth and Esther. A Feminist Companion to the Bible, pp. 24–49, Sheffield Academic Press, Sheffield.

Fischer, I., 2001, ‘Rut. Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament’, Herder, Freiburg im Bresgau.

Fischer, I., 2006, ‘The Book of Ruth as Exegetical Literature’, Bible Forum, 1–7.

Fitzenreiter, M., 2005, ‘Einleitung. Genealogie – Realität und Fiktion sozialer und kultureller Identität’, Realität und Fiktion von Identiät, 1–10, viewed 28 July 2012 from http://www2.rz.hu-berlin.de/nilus/net-publications/ibaes5/

Frevel, C., 1992, Das Buch Rut. Stuttgart: Verlag Katholisches Bibelwerk GmbH, Neuer Stuttgarter Kommentar – Altes Testament 6.

Gow, M.D., 1992, The Book of Ruth. Its structure, theme and purpose, APOLLOS, Leicester.

Hamlin, J., 1996, Ruth. Surely There is a Future, Wm. B. Eerdmans Publishing Company, Michigan.

Knoppers, G.N., 2011, ‘“Married into Moab”: The Exogamy Practiced by Judah and his Descendants in the Judahite Lineages’, in C. Frevel (ed.), Mixed Marriages. Intermarriage and Group Identity in the Second Temple Period, pp. 170–191, T&T Clark, London.

Hieke, T., 2010, ‘Genalogie als Mittel der Geschichtdarstellung in der Tora und die Rolle der Frauen im Genealogischen System’, in I. Fischer, M.N. Puerto & A. Taschl-Erber (Hrsg.), Tora, die Bibel und die Frauen. Eine exegetisch-kulturgeschichtliche Enzyklopädie, pp. 149–185, W. Kohlhammer, Stuttgart.

Köhlmoos, M., 2010, Ruth, Vandenhoeck & Ruprecht GmbH & Co, Göttingen.

LaCoque, A., 1990, The Feminine Unconventional, Fortress Press, Minneapolis.

Larkin, K.J.A., 1996, Ruth and Esther, Sheffield Academic Press, Sheffield.

Loader, J.A., 1994, Ruth. Een praktische bijbelverklaring, Kok, Kampen.

Nielsen, K., 1997, Ruth. A Commentary, Westminster John Knox Press, Louisville.

Prinsloo, W.S., 1982, Die Boek Rut, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Quesada, J.J., 2002, ‘Body Piercing: The Issue of Priestly Control over Acceptable Family Structure in the Book of Numbers’, Biblical Interpretation 10, 24–35, viewed 28 July 2012 from http://dx.doi.org/10.1163/156851502753443272

Sakenfeld, K.D., 1999, Ruth. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching, John Knox Press, Louisville.

Sasson, J.M., 1989, Ruth. A New Translation with a Philological Commentary and a Formalist-Folklorist Interpretation, JSOT Press, Sheffield.

Schoeman, K., 1972, Na die Geliefde Land, Human & Rousseau, Kaapstad.

Steinberg, N., 1989, ‘The Genealogical Framework of the Family Stories in Genesis’, Semeia 46, 41–50.

Zakovitch, Y., 1999, Das Buch Rut. Ein jüdischer Kommentar, Verlag Katholisches Bibelwerk GmbH, Stuttgart.

Zenger, E., 1986, Das Buch Ruth. Theologischer Verlag, Zürcher Bibelkommentare, Zürich.

Voetnotas

1. ’n Teenoorgestelde siening word later in die artikel bespreek.

2. Zenger wys daarop dat Henog in die geslagsregister van Genesis 5 ook die sewende posisie beklee.

3. Kontra hierdie argument: watter skade kan −’n Moabitiese ooroumagrootjie nou aanrig as die erfenislyn hoofsaaklik deur vader na seun geloop het (Frevel 1992:30)? Boonop was daar heelwat ‘vreemde’ vroue in Israel se geskiedenis: Tamar was Kanaänities, Josef se vrou Asenat was Egipties (Frevel 1992:30; Zenger 1986:101) en Moses se eerste vrou, Sippora was die dogter van ‘n Midianitiese priester (Quesada 2002:25).

4. Kontra Fischer (2001:70) en Hieke (2010:165) wat die slotposisie van ’n genealogie juis as tipies beskou.

5. Braulik (1999:1–20) het reeds aangetoon hoedat die verhaal van Rut sekere wette in die boek Deuteronomium uitlê en herinterpreteer.

6. Ragel word waarskynlik eerste genoem omdat die gebeure in Betlehem afspeel waar Ragel ook gesterf het (Gen 35:19, sien Fischer 2001:248), of omdat sy Jakob se eerste keuse en sy lieflingsvrou was (Cohn Eskenazi & Frymer-Kensky 2011:84).

7. Dit was gebruiklik dat moeders aan kinders name gee.

8. Net soos die stamboom van Sem – Genesis 11:10–26.

9. Verse 20 en 21 twee verskillende spellinge in Hebreeus.

10. Waarskynlik die geslagsorgane. Hierdie insident laat ’n ernstige vraag ontstaan: was Moses nie self met ’n Midianitiese vrou getroud nie (Quesada 2002:25)? Kan hy werklik goedkeur dat mans wat met vreemde vroue getroud is, gehang word terwyl hy aan dieselfde oortreding skuldig is? Quesada (2002:34) stel voor dat Moses in sekere kringe minder gewild geraak het, en daarom bloot ’n ‘profeet’ genoem word (Deut 34:10), terwyl die status van Aäronitiese priesters verhef word.

11. In die Nuwe Testament (Matt 1:5) word gesê dat Boas uit Salmon se verbintenis met Ragab (Jos 2:1–3) gebore is. Ek weet nie of hierdie tradisie aan die skrywer van die boek Rut bekend was nie. Dit sou egter die skrywer se voorkeur vir vreemde vroue beklemtoon.

Cited-By

No related citations found

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 1609-9982 (print) | ISSN: 2074-7705 (online)

Connect on: Facebook, Twitter, Google+, LinkedIn and YouTube

Subscribe to our newsletter

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license, unless otherwise stated.

Website design & content: ©2016 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS Publishing | Empowering Africa through access to knowledge
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

publishing(AT)aosis.co.za replace (AT) with @

Please read the privacy statement.