Search this journal:     Advanced search
Article Information

Author:
Dirkie Smit1

Affiliation:
1Department of Systematic Theology, University of Stellenbosch, South Africa

Correspondence to:
Dirkie Smit

Postal address:
Private Bag X17, Matieland 7602, South Africa

Dates:
Received: 23 Apr. 2012
Accepted: 18 July 2012
Published: 06 Dec. 2012

How to cite this article:
Smit, D., 2012, ‘Etienne de Villiers as etikus van verantwoordelikheid’, Verbum et Ecclesia 33(2), Art. #735, 6 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ve.v33i2.735

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Etienne de Villiers as etikus van verantwoordelikheid
In This Original Research...
Open Access
Abstract
Inleiding
’n Etikus verantwoordelik vir etiek
Op soek na verantwoordelike etiek vandag
In geselskap van etici van verantwoordelikheid
’n Etiek van verantwoordelikheid aan die formuleer
’n Etikus met ’n gevoel van verantwoordelikheid
’n Etikus van beroep
Slotsom
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
AANHANGSEL 1
   • Werke deur Dawid Etienne de Villiers
Abstract

Etienne de Villiers as ethicist of responsibility. The paper considered six ways to describe Etienne de Villiers as ethicist of responsibility. They broadly corresponded with chronological phases in his academic career. The first was the way in which he initially took responsibility to teach theological ethics in a methodologically reflective way. The second was the way in which he increasingly found answers to these methodological concerns in responsibility ethics as an approach. The third was the way in which he spent much time analysing the work of responsibility ethicists. This critical engagement led to a fourth phase, still ongoing, developing his own approach. Against this background, the paper argued that he had always been an ethicist of responsibility in the fifth sense that he addressed urgent moral challenges. Developing this, a final section claims that he was an ethicist of responsibility according to Weber’s description of science as vocation. The paper was read as key note presentation at the University of Pretoria on 09 November 2011, when D.E. (Etienne) de Villiers was honoured on the occasion of his retirement. On the specific request of the organisers, the speech was held in Afrikaans and the original oral form was retained here, including the personal rethorical style of the introduction and conclusion.

Inleiding

Hartlike dank vir die uitnodiging om aan die huldiging van die persoon en werk van Etienne de Villiers te mag deelneem. Dit was een van die voorregte en vreugdes van my eie lewe dat ons paaie dikwels gekruis en selfs by tye sáám geloop het, oor baie jare van vriendskap. Dit is vir my daarom ’n hoogtepunt om hier saam te mag herdenk en vier.

Dit is ’n fassinerende tema wat aan my gegee is. Die meeste van ons wat bevoorreg was om hom as akademikus en etikus te ken sal oombliklik saamstem dat hy ’n etikus van verantwoordelikheid was en bly – maar wát elkeen daaronder verstaan en waaróm almal spontaan so sou dink, mag dalk heel uiteenlopend wees. Dit is nie so duidelik wat ons bedoel met etikus van verantwoordelikheid en ook nie in welke betekenis van die woord dié beskrywing op die jubilaris van toepassing is nie. Dáárom is dit so ’n fassinerende tema. In welke sin is hy ’n etikus van verantwoordelikheid?

Die vraag is egter nie net fassinerend nie, maar ook moeilik en ingewikkeld om te beantwoord. Self wil ek daarop reageer deur te probeer aantoon dat hy ’n etikus van verantwoordelikheid is in ses verskillende betekenisse van die woord, nou verwant dog tog onderskeibaar. Die eerste vier vind ’n mens in sy eie werk, byna in narratiewe orde, deur opeenvolgende stadia. Die laaste twee wil ek graag as’t ware van buite op hom toepas, hoewel hy die term self nie in dié sin gebruik nie.

’n Etikus verantwoordelik vir etiek

Etienne de Villiers is eerstens ’n etikus van verantwoordelikheid in dié sin dat hy hom van die begin af besig hou met vrae na die grondslae van etiek. Wat is etiek en hoe behoort dit beoefen te word, wou hy van meet af weet, ‘n mens sou kon sê, hoe behoort dit op verantwoorde wyse beoefen te word? Hoe doen ’n mens verantwoording van etiek as dissipline?

Vanaf sy doktorale proefskrif in Nederland oor die vraag waarin die eiesoortigheid van die Christelike moraal sou kon bestaan, indien daar hoegenaamd so iets is, want dis nie so voor die hand liggend as wat mense dalk sou aanneem nie, en dwarsdeur sy eerste toesprake na hulle terugkeer na Suid-Afrika boei hierdie vrae hom.

Ek onthou met vreugde talle gesprekke uit dié tyd, hulle vroeë Wellingtonse jare, oor normatiwiteit in die etiek, oor wat gelowiges bedoel met die wil van God, oor hoe die Skrif eties funksioneer – tot by die vraag na handboeke vir sy eerste kursusse in etiek.

In dié vroeë jare publiseer hy verskeie artikels oor sulke meta-etiese vrae, oor inleidende vrae in die etiek, fundamentele vrae – die vraag waarom gelowiges so verskil in hul etiese oordele, die vraag hoe morele taal en diskoerse eintlik argumenteer, en die vraag met welke reg en op welke wyses die kerk in die openbaar behoort te praat oor morele vraagstukke.

Sedert dié vroeë jare, regdeur tot vandag, bly hy intens geïnteresseerd in filosofie. Ek onthou vele besoeke saam aan wonderlike boekwinkels, waar hy uiteindelik huis toe stap met stapels vol boeke, maar meestal filosofie en later sosiale teorie en politieke wetenskap – alles deel van sy begeerte om openbare verantwoording te doen van waarmee hy besig was as etikus in die Christelike tradisie.

Op soek na verantwoordelike etiek vandag

Juis om dié rede is hy tweedens ’n etikus van verantwoordelikheid in dié sin dat hy oortuigende antwoorde op sy meta-etiese vrae al meer in die sogenaamde etiek van verantwoordelikheid kry.

Breë etiese benaderings, selfs teorieë, ondergaan sélf historiese ontwikkelinge. Mense het nie altyd oor moraliteit gedink soos vandag nie en dink vandág ook nie oral eenders nie. Dit is moontlik om – byvoorbeeld binne Westerse ontwikkelinge – fases te onderskei, tydvakke, waarin etiese benaderings asof vanselfsprekend domineer, om dan grootliks verdring te word deur ’n nuwe tydsgees met ’n nuwe morele gevoel en etiese benadering. Dis dus moontlik om die ontwikkeling van etiek te konstrueer as ’n geskiedenis, te vertel as ’n verhaal. Deesdae praat mense van etiese paradigmas wat mekaar deur die eeue as’t ware opvolg, soms vervang, en soms as mededingers naas mekaar bly bestaan.

Die punt is nou dat indien die ontwikkeling van etiek as ’n historiese verhaal vertel word, die etiek van verantwoordelikheid eers baie laat op die toneel verskyn. Die term word eers aan die begin van die 20ste eeu gemunt, minder as ’n eeu gelede. Dit word gemunt as reaksie op uitdagings wat voorheen nie só bestaan het nie. Dit word gevolglik aangebied en beleef as ’n nuwe fase, as ’n alternatiewe manier van dink oor moraliteit, wat vroeëre fases verouderd maak.

Daar is baie maniere om dié verhaal te vertel, maar breedweg kan drie fases onderskei word. Daar was dan ’n fase waarin etiek as’t ware van buite kom, by wyse van deugde wat in gemeenskappe aangeleer word, of norme, pligte, wette, voorskrifte of reëls wat van buite met gesag opgelê word. Dit word dan verdring deur ’n fase waarin etiek as’t ware van binne kom, outonoom, as die stem van ons gewete, ons innerlike oortuiging, ons rasionele insig, ons eie opvattinge, beskouinge, soms ons waardes genoem, hetsy persoonlik of gemeenskaplik. In ons tyd – so lui die argument nou – blyk dat ook dié tweede fase nie genoegsame antwoorde bied op die ingewikkelde uitdagings van die moderne lewe nie. Die probleme word te groot. Ons benodig gemeenskaplike optrede, maar hoe is dit moontlik, aangesien ons nie kan terugkeer tot die eerste fase waarin ander van buite vir ons voorskryf wat om te doen nie? Op dié soort ervaringe word die etiek van verantwoordelikheid dan soms as ’n nuwe antwoord gesien.

Van Etienne de Villiers sou ’n mens kon sê dat dié breë verhaal hom ook in sy eie biografie afgespeel het. Hy het vroeër anders gedink, mettertyd tot nuwe oortuigings gekom, en algaande begin saamstem dat ’n etiek van verantwoordelikheid vir vandag die mees sinvolle benadering bied.

In geselskap van etici van verantwoordelikheid

Daarmee is die derde betekenis reeds voorberei. Hy is ook ’n etikus van verantwoordelikheid omdat hy homself – presies om dié rede – toenemend in die geselskap van etici van verantwoordelikheid bevind. Dit is hulle wat hy al hoe meer bestudeer, met wie hy in gesprek tree, oor wie hy skryf. Hy is – sou ’n mens kon sê – ook een van hulle.

Dit is letterlik die geval omdat hy as Humboldt-Navorsingsgenoot eers in Heidelberg en daarna in Berlyn met Wolfgang Huber saamwerk, wie se intreerede in Marburg (oor sosiale etiek as verantwoordelikheidsetiek) en ook latere werk grondliggende bydraes lewer tot die ontwikkeling van verantwoordelikheidsetiek in Duitse kringe, in die tradisie van sosiale denkers soos Max Weber en Hannah Arendt, teologiese figure soos Dietrich Bonhoeffer en Hans-Eduard Tödt en filosowe soos Georg Picht en Hans Jonas.

Via sy betrokkenheid as Navorsingsgenoot by die Center of Theological Inquiry in Princeton leer hy ook vir William Schweiker van Chicago ken, wat in Noord-Amerikaanse kringe leidinggewende bydraes tot ’n teologiese etiek van verantwoordelikheid lewer.

Self publiseer hy toenemend oor belangrike werk vanuit dié geledere. Dit word ’n nuwe fase in sy akademiese ontwikkeling. Hy wy navorsingsprojekte en studieverlof aan dié tema. Keer op keer analiseer hy byvoorbeeld die werk van veral Weber en Jonas, asook Huber uit Duitsland, Schweiker uit die VSA, Johannes Fischer uit Switserland en Ulrich Körtner uit Oostenryk. Hy publiseer onder meer so ’n samevattende oorsig in die gerespekteerde Zeitschrift für evangelische Ethik.

Hy is – in sy eie woorde – nou geïnteresseerd in die vraag ‘Does a Christian ethics of responsibility provide an adequate theoretical framework for dealing with issues of public morality?’ Ten einde dié vraag te beantwoord vergelyk hy telkens hul bydraes met mekaar – en op grond van die feit dat hulle sulke uiteenlopende standpunte inneem en na sy oordeel so ’n verwarrende veelvoud van opvattinge huldig, word hy toenemend oortuig dat hul geselskap hom nie genoegsaam gaan help nie en dat hy eerder sy eie siening moet ontwikkel.

’n Etiek van verantwoordelikheid aan die formuleer

Daarmee word hy in onlangse jare ’n etikus van verantwoordelikheid in ’n verdere, vierde sin. Hy wil naamlik self – hoewel in gesprek met dié denkers – sy eie verstaan ontwikkel en beoefen. Oor die afgelope dekade word dit dan sy eintlike bydrae.

Dit is nie hier die aangewese tyd en plek om in detail in te gaan op sy eie tegniese antwoord op die vraag nie. Samevattend en bloot by wyse van illustrasie kan dalk onder meer gesê word dat hy van mening is dat ’n Christelike etiek van verantwoordelikheid die enigste aangewese etiese benadering vandag is, gegee die ontwikkelinge van die moderne lewe; dat dit sou inhou dat Christene moet kan aantoon dat só ’n benadering nie in konflik is met die Christelike etiek nie (soos wat baie mense inderdaad mag dink, indien die Christelike etiek op problematiese en agterhaalde wyses opgevat sou word); dat dit sou vra dat Christene moet weg beweeg van ’n etiek wat eng gebaseer word op die blote toepassing van norme en pligte; dat dit impliseer dat Christene ook waar nodig mede-verantwoordelikheid moet aanvaar vir die ontwikkeling van nuwe morele riglyne, soos wat die veranderende wêreld dit mag vereis; dat dit verg dat morele waardes, insluitende fundamentele Christelike morele oortuigings, nie alleen nagevolg kan word nie, maar dat sogenaamde funksionele waardes (waaronder die eie-wetlikheid van strukture van die samelewing soos byvoorbeeld ekonomie en politiek) asook sogenaamde kulturele waardes (waaronder die wisselende opvattinge oor die goeie lewe en die praktyke en dissiplines waarin dit partikuliere neerslag mag vind) ook gerespekteer en in ag geneem behoort te word; dat dit ’n grondige kennis van die werklikheid, van die feite en die situasie noodsaaklik maak; dat dit in ’n pluralistiese samelewing beteken dat gesoek word na vertaling van eie oortuigings in taal wat ook vir ander mense toeganklik is, asook na konsensus en samewerking, waar moontlik; dat aanvaar sal word dat praktiese beleidsbesluite nie bloot op grond van idealistiese oortuigings geneem mag word nie, maar werkbare kompromieë sal insluit, asook moeilike keuses tussen mededingende aansprake; dat ’n besef van morele verantwoordelikheid nie net uitstrek terug na die verlede nie, maar juis ook na die toekoms, en dus die moontlike toekomstige gevolge van handelinge in die hede in ag sal neem, ook met die oog op die omgewing en die toekomstige geslagte.

Hierdie soort kenmerke van ’n etiek van verantwoordelikheid – na sy oordeel – word hier slegs by wyse van illustrasie genoem, ten einde ’n indruk te probeer gee van die komplekse benadering wat hy ontwikkel as die soort etiese teorie wat vandag van ons gevra word. Dit gaan vir hom nie soseer om ’n etiek wat oor verantwoordelikheid nadink nie, maar ’n etiek wat met verantwoordelikheid beoefen word. Verantwoordelikheid is nie vir hom inhoudelik die hoogste morele waarde nie, maar eerder ’n komplekse beskrywing van die sóórt etiek wat vandag nodig is.

Die interessante is dat hy oor die afgelope jare toenemend die term etiek van verantwoordelikheid as ’n self-beskrywing gebruik. Dis nie bloot meer iets waarna hy op soek is nie, maar iets wat hy dóén, wat hy beóéfen – en dan in hierdie komplekse sin van die woord. Keer op keer kom ’n mens dit deesdae teë in die titels van sy geskrifte. Ongeag welke tema hy behandel, word dit bewustelik gedoen vanuit ’n verantwoordingsetiese perspektief – die morele verantwoordelikheid van internetdiensverskaffers en van inligtingstegnologie; die kerklike bestryding van armoede; die omgaan met menseregte; die kritiese vergelyking van profetiese en reformistiese benaderings van die samelewing; die bevordering van menswaardigheid in Afrika; die vorming van morele oordele. Elke keer doen hy dit doelbewus as ‘a responsibility ethics attempt’.

Hy ontwikkel sy eie siening veral in gesprek met Max Weber self. Hy keer as’t ware terug ágter die geselskap waarin hy hom bevind en vra terug na waar alles begin het. Hy is besig met ’n boekprojek oor Weber, waarin hy onder meer wil argumenteer dat die term selfs belangriker is as wat Weber dit self bedoel en baie van sy uitleggers dit verstaan het en dat ’n etiek van verantwoordelikheid die enigste toereikende etiese benadering vandag is, gegee die ontwikkelinge in die wêreld waarin ons lewe.

’n Etikus met ’n gevoel van verantwoordelikheid

Daarmee word dit egter implisiet duidelik hoe Etienne de Villiers ’n etikus van verantwoordelikheid is in nóg ’n verdere betekenis van die woord, een waaroor hy nie self veel geskryf het nie, maar een wat by uitstek op hom van toepassing is, na my oordeel. Hy was naamlik ’n etikus van verantwoordelikheid lank vóór hy self die term verantwoordelikheid begin gebruik het en wel in dié sin dat hy hom moreel mede-verantwoordelik gevoel het om die vraagstukke en die uitdagings, by tye die krisisse, van die kerk en van ons samelewing aan te spreek.

’n Mens sou dalk kon sê dis min of meer die siening van verantwoordelikheid van Richard Niebuhr. Hoewel Etienne de Villiers soms in die verbygaan na Richard Niebuhr verwys geskied dit meesal in voetnote of via sy gesprek met William Schweiker, wat Richard Niebuhr behandel as iemand met ’n sogenaamde dialogiese verstaan van verantwoordelikheid. Kortweg saamgevat kan ’n mens sê dat Richard Niebuhr mense sien as geroepe om verantwoordelik te wees in dié sin dat hulle respondeer op wat rondom hulle gebeur, die aansprake van andere en die tyd en omstandighede hoor en aanvaar en daarop probeer reageer. Sy siening sou uiteindelik nadoods in Responsible Self gepubliseer word, maar lank voor dié werk het hy reeds sulke beskouinge ontwikkel (Niebuhr 1963). Mense is geroepe om die volle storie te probeer begryp, die konteks so goed moontlik te probeer peil – en om dan daarop te reageer as selfstandige, kreatiewe, verantwoordelike agente.

Dit beskryf presies wat Etienne de Villiers oor jare heen onvermoeid gedoen het – ook sonder om die term verantwoordelikheid ooit te gebruik. Dit is waarom baie van ons hom so gerespekteer het – en ander hom soms so skerp teengestaan het. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid – in hierdie sin – toe hy in die vroeë tagtigerjare oor gewetensbesware teen diensplig sou skryf. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid toe hy tydens die dieptepunt van die stryd in ons land baanbrekende werk sou doen oor vrede en die kerk se rol as vredemaker te midde van ’n spiraal van geweld – onder meer in kerkverslae wat nie oral met dank ontvang sou word nie. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid toe hy met groot moeite en sorg probeer het om te verstaan en in eie kerklike geledere te verduidelik welke oortuigings en argumente agter die groeiende ekumeniese kritiek op apartheid en die Bybelse regverdiging daarvan gesit het. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid toe hy – lank voor vele ander – oor menseregte en daarna ook oor ekonomiese geregtigheid sou nadink en skryf. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid toe hy saam met enkele ander ’n destyds opspraakwekkende openbare pleidooi vir ’n inklusiewe demokrasie gelewer het in ’n tyd toe sulke taal in hulle kringe taboe was. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid toe hy oor temas soos skuld, heling en genesing gepraat het – toe vele nie daarvan wou hoor nie. Hy was ’n etikus van verantwoordelikheid toe hy talle male tydens die oorgang na ’n demokratiese samelewing en in die jare daarna en sedertdien sou vra na die rol, die taak, die roeping van die kerk, na nuwe morele uitdagings onder nuwe omstandighede – temas soos refreine deur sy werk te hoor.

Kortom, hy was ’n etikus van verantwoordelikheid in dié sin van die woord dat hy self die verantwoordelikheid gevoel en gevolg het om daadwerklik te probeer reageer op die uitdagings van die dag, sonder om ooit in dié geskrifte die term verantwoordelikheid te gebruik. Ander sprekers het tydens hierdie huldiging dieper op van hierdie bydraes ingaan en hopelik sal dit dan ook duideliker word waaróm hy dit gedoen het, waarin hierdie soort etiek van verantwoordelikheid gewortel het, maar dát hy hiermee ’n merkwaardige en rigtinggewende rol gespeel het, is vir almal duidelik.

’n Etikus van beroep

Ek sluit graag deur te sê dat hy – na my oordeel – ook in ’n sesde betekenis van die term ’n etikus van verantwoordelikheid is, weer eens een wat hy self nooit gebruik of op sy eie werk sou toepas nie, maar wat vir ons wat hom en sy werk ken altyd kenmerkend was. Hy het naamlik van meet af en volhardend sy werk as etikus opgeneem in die gees wat Max Weber beskryf het in sy ánder opspraakwekkende studie, te wete Wissenschaft als Beruf (Science as a Vocation 1917).

Etienne de Villiers sluit self aan by Weber se latere geskrif, Politik als Beruf (Politics as a Vocation 1919). Dit is waar Weber die term etiek van verantwoordelikheid ontwikkel. As Etienne de Villiers dan ook in onlangse werk begin sê dat etici hul taak as roeping behoort te ervaar, as ‘calling’, as ‘vocation’, dan werk hy met hierdie argument van Weber, oor politiek as roeping. Weber maak byvoorbeeld hierin die onderskeid tussen politici wat leef vir die politiek en politici wat leef van die politiek. Eersgenoemde is dié wat hulle aan die politieke sfeer toewy omdat hulle in iets glo, ’n verskil wil maak, ’n bydrae wil lewer. Laasgenoemde is dié wat die politieke sfeer bloot sien as geleentheid om ’n goeie lewe te maak, ’n suksesvolle loopbaan te bou, persoonlike voordeel te trek. Eersgenoemde wil bydra tot die politiek omdat hulle nie anders kan nie. Laasgenoemde sou ook op enige ander plek hul eie belang kon nastreef, dis bloot toevallig dat die politiek vir hulle die kans bied. Dit is duidelik dat in terme van dié onderskeiding Etienne de Villiers die verantwoordelikheid van ’n etikus sien as die roeping om vir die etiek te lewe – soos wat hyself altyd gedoen het, en nie van die etiek nie. Hy was nie toevallig ’n etikus nie, hy kon waarskynlik nie anders nie. Hy is passievol geïnteresseerd in die sáák self, in die roeping, in die morele uitdagings wat roep.

Daarmee beoefen hy eintlik eerder wat Weber twee jaar vantevore in die ánder lesing beskryf het, te wete die roeping van ’n ware wetenskaplike. Daar gebruik Weber nie die term etiek van verantwoordelikheid nie. Daar argumenteer hy egter – téén die verwagtinge van die tydsgees en van ’n groot deel van sy gehoor, veterane uit die Wêreldoorlog wat steeds aan die gang is – dat ware wetenskap nié dienstig mag wees aan nasionalistiese of enige ander ideologiese behoeftes nie. Vry van alle beïnvloeding, bruikbaarheid en ideologiese nuttigheid moet die wetenskaplike objektief en waardevry slegs strewe na die waarheid – en bereid wees om dit te verkondig. Hy waarsku teen enige persoonlikheidskultus, waarin die wetenskaplike sou strewe na gewildheid, sukses, roem en eer. Hy waarsku teen enige uitverkoop aan die heersende tydsgees en ideologie, waarin die wetenskaplike sou strewe na politieke korrektheid, na die goedkeuring en aanvaarding van diégene in magsposisies wat wil bepaal wat mense dink, doen en sê. Hy argumenteer vir ’n ‘single-minded search for the truth’ – as enigste ware wetenskaplike roeping.

Sonder dat hy ooit self hierna verwys, is dit eintlik die lewenshouding – die roeping – wat almal wat vir Etienne de Villiers van nader ken oor jare heen by hom bespeur het, ’n soort ‘single-mindedness’, ’n soort belangstelling in en fokus op morele uitdagings en vrae, eenvoudig omdat hulle dáár is en roep om antwoorde, nié ter wille van ’n loopbaan en persoonlike sukses nie, nié ter wille van napraat en gedienstigheid nie. Hy is ’n etikus met ’n roeping, ’n etikus van beróép – ook in híérdie sin van die woord, en dáárom ’n etikus van verantwoordelikheid.

Dit herinner aan ’n verhaal wat die historikus Heiko Oberman vertel in sy klein monografie Contra Vanam Curiositatem (1974), teen ydele nuuskierigheid. Die boek handel oor die geskiedenis van die verhouding tussen Christelike geloof en wetenskap, en spesifiek die houding van die Christelike tradisie teenoor nuuskierigheid. Aan die een kant leef die wetenskap natuurlik van nuuskierigheid, van die wil tot kennis, die begeerte om te ontdek en te weet, antwoorde te vind op steeds nuwe vrae. Aan die ander kant het die Christelike geloof ook dikwels gewaarsku teen blote nuuskierigheid, teen onnodige, ydele, vergeefse nuuskierigheid, wat eerder die aandag aflei van wat waarlik saak maak en só onderskeidingsvermoë bemoeilik. Om dié spanning te handhaaf het die tradisie dikwels onderskei tussen studiositas en curiositas. Ook Thomas Aquinas, oor wie se waarheidsbegrip Etienne de Villiers se magisterverhandeling in die filosofie onder meer juis gehandel het, het só onderskei. Terwyl studiositas, leergierigheid en leerbaarheid, aangeprys is as Christelike deug, is curiositas, dikwels gekwalifiseer as ydele nuuskierigheid, vain curiosity, afgewys. Só vertel Oberman dan van Isidor, die Ab van Sevilla, wat van Spanje na Aleksandrië reis om vir Aartsbiskop Teofilus te gaan besoek. Met sy terugkeer vra die broeders nuuskierig uit na sy indrukke tydens dié lang en wonderbare reis, maar kry ’n verrassende antwoord. Ek het nie enigeen se gesig gesien behalwe die aartsbiskop s’n nie, sê Isidor – en vir eeue word dié episode steeds op Latyn oorvertel en onthou – ego hominis faciem non vidi praeterquam archiepiscopi – uit bewondering vir die Ab se ‘single-mindedness’.

In sy eie passievolle fokus op die etiese vrae waarmee hy besig was, sou Etienne de Villiers dikwels iets van hierdie ‘single-mindedness’ wat Max Weber reeds by wetenskaplikes bepleit het, demonstreer. Vir sulke mense maak aftrede dan ook nie werklik saak nie, hulle het wat hulle gedoen het in elk geval nooit bloot as werk of loopbaan gedoen nie, maar omdat hulle wou wéét en omdat hulle geróépe gevoel het, en daarom kan ’n mens maar net vermoed dat die jubilaris ook ná sy aftrede onvermoeid en ‘single-mindedly’ sal voortgaan as besondere en inspirerende etikus van verantwoordelikheid.

Slotsom

Kortom, in welke sin van die woord is Etienne de Villiers ’n etikus van verantwoordelikheid? Ek sou wou antwoord dáárin dat hy verantwoording wou aflê oor die grondslae van die etiek self, dáárin dat hy in die historiese ontwikkeling van die etiek ingesien het dat óns tyd vra om ’n verantwoordelikheidsetiek, in onderskeid van ander etiese benaderinge, dáárin dat hy homself gevolglik tuis gevoel het in die geselskap van diégene wat probeer het om ’n etiek van verantwoordelikheid te ontwikkel, maar in die proses oortuig geraak het dat hy dit beter sélf kan doen, dáárin dat hy in elk geval, deur die jare heen, mede-verantwoordelikheid probeer aanvaar het vir die morele uitdagings van ons samelewing, en ten diepste dalk dáárin dat hy nie anders kón nie, dat hy gebore is met die roeping om as wetenskaplike te probeer verstáán, diensbaar, sonder strewe na aansien en eer.

Die waarheid is dat hy nie van hierdie antwoord sal hou nie. Hy het nog nooit van meerdere antwoorde gehou nie. Hy wil altyd één antwoord hê, dié antwoord, dié waarheid. Hy sal daarom nie van ses antwoorde hou nie, maar sal wil weet wat eintlik die één antwoord is wat oorbly, as al die swak en sterk punte van die verskillende antwoorde met mekaar vergelyk is. Ek hou egter weer wél van baie antwoorde, en daarom het ek met opset ses antwoorde gegee – in die hoop dat ons paaie steeds sal bly kruis en sáám loop en dat ons nog vele gesprekke sal kan hê oor waarom ál ses tog nie tegelyk waar kan wees nie?

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenisse het met enige partye wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Niebuhr, H.R., 1963, The Responsible Self, Harper & Row, New York.

Oberman, H., 1974, Contra vanam curiositatem, Theologischer Verlag, Zürich.

Weber, M., 1917, Wissenschaft als Beruf, Duncker & Humblot, München.

Weber, M., 1919, Politik als Beruf, Duncker & Humblot, München.

AANHANGSEL 1

Werke deur Dawid Etienne de Villiers
De Villiers, D.E, 1973, ‘Die waarheidsbegrip: ’n Probleem-historiese ondersoek na die waarheidsbegrippe van Thoma Aquinas, Martin Heidegger en Arnold Loen’, MA verhandeling, , Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika.

De Villiers, D.E, 1978, Die eiesoortigheid van die Christelike moraal, Rodopi, Amsterdam.

De Villiers, D.E, 1983, ‘Putting the recent debate on conscientious objection into perspective’, Scriptura 8, 21-33.

De Villiers, D.E, 1984a, ‘Kerklike standpunte sedert die instelling van die wette’, in D.E. de Villiers en J. Kinghorn (reds.), Op die skaal: Gemengde huwelike en ontug, pp. 54–77, Tafelberg, Kaapstad.

De Villiers, D.E., 1984b, ‘Kan die wette moreel geregverdig word?’, in D.E. de Villiers en J. Kinghorn (reds.), Op die skaal: Gemengde huwelike en ontug, pp. 121–146, Tafelberg, Kaapstad.

De Villiers, D.E., 1984c, ‘Die geskiedenis van die menseregte’, in D.A. du Toit (red.), Menseregte, pp. 9–38, Tafelberg, Kaapstad.

De Villiers, D.E., 1986, ‘Kritiek uit die ekumene’, in J. Kinghorn (red.), Die NG Kerk en apartheid, pp. 144–164, Macmillan, Johannesburg.

De Villiers, D.E., Du Plessis, L., Kinghorn, J. & Lategan, B.C., 1987, Die keuse vir ’n inklusiewe demokrasie, Sentrum vir Hermeneutiek, Stellenbosch.

De Villiers, D.E., 1988, ‘Die evangelie van vrede en vrede in Suid-Afrika’, in C.J. Wethmar & J.A. Vos (reds.), ’n Woord op sy tyd. ’n Teologiese feesfundel aangebied aan prof. Johan Heyns ter herdenking van sy sestigste verjaardag, pp. 9–22, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

De Villiers, D.E., 1989a, ‘Tussen simpatie en veroordeling: Buitelandse kerklike kritiek teen apartheid (1965–1985)’, in P.F. Theron & J. Kinghorn (reds.), Koninkryk, kerk en kosmos. Huldigingsbundel ter ere van prof. W.D. Jonker, pp. 144–163, Pro-christo Publikasies, Bloemfontein.

De Villiers, D.E., 1989b, ‘Conceptions of peace in South Africa in the light of the Biblical concept of peace’, in K. Nürnberger, J. Tooke & W. Domeris (eds.), Conflict and the quest for justice (NIR reader no. 2), pp. 117–129, Encounter Publications, Pietermaritzburg.

De Villiers, D.E., 1990, ‘Die prediking oor vrede’, in C.W. Burger, B.A. Müller & D.J. Smit (reds.), Riglyne vir prediking oor vrede, pp. 11–20, Lux verbi, Kaapstad.

De Villiers, D.E., 1991, ‘Die strewe na ’n regverdige ekonomiese stelsel’, in D.E. de Villiers & D. Kitching (reds.), Derdegelui vir môre. Die NG Kerk voor die uitdagings van ’n nuwe tyd, pp. 18–29, Tafelberg, Kaapstad.

De Villiers, D.E. & Smit, D.J., 1994, ‘Hoe Christene in Suid-Afrika by mekaar verby praat. Oor vier morele spreekwyses in die Suid-Afrikaanse kerklike konteks’, Skrif en Kerk 15(2), 228–247.

De Villiers, D.E. & Smit, D.J., 1995a, ‘Met watter gesag sê u hierdie dinge? Opmerkings oor kerklike dokumente oor die openbare lewe’, Skrif en Kerk 16(1), 39–56.

De Villiers, D.E., 1995b, ‘Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die nuwe situasie in die samelewing’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 36(4), 558–569.

De Villiers, D.E., 1995c, ‘Die NG Kerk en die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram’, in D. Kitching & F. Linde (reds.), Geroep om te dien. ’n Huldigingsbundel opgedra aan prof. P.R. van Dyk, rektor van die Hugenote-Kollege 1979–1995, pp. 22–30, Hugenote Kollege, Wellington.

De Villiers, D.E., 1996a, ‘The challenge to the Afrikaans churches’, in H.R. Botman & R.M. Peterson (eds.), To remember and to heal. Theological and psychological reflections on truth and reconciliation, pp. 140–153, Human & Rousseau, Cape Town.

De Villiers, D.E. & Smit, D.J. 1996b, ‘Waarom verskil ons so oor wat die wil van God is? Opmerkings oor Christelike morele oordeelsvorming’, Skrif en Kerk 17(1), 31–47.

De Villiers, D.E., 1999a, ‘Die NG Kerk en die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika’, Skrif en Kerk 20(1), 15–38.

De Villiers, D.E., 1999b, ‘Challenges to Christian Ethics in the present South African society’, Scriptura 69, 75–91.

De Villiers, D.E., 2000a, ‘Suid-Afrika in die jaar 2000: Watter morele leiding kan die NG Kerk gee?’, Skrif en Kerk 21(1), 33–47.

De Villiers, D.E., 2000b, ‘Human rights and moral responsibility: Their relationship in the present South African society’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 41(3&4), 212–224.

De Villiers, D.E., 2000c, ‘Die morele genesing van die Suid-Afrikaanse samelewing: Die bydrae van die Afrikaanse kerke’, Hervormde Teologiese Studies 56(2&3), 440–455.

De Villiers, D.E., 2001a, ‘The influence of the DRC on public policy during the late 1980s and 1990s’, Scriptura 76, 51–61.

De Villiers, D.E., 2001b, ‘How my mind has changed’, Journal of Theology for Southern Africa 111, 17–22.

De Villiers, D.E., 2002, ‘Who will bear moral responsibility?’, Communicatio 28(1), 16–21. http://dx.doi.org/10.1080/02500160208537953

De Villiers, D.E., 2003a, ‘A Christian ethics of responsibility: Does it provide an adequate theoretical framework for dealing with issues of public morality?’, Scriptura 82, 23–38.

De Villiers, D.E. & Britz, J.J., 2003b, ‘Die morele verantwoordelikheid van internetdiensverskaffers: ’n Christelik etiese perspektief’, Verbum et Ecclesia 24(2), 333–358.

De Villiers, D.E., 2004a, ‘Die Bybel in die openbare diskoers’, Ned Geref Teologiese Tydskrif 45(3 & 4), 806–817.

De Villiers, D.E., 2004b, ‘Religion, theology and the social sciences in a society in transition’, HTS Theological Studies 60 (1&2), 103–124.

De Villiers, D.E., 2004c, ‘The influence of the Dutch Reformed Church on public policy during the late 80s and 90s’, in W. Weisse & C. Anthonissen (eds.), Maintaining apartheid or promoting change? The role of the Dutch Reformed Church in a phase of increasing conflict in South Africa, pp. 223–234, Waxmann, Münster.

De Villiers, D.E., 2005, ‘The vocation of Reformed ethicist in the present South African society’, Scriptura (89)2, 521–535.

De Villiers, D.E., 2006, ‘Prospects of a Christian ethics of responsibility (Part 1): An assessment of an American version’, Verbum et Ecclesia (27)2, 468–487.

De Villiers, D.E., 2007a, ‘Prospects of a Christian ethics of responsibility (Part 2): An assessment of three German versions’, Verbum et Ecclesia 28(1), 88–109.

De Villiers, D.E., 2007b, ‘Perspektiven einer christlichen Verantwortungsethik’, Zeitschrift für Evangelische Ethik 51(1), 8–23.

De Villiers, D.E., 2008, ‘Kan die NG Kerk nog ’n konstruktiewe rol in die Suid-Afrikaanse samelewing speel?’, Verbum et Ecclesia 29(2), 368–386.

De Villiers, D.E., 2009, ‘Van verhaal tot beleid: Die kerk se verantwoordelikheid ten aansien van arm mense in Nederland en Suid-Afrika. ’n Verantwoordelikheidsetiese benadering’, in F.G. Immink & C.J.A. Vos (reds.), God in een kantelende wereld. Geloof en kerk in veranderende contexten, pp. 109–134, Boekencentrum, Den Haag.

De Villiers, D.E., 2010a, ‘The public role of churches in present democratic South Africa’, in J.D. Gort, H. Jansen & W. Stoker (eds.), Crossroad discourses between Christianity and culture, vol. 38 in series: Currents of encounter, pp. 197–214, Rodopi, Amsterdam.

De Villiers, D.E., 2010b, ‘Prophetic witness: An appropriate mode of public discourse in the democratic South Africa?’, HTS Theological Studies 66(1), Art. #797, 8 pages.

De Villiers, D.E., 2010c, ‘The recognition of human dignity in Africa: A Christian ethics of responsibility perspective’, Scriptura 104, 263–278.

Cited-By

No related citations found

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 1609-9982 (print) | ISSN: 2074-7705 (online)

Connect on: Facebook, Twitter, Google+, LinkedIn and YouTube

Subscribe to our newsletter

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license.

©2016 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS Publishing | Empowering Africa through access to knowledge
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

publishing(AT)aosis.co.za replace (AT) with @

Please read the privacy statement.