Search this journal:     Advanced search
Article Information

Authors:
Gideon J. Serfontein1
Jurie H. le Roux1

Affiliations:
1Department of Old Testament Studies, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to:
Gideon Serfontein

Postal address:
Private Bag X20, Hatfield, Pretoria 0028, South Africa

Dates:
Received: 24 Nov. 2011
Accepted: 02 Feb. 2012
Published: 10 May 2012

How to cite this article:
Serfontein, G.J. & Le Roux, J.H., 2012, ‘Julius Wellhausen – die denke van ’n Ou-Testamentikus’, Verbum et Ecclesia 33(1), Art. #701, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ve.v33i1.701

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Julius Wellhausen – die denke van ’n Ou-Testamentikus
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Inleiding
Die eerste pioniere van die bronneteorie
Die konteks van die 19de eeu het vir Wellhausen beïnvloed
Wellhausen se drie belangrikste werke
   • Komposition des Hexateuchs
   • Geschichte Israels 1
   • Prolegomena zur Geschichte Israels
      • Die geskiedenis van die godsdiens van Israel
      • Geskiedenis van die tradisie
      • Israel en Judaïsme
Samevatting en vooruitskouing
Erkenning
   • Mededingende belange
   • Outersbydrae
Literatuurverwysings
Abstrak

Juliuas Wellhausen – the thoughts of an Old Testament scholar. The purpose of this article is to examine the life, influence and greatest works of Old Testament scholar Julius Wellhausen. Wellhausen was influenced by the findings of other Old Testament critics that preceded him, as well as the new environment that the Enlightenment has created. These influences can be seen in his three major works: Die Komposition des Hexateuchs – here an idea of the method he used in the recognition, grouping and dating of the sources can be found. Wellhausen made use of these sources to construct a history of Israel which can be viewed in his Geschichte Israels. His greatest work was most certainly his Prolegomena zur Geschichte Israels and he makes significant findings in the part on the Geschichte des Kultus. The question to be answered though is: Does Wellhausen’s source hypothesis still has a part to play in our modern research on the Pentateuch?

Inleiding

Die naam Julius Wellhausen word vir byna 130 jaar reeds met die klassieke bronneteorie geassosieer; en hy staan ook bekend as die vader van hierdie teorie (Alter 1996:xl–xli; Campbell & O’Brien 1993:5). Min mense is egter daarvan bewus dat die oorsprong van die teorie nie aan Wellhausen toegeskryf kan word nie (Otto 2011; Wellhausen 2004:12). Tog was hy die persoon wat die erkenning vir die daarstelling van die bronneteorie gekry het. Hy het ook ‘n toekenning van die Duitse regering ontvang vir sy navorsing in die Ou Testament (Silberman 1982:75). Wellhausen word in die geskiedenis geskilder as ’n befaamde akademikus en selfs legendariese figuur. Die vraag is egter wat hy vermag het om die titel ‘vader van die klassieke bronneteorie’ te verdien. Hierdie artikel het ten doel om hierop ’n antwoord te verskaf deur ’n kort bespreking van die lewe en denke van Julius Wellhausen asook drie van sy beroemdste werke, naamlik: Die composition des Hexateuchs und der historischen Bücher des Alten Testaments (1877), Geschichte Israel 1 (1878) en Prolegomena Zur Geschichte Israels (1883) (Smend 2007:95–96).

Die eerste pioniere van die bronneteorie

Die persoon wat die eerste tree in die kritiese ondersoek na die Pentateug gee, is Benedictus de Spinoza (1632–1677) (vgl. Houtman 1980:37–39; Ska 2006:101). De Spinoza (1951:120–132) het geglo dat Moses nie die Pentateug geskryf het soos wat allerweë tot op daardie stadium geglo is nie. Hoewel die skrifgeleerde Esra heelwat later as Moses gelewe het, wil dit volgens De Spinoza eerder voorkom asof hy die outeur was. Richard Simon (1638–1712) word die eerste persoon wat die opmerking maak dat die Pentateug uit verskillende bronne bestaan en beperk Moses se invloed slegs tot die dokumentering van die wette en gebooie (vgl. Cambell & O’Brian 1993:1; Lambe 1985:169–170; Rieger 2004:1327). Jean Astruc (1681–1766) word deur sommige as die werklike vader (Gertz 2011a) van die bronneteorie beskou. Hy het Genesis in kolomme gedeel en tekste op grond van die gebruik van die Godsnaam gegroepeer (vgl. ’n opsomming van hierdie kolomme by Houtman 1980:53–55). Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat Genesis eintlik uit twee bronne bestaan. Een bron gebruik die Godsnaam Jahwe en die ander die Godsnaam Elohim (vgl. O’Doherty 1953:301–303; Rogerson 1984:19). Wellhausen het hierdie verdeling ook sinvol gevind en opgeneem in die opstel van sy eie bronneteorie (Blenkinsopp 1992:3).

Gedurende die 18de en 19de eeu figureer daar veral twee sienings wat ’n belangrike invloed op die daarstelling van Wellhausen se klassieke bronneteorie uitoefen, naamlik ’n vroeë bronneteorie en ’n fragmentteorie. Volgens Alexander (2002:8–9) is die vernaamste ondersteuners van die vroeë bronneteorie Johann Gottfried Eichorn (1752–1827) en Karl-David Ilgen (1763–1834). Eichorn onderskei twee bronne: ’n Elohis- en ’n Jahwisbron (Houtman 1980:57–62). Hy toon hierdie bronne aan as E vir Elohis en J vir Jahwis. Eichorn was die leermeester van Heinrich Ewald wat later weer die mentor geword het van Julius Wellhausen (Ebach 1982:694–696). ’n Groot voorstander van die fragmentteorie was Alexander Geddes (1737–1802), ’n Skot en Rooms-Katolieke priester wat hierdie benadering reeds vanaf 1792 gehuldig het (Houtman 1980:62–63; Nicholson 1998:7). Johann Severin Vater (1771–1826) stel hierdie teorie aan die Duitsers bekend; dit vind groot aanklank by Wilhelm Martin Leberecht de Wette (1780–1849) wat later sy eie wysigings daaraan aanbring (Alexander 2002:10).

Rogerson (1992) beskryf Wilhelm Martin Leberecht De Wette in die titel van sy boek as Founder of Modern Biblical Criticism. Ook Wellhausen (2001:4) het De Wette geprys as dem epochemachenden Eröffner der historischen Kritik auf diesem Gebiete. Belangrike insigte wat De Wette gehuldig het was onder meer dat Moses nie die outeur van die Pentateug is nie, dat Deuteronomium ’n onafhanklike bron is en dat Genesis uit twee bronne bestaan (Rogerson 1992:40–42; 1984:34). Hy verwerf egter veral bekendheid vir ’n opmerking in ’n voetnota in sy verhandeling, Beitrage zur Einleitung in das Alte Testament (1805), naamlik dat die Wetboek wat in 622 v.C. deur koning Josia in die tempel ontdek is, dele van Deuteronomium bevat. Hierdie punt staan bekend as die Archimediese punt (Archimedean Point) en dit gee later aanleiding tot die bronneteorie van Wellhausen (Otto 2007:21). M.J. Paul (1988) toon breedvoerig aan in sy boek Het Archimedisch Punt van de Pentateuchkritiek wat die verhouding tussen die boek Deuteronomium en die reformasie van koning Josia was. Moberly (2001:143–154) merk ook op dat Wellhausen hierdie datum as ’n baken geag het in die skryf van sy Prolegomena. Hermann Hupfeld (1796–1866) lewer twee belangrike bydraes tot Wellhausen se bronneteorie (Ska 2006:108). Eerstens ontdek Hupfeld dat die Elohis-bron in Genesis eintlik uit twee ander bronne bestaan, naamlik ’n vroeë Elohis of priesterlike bron – aangedui as E1, en ’n latere Elohis - aangedui as E2 (Nicholson 1998:8–9). Vir Hupfeld was die ouer priesterlike bron (E1) die basisbron of die raamwerk van die Pentateug. Hupfeld se benadering onderskei vier bronne: Elohis1, Elohis2, Jahwis en Deuteronomium. Die ouderdomme van die bronne word afgelei uit die wyse waarop die bronne gerangskik is. ’n Deurslaggewende bydrae word gelewer deur Karl Heinrich Graf (1815–1869), ’n Ou Testamentikus en kenner van Oosterse tale. Die insette van geleerdes soos Reuss, Vatke, George en Kuenen wat meegehelp het om sy naam in die wêreldbekende uitdrukking van die Graf-Wellhausen bronneteorie (Gertz 2011b) te verewig, kan egter nie geringgeskat word nie.

Vir Graf was dit duidelik dat die Priestergeskrif geen kennis gedra het van Deuteronomium nie. Die logiese afleiding om te maak was dus dat P jonger is as D en waarskynlik uit die sewende eeu voor Christus dateer. ’n Korrespondensie met Kuenen (1828–1891) het hom verder daartoe gelei om te glo dat die Elohistiese verhale ook tot die Priestergeskrif behoort en daarom later gedateer behoort te word as Deuteronomium (Houtman 1980:73). Kuenen was die eerste persoon wat die Elohis of basismateriaal, die ‘Priestergeskrif ‘ genoem en dit met die afkorting P aangedui het (Ska 2006:108–109). Kuenen was dus die direkte voorloper van Julius Wellhausen en daar vind ook wedersydse briefwisseling tussen die twee plaas (Smend 2007:84; 1982:1).

Die konteks van die 19de eeu het vir Wellhausen beïnvloed

Julius Wellhausen (1844–1918) is in die 19de eeu gebore, ’n eeu waarin die wêreld op alle terreine geweldig verander. Houtman (1980:80) maak die volgende opmerking oor Wellhausen sowel as die tyd waarin hy geleef het: Wellhausen was in de procesmatige wijze, waarop hij de ontwikkeling van de godsdienst van Israël beschreeft, een kind van zijn tijd. Die grootste konsentrasie van hierdie veranderings vind in Europa plaas. Dit raak die wetenskap, industrie, kuns, politiek, onderwys en ook die teologie (Schneider 1963:316–324). Die rede waarom Europa die meeste veranderings beleef het, was omdat Europa die plek is waar die Aufklärung plaasgevind het (Beutel 2001:1–17). Die Aufklärung of die Verligting was ’n geestesbeweging wat die mens aanmoedig om oor sy denkwyses en aannames te reflekteer. Dit het aanleiding gegee tot filosofiese vrae soos ‘Wat is waarheid?’ en ‘Kan absolute uitsprake oor God, die mens en die wêreld gemaak word?’ (Enlightenment 2011). Dit was veral die invloed van die Verligting ten opsigte van geskiedenis en teologie wat ’n invloed op Wellhausen se denke uitgeoefen het.

Die tydsgees van die 19de eeu stel Wellhausen in staat om homself van die kerk se tradisionele interpretasiemetodes te bevry; nou kon hy krities met die teks van die Pentateug werk. Tydens sy studentejare as teologiese student by Göttingen word hy veral deur twee boeke beïnvloed. Die eerste was D.F. Strauss se omstrede Das Leben Jesu kritisch bearb wat in 1835 verskyn (Harrisville & Sundberg 1995:89–110). Hierdie boek word een van die mees kontroversiële boeke van sy tyd. Na die bestudering van die boek is Wellhausen daarvan oortuig dat daar op dieselfde kritiese manier met die Ou Testament omgegaan moet word as wat Strauss met die Nuwe Testament gewerk het. Die tweede boek wat ’n groot invloed op hom gehad het, is Heinrich Ewald se Geschichte des Volkes Israel; in Engels – History of Israel (Rogerson 1984:93).

Tydens die Paasvakansie van 1863 word Wellhausen toevallig blootgestel aan hierdie boek van Ewald (Smend 2007:92). Hy word in so ’n mate deur die inhoud gefassineer dat hy besluit om die geskiedenis van Israel as sy navorsingsonderwerp te kies. Dit is veral die wyse waarop Ewald die geskiedenis van Israel in Geschichte des Volkes Israel geïnterpreteer het, wat Wellhausen gebruik het om sy eie standpunt te formuleer. Ewald (1869:42, 73, 95) was van mening dat die regsmateriaal die ouer gedeeltes van die Pentateug uitmaak. Hierdie siening het Wellhausen aanvanklik verwar en hy het daarmee verskil; hierdie onsekerheid word dan ook die katalisator vir sy soeke na ’n meer aanvaarbare plek vir die regsmateriaal van die Pentateug (Wellhausen 2004:12).

Ten einde ’n geskiedenis van Israel te skryf wat histories betroubaar is, moes Wellhausen bronne raadpleeg. Derhalwe besluit hy om die teks van die Pentateug histories-krities te benader. Historiese-kritiek (Frei 1979:18; Deist 1984:21–23) onderwerp veronderstelde ‘feite’ in die Bybel aan onafhanklike ondersoek om die teks se geloofwaardigheid te bepaal. Dit staan lynreg teenoor die beskouing, tot op daardie stadium, dat die Bybel geloofwaardig is bloot omdat dit deur die kerk as gesaghebbend beskou word.

Daar is reeds gemeld dat wetenskaplikes wat Wellhausen voorafgegaan het, duidelik aangetoon het dat die Pentateug uit verskillende bronne wat oor ’n bestek van etlike jare ontstaan het, saamgestel is. Hierdie bronne is later deur een redakteur of ’n groep redakteurs, saamgevoeg om een literêre werk te vorm (vgl. Deist 1976:38–44; Otto 2011; Ska 2006:96–112). Wellhausen was maar te bewus daarvan dat hy eers ’n geskiedenis van Israel kon skryf wanneer hierdie bronne geïdentifiseer en gepas gedateer is. In die winter van 1872 en 1873 (Wellhausen 1963:1–2) begin hy sy literêr-kritiese bestudering van die boek Genesis.

Wellhausen se drie belangrikste werke

Komposition des Hexateuchs
Wellhausen (1963:1) begin sy boek met ’n verduideliking aangaande die bronne wat hy vir sy navorsing aanwend. Wellhausen negeer Dillman se benaming en afkortings van die bronne omdat hy sy volgorde verwarrend vind. Hy stel sy eie simbole voor en gebruik die letter Q om die Grundschrift mee aan te dui. Hierdie letter Q word ontleen aan die afkorting vir die woord quatuor wat verwys na die vier verbondsboeke (Vierbundesbuch) en vier verbonde wat God met die mens gesluit het, naamlik die verbond met Adam, Noag, Abraham en Israel by Sinai. Wellhausen het later ten opsigte van die bron Q ’n verandering aangebring: in sy Prolegomena gebruik hy nie meer die term Q nie, maar die afkorting P vir Priestergeskrif.

Wellhausen (1963:2) gebruik die afkorting J vir die Jahwis. Hierdie bron kan uitgeken word aan die gebruik van die Godsnaam Jahwe. Hy onderskei ook die Elohis; die Elohis word uitgeken aan die gebruik van die Godsnaam Elohim. Hupfeld (Nicholson 1998:8–9) het vroeër reeds bevind dat die Elohis eintlik twee bronne beslaan: ’n vroeë Elohis (E1) en ’n latere Elohis (E2). Die gedeeltes wat aan die latere Elohis (E2) toegeskryf is, word nou deur Wellhausen die Elohis genoem. Die gedeeltes wat Wellhausen aandui as bronne wat saamgevoeg is deur ’n redakteur (derde hand), is volgens hom die Jehowisbron. JE word as simbool vir die Jehowisbron en R as simbool vir die Jehowisredakteur deur Wellhausen gebruik (Whybray 1987:28). Ten einde ’n onderskeid te tref tussen die Jehowisredakteur en die finale redakteur, word die terme Bearbeiter, dritter Hand of Jehovistiese redactor vir eersgenoemde gebruik (Wellhausen 1963:14). Die redakteur wat die finale teks saamgevoeg het, word die finale of laaste redakteur (letzten Redactor) genoem.

Wellhausen (1963:2–61) verdeel Genesis in die volgende dele:

• Genesis 1–11: die oergeskiedenis
• Genesis 12–26: Abraham en Isak
• Genesis 27–36: Jakob en Esau
• Genesis 37–50: Josef en sy broer.

Die Priestergeskrif is die eerste bron wat deur Wellhausen aangetoon word. Die bron is maklik herkenbaar aan sy spesifieke styl en struktuur. Die Priestergeskrif gee feite weer en is baie spesifiek. Wellhausen (1963:2) identifiseer die gedeeltes as behorende tot die Priestergeskrif (of soos hy dit noem, die Vierbundesbuch) in Genesis 1 tot Genesis 11 soos volg:

• Genesis 1:1–2:4a
• Genesis 5 (uitgesluit v29)
• Genesis 6:9–22
• Genesis 7:11 Genesis 8:5 (uitgesluit 7:12, 16c, 17, 22, 8:2b)
• Genesis 8:13–19
• Genesis 9:1–17
• Genesis 9:28
• Genesis 10
• Genesis 11:10–26
• Genesis 11:27–32 (uitgesluit v29).

Die gedeeltes van die Abraham en Isakverhaal (Gen. 12–26) wat Wellhausen (1963:15) as deel van die Priestergeskrif beskou, beskryf hy as die volgende:

• Genesis 12:4b–5
• Genesis 13:6
• Genesis 11b
• Genesis 12
• Genesis 19:29
• Genesis 11:30
• Genesis 16:3
• Genesis 15 – Genesis 16
• Genesis 17:1–27
• Genesis 21:2b–5
• Genesis 23:1–20
• Genesis 25:7–11a
• Genesis 25:12–17.

Die gedeeltes in Genesis 27 tot Genesis 36 en Genesis 38 (Jakob en Esau) wat Wellhausen (1963:29–50) beskou as behorende tot die Priestergeskrif, is:

• Genesis 25:19–20
• Genesis 26
• Genesis 26:34–35
• Genesis 27:46
• Genesis 28:1–9
• Genesis 29:24
• Genesis 28b–29
• Genesis 31:18
• Genesis 35:9–13, 15, 16a, 19, 27–29
• Genesis 36:6–8
• Genesis 37:1–2.

Die gedeeltes in Genesis 37 tot Genesis 50 (Josef en sy broers) wat tot die Priestergeskrif behoort word deur Wellhausen (1963:50–60) aangedui as:

• Genesis 46:6–7
• Genesis 47:5b–11, 27b–28
• Genesis 48:3–7
• Genesis 49:28b–33
• Genesis 50:12–13.

Die gedeeltes van die Priestergeskrif word nie in besonderhede deur Wellhausen bespreek nie; sy doel is nie ’n eksegese van Genesis nie, maar slegs ’n poging om die bronne te identifiseer en te onderskei. Die gedeeltes wat oorbly is ’n vermenging tussen die Jahwis en die Elohis.

Op sommige plekke, soos Genesis 20 tot Genesis 22, is dit duidelik dat die gedeeltes tot die Elohis behoort. Eerstens word die Godsnaam Elohim gebruik (Wellhausen 1963:17). Tweedens verskyn God net in die nag aan mense in die Elohistiese materiaal, onder meer in Genesis 20:3 en Genesis 20:6. Derdens praat die engele in die Elohistiese dokument met die mens vanuit die hemel of van bo en ontmoet nie die mens persoonlik soos in die Jahwis nie. Dit is sigbaar in die tekste Genesis 21:17 en Genesis 22:11. Vierdens is dit duidelik in die Elohistiese gedeeltes in Genesis 20 en Genesis 21:31 dat die woonplek van Abraham en Isak in Berséba is en nie Hebron soos wat die Jahwis dit meedeel in Genesis 13:18 en Genesis 35:27 nie. Daar is ook gedeeltes waar die Jahwis duidelik onderskei kan word, soos in Genesis 16, Genesis 18, Genesis 19, Genesis 24 en Genesis 26, weens die gebruik van die Godsnaam Jahwe en die die verhalende styl wat kenmerkend van die Jahwis is.

Die ruimte in hierdie artikel is te min om aan te toon hoe Wellhausen die hele Genesis in bronne verdeel het. Dit is egter volledig in sy Composition (1963) uiteengesit en die leser kan dit daar bestudeer. ’n Gedeelte wat wel hier bespreek word, is ’n deel van Genesis 47 en Genesis 48, aangesien Wellhausen (1963:59) die laaste paar verse van Genesis 47 en die eerste paar verse van Genesis 48 as uitstekende voorbeelde van bronwisseling tussen die Jahwis, Elohis en Q aandui. In Genesis 47:28 is dit Q (Grondskrif) wat ter sprake is; dit word opgevolg met verse 29 tot 31 wat weer afkomstig is van J (Jahwis). In Genesis 48:1 is die Elohis die bron, waar die inleidingsformule “ הלֶּאֵהָ םירִבָדְּהַ ירֵחֲאַ ,יהִיְוַ [na hierdie dinge] die bewyse lewer dat dit wel die Elohis is wat hier ter sprake is. Wellhausen gee nie enige inligting oor die posisie van vers 2 nie, maar daar kan aanvaar word dat dit ook deel uitmaak van die Elohistiese tekste. Genesis 48:3–7 is weer van Q. In hierdie verse van Q seën Jakob vir Josef met die seën wat gewoonlik aan die eersgeborene gegee word. Dit verskil van Genesis 47:29–31, wat afkomstig is van die Jahwis, waarin Jakob nie vir Josef seën nie, maar hom ’n eed laat aflê dat hy hom nie in Egipte sal begrawe nie.

Hierdie eerste gedeelte van Wellhausen se Composition das Hexateuchs wat hy voltooi aan die einde van die somer van 1873, het die navorsing van sy voorgangers bevestig. Hy het finaal bewys dat die samestelling van Genesis nie blote spekulasie of vermoedens is nie. Hy het duidelik aangedui hoe die bronne van Genesis by mekaar aansluit en waar die raakpunte tussen die verskillende bronne lê. Hy onderskei drie bronne in Genesis en ken vervolgens verskillende gedeeltes in Genesis aan elkeen toe: die Jahwis, Elohis en Q (Vierbundesbuch). Die literêr-kritiese benadering wat hy ten opsigte van die teks van Genesis toepas, lei hom om sekere afleidings oor die wordingsgeskiedenis van Genesis te maak. Volgens Wellhausen (1963:61): Dass Q und JE sich über die Genesis hinaus, bis ins Buch Josua fortsetzen, ist eine ausgemachte Sache. Hiermee bevestig hy dat dieselfde patroon en vermenging van die verskillende bronne voortgesit word in die res van die Heksateug. Uitgesluit hiervan is natuurlik Deuteronomium wat ’n bron op sy eie is, maar wat nie voorkom in die ander boeke van die Heksateug nie. Noudat die bronne geïdentifiseer en saamgevoeg is, kon Wellhausen eindelik sy navorsingsdoelwit voortsit, naamlik om ’n geskiedenis van Israel te skryf.

Geschichte Israels 1
Geschichte Israels 1 is in die jaar 1878 geskryf. Wellhausen verdeel sy geskiedenis van Israel in sestien tydperke:

1. begin van die nasies
2. vestiging in Palestina
3. begin van die koninkryk en die eerste drie konings
4. Jerobeam I tot by Jerobeam II
5. God, die wêreld en die lewe van die mense in ou Israel
6. val van Samaria
7. bevryding van Juda
8. profetiese reformasie
9. Jeremia en die vernietiging van Jerusalem
10. gevangenisskap en restourasie
11. Judaïsme en die Christendom
12. Hellenistiese tydperk
13. Hasmoniese Ryk
14. Herodes en die Romeine
15. die Rabbyne
16. die Joodse Diaspora.

Wellhausen baseer sy geskiedenis van Israel op die inligting wat hy versamel het nadat hy die bronne groepeer het. Hy gebruik ook die Bybelse tekste waar dit geskiedkundige inligting oordra. Hy begin hierdie geskiedenis van Israel deur Israel binne die konteks van familiebande en die ander nasies te plaas. Volgens Wellhausen (2004:290) is Israel, Edom, Moab en Ammon familie van mekaar. Israel se geskiedenis begin volgens Wellhausen (2004:290) met die verskyning van Moses. Moses lei ’n stam van Israel uit Egipte uit en hulle vestig hulle in die omgewing van Kades. Mettertyd het ander stamme met hierdie stam vermeng en het dit ’n groter stam geword. Die beskikbare grond word minder en die stamme begin uitbrei in die rigting van Israel. Die vestiging van die stam Israel in Palestina tesame met ander stamme het oor etlike jare plaasgevind en daar is verskeie teorieë oor hoe presies dit gebeur het (Wellhausen 2004:292; vgl. ook Grabbe 2000:206–208; Weinfeld 1993:101–120).

Dit was Moses wat Jahwe aan Israel bekendgestel het; deur sy toedoen begin hulle om Jahwe as hulle God te aanbid. In hoofstuk twee beskryf Wellhausen (2004:298–303) die gevegte tussen die stamme in Palestina met die Kanaäniete en wat daartoe aanleiding gee dat hierdie stamme hulle eindelik in Palestina vestig. Hy beskou die boek Rigters as ’n meer betroubare bron vir hierdie deel van die geskiedenis as Josua.

Die Filistynse bedreiging noop die stamme om saam te staan; ’n godsdienstige identiteit en band tussen die stamme begin ontwikkel. Saul slaag daarin om al die stamme te verenig en ’n koninkryk word gevestig. Die eerste drie konings van hierdie ryk is Saul, Dawid en Salomo (Wellhausen 1963:

304–309). Dawid is die persoon wat Jerusalem as die hoofstad van die ryk verklaar en Israel hoë hoogtes laat bereik (vgl. ook Albertz 1992:159–172).

Na die dood van Salomo skeur die ryk in twee. Die tien stamme in die noorde vorm hul eie koninkryk met Samaria as hoofstad; hulle kies ook ’n eie koning. Die twee suidelike stamme, Juda en Jerusalem, vorm die koninkryk van Juda en Jerusalem bly die hoofstad. In hoofstuk vyf beskryf Wellhausen (2004:314–318) die gewone lewe in Juda en Israel soos wat hy dit kon aflei uit die boeke van Rigters, Samuel en Konings. In hoofstuk ses verhaal hy (2004:318–322) die gebeure wat tot die val van Samaria in 721 v.C. lei, asook tot die vernietiging van die staat Israel. Hoofstuk sewe tot nege handel (Wellhausen 2004:322–332) oor die gebeure in Juda tot en met die val van Jerusalem asook die meegaande wegvoering van die inwoners na Babilonië as ballinge. Die opkoms en rol van die profete asook die begin van die hiërokrasie word bespreek. In hoofstuk tien beskryf Wellhausen (2004:332–336) die lewe van die ballinge in Babilonië en die prominensie wat die onderhouding van die Sabbat en die besnydenis begin inneem (vgl. ook Albertz 1994:370–374). Die terugkeer van die ballinge na Juda het nie outomaties onafhanklikheid geïmpliseer nie; die Jode was steeds nie polities outonoom nie. Die tempel en die hoëpriester vervang die behoefte aan onafhanklikheid en vorm die godsdienstige regering wat oor die volk heers. Die tempel word die enigste plek vir offerandes en Deuteronomium word die grondwet waarvolgens die Jode hulself godsdienstig regeer. Die Wetboek van Moses wat saamgebring is vanaf Babilonië, word in 444 v.C. deur Esra aan die volk gegee. Die volk aanvaar hierdie wet en onderwerp hulle vervolgens daaraan asook aan die priesterlike gesag. Volgens Wellhausen (2004:280) is hierdie gebeure die begin van Judaïsme. In hoofstuk elf beskryf Wellhausen (2004:337–345) die lewe in Israel onder die wet en die godsdienstige regering van die priesters in Jerusalem.

Wellhausen se identifisering van die bronne was onontbeerlik vir sy skryf van ’n geskiedenis van Israel. Deur die bronne langs mekaar te plaas en te vergelyk, maak hy ’n besondere ontdekking: daar word ’n duidelike ontwikkeling in die godsdiens van Israel vanaf die Jahwistiese bron tot die Priestergeskrif aangedui. Hierdie ontwikkeling word breedvoerig bespreek en verder uitgebrei in sy volgende werk Prolegomena zur geschichte Israels.

Die Geschichte Israels I verskyn in 1878 en ’n verwerking van hierdie onderwerp vind weer beslag in 1883 onder die nuwe titel Prolegomena zur Geschichte Israel.

Prolegomena zur Geschichte Israels
Volgens Smend (2007:97) was daar sedert Strauss se Leben Jesu van 1835 nog nie weer ’n boek wat dieselfde invloed uitgeoefen het as die Prolegomena van Wellhausen nie. Laasgenoemde werk word vir studies oor die Ou Testament wat Copernicus se Revolutionibus Orbium Coelestium (1543) vir die sterrekunde en Darwin se Origin of Species (1859) vir die biologie beteken het. Wellhausen se Prolegomena het ’n geweldige reaksie ontlok by geleerdes en die kerk; dit sou vir baie jare die basis vorm vir navorsing oor die Ou Testament en die Pentateug.

Wellhausen verdeel sy Prolegomena in drie dele. Die eerste deel handel oor die Geschichte des Kultus (geskiedenis van die godsdiens van Israel) en die tweede deel oor die Geschichte der Tradition (geskiedenis van die tradisie). Dit wat in die geskiedenis van die kultus van Israel weergegee word, word ook in die geskiedenis van die tradisie bevestig (Smend 2007:96). In die derde deel word daar gehandel oor Israel und das Judentum (Israel en Judaïsme) en word daar klem gelê op die onderskeid wat tussen die twee begrippe gemaak moet word.

Die geskiedenis van die godsdiens van Israel
Die godsdiensgeskiedenis van Israel fokus op vier aspekte, naamlik die plekke van aanbidding, die offers, die heilige feeste en die amp van die priesters en Leviete. In sy Prolegomena (2004) toon Wellhausen aan hoe Israel se godsdiens tot en met die koningstyd daar uitgesien het (Miller 1982:61–73). Die navorsing oor die gemelde vier aspekte asook ’n studie van die bronne uit die Composition des Hexateuchs, lei Wellhausen (2004:34) om ’n aantal gevolgtrekkings te maak: eerstens was daar geen beperkings in die ouer bronne (Jahwis en Elohis) ten opsigte van die plek van aanbidding, die plek van offerande en deur wie die offerande uitgevoer mag word nie. In die boek Deuteronomium verander hierdie scenario – die idee dat Jahwe slegs op een plek aanbid mag word, dat daar net in Jerusalem by die tempel geoffer mag word en dat die feeste nie meer rondom die landbou sentreer nie, vind beslag in Deuteronomium. Die priesters en Leviete word nou die persone wat in beheer is van die godsdiens en hulle het bepaalde uitvoerende magte. Die verandering het beteken dat die praktyke wat in Deuteronomium nog deel van die mens se alledaagse doen en late was, in die Priestergeskrif ver in die verlede lê. Die ou praktyke het in onbruik verval en vergete geraak. Die Priestergeskrif kon dus die ou praktyke aanpas en verander om by die huidige situasie aan te pas sodat hierdie vereiste van een aanbiddingsplek ook uit die verlede gelegitimeer kan word. Hierdie ontwikkeling ten opsigte van die aanbiddingsplekke, offers, heilige feeste en die plek van die priesters en Leviete, het Wellhausen daarvan oortuig dat die Priestergeskrif jonger is as Deuteronomium en dat die Priestergeskrif uit die post-eksiliese periode dateer.

Wellhausen se afkeer en negatiewe siening ten opsigte van die priesters en die Priestergeskrif, is duidelik te bespeur. Veral die optrede van die priesters word in ’n negatiewe lig gestel. Wellhausen beskou die godsdiensbelewing van Israel onder die priesterregering as koud en strak; volgens hom rus die fokus nie op die verhouding tussen Israel en Jahwe nie, maar op gehoorsaamheid aan die wet. Wellhausen wys ook op die slinkse wyse waarop die priesters hulself in onbetwisbare magsposisies geplaas het. Sodoende kon hulle na hul eie belang omsien en terselfdertyd beheer oor die volk uitoefen. Vir Wellhausen is dit baie duidelik dat die priesters se uitsluitlike doel was om die ou godsdiens van Israel te laat uitsterf terwyl Judaïsme as die nuwe godsdiens van Israel ingeforseer word. Hiermee word daar nou ’n hiërokrasie gevestig, waarin die priesters die enigste begunstigdes is.

Geskiedenis van die tradisie
Die Geschichte der Tradition (geskiedenis van die tradisie) -gedeelte in Wellhausen se Prolegomena is ’n herhaling van wat reeds in die aanbiddingsgeskiedenis van Israel bespreek is. Die verskil is dat Wellhausen die historiese boeke van Rigters, Samuel en Konings met die boek Kronieke vergelyk. Volgens Wellhausen (2004:122) is die oorsprong van die historiese boeke Samuel en Konings uit die ballingskaptydperk. Kronieke word egter eers ongeveer driehonderd jaar na die ballingskap gedateer. Deur die twee stelle dokumente met mekaar te vergelyk, kom Wellhausen tot dieselfde gevolgtrekking as in die eerste deel wat oor die geskiedenis van Israel se aanbidding gehandel het.

Israel en Judaïsme
In Israel und das Judentum (Israel en die Judaïsme) word ’n samevatting en gevolgtrekking van die vorige twee hoofstukke gegee, asook ’n opsomming van die bevindings van sy werk Composition des Hexateuchs. Wellhausen (2004:248–256) is van mening dat hy genoeg bewyse aangebied het om die teorie van Graf, naamlik dat die Priestergeskrif die laaste en die jongste van die bronne is, te motiveer en te bevestig.

Drie sake kom in die Prolegomena na vore. Eerstens toon Wellhausen aan dat daar ’n sentralisering van Israel se godsdiens plaasgevind het; tweedens dat die aanvaarding van die Wet die begin van Judaïsme ingelui het en derdens spreek hy sy negatiwiteit uit jeens die priesters. Sy minagting vir laasgenoemde word versterk deur hulle geringskatting van die geskiedenis van Israel. Volgens Wellhausen (2004:117) het die priesters geen respek vir die godsdienstige tradisie van Israel nie en vervals hulle dit gewetenloos deur dit te herskryf om hulself te bevoordeel. Selfs die geslagsregisters wat deur die priesters gebruik is, is versinsels en nie histories nie. Hulle doelwit was om die teokrasie, wat niks anders was as ’n hiërokratiese stelsel nie, te wettig. Vanuit hul selfgeskape magsposisie het die priesters die volk onderwerp aan selfgemaakte reëls ten einde hulself te bevoordeel.

Samevatting en vooruitskouing

Wellhausen se belangrikste bydrae tot die Ou Testament is sekerlik sy afronding en finale daarstelling van die klassieke bronneteorie. Hierdie teorie was vir baie jare die fondament waarop daar deur ander teoloë na hom gebou is. Dit is eers negentig jaar later deur die kritiek van persone soos Rolf Rendtorff (1997:48–51), Erhard Blum (1990:5) en John van Seters (1992:328) dat die invloed van die bronneteorie getaan het (vir meer kritiek teen die bronneteorie vgl. Van Dyk 1990:191–202; Stern 2008:182–186; Wenham 1991:84–109). Volgens die klassieke bronneteorie bestaan die Pentateug uit vyf verskillende bronne. Die eerste en oudste bron is die Jahwis (J), herkenbaar deur die gebruik van die Godsnaam Jahwe. Die oorsprong daarvan is in 950 v.C. in Jerusalem tydens die koningskap van Dawid en Salomo. Die tweede bron is die Elohis en is herkenbaar weens die gebruik van die Godsnaam Elohim. Dit het in ongeveer 750 v.C. ontstaan in die Noordryk, na die skeuring van die ryk. Die derde bron is die Jehowis en is ’n vermenging van die bronne van die Jahwis en die Elohis deur ’n redakteur.

Volgens Wellhausen (2004:19) het die bron sy ontstaan in die tydperk van die Assiriese ryk en dateer dus ongeveer 700 v.C. Die vierde bron is Deuteronomium. Die ontstaan van Deuteronomium se inhoud is onseker. Die ontdekking van die Wetboek deur koning Josia in 621 v.C. en die volk se aanvaarding daarvan, word as datum van oorsprong gebruik. Die Wetboek het dele van Deuteronomium bevat. Die laaste en jongste bron is die Priestergeskrif; die ontstaan daarvan kan terugherlei word na die volk se Babiloniese ballingskap en die tydperk ná die ballingskap. Hoewel die ontstaansdatum as ongeveer 550 v.C. gereken word, reken Wellhausen (2004:279) dat 444 v.C. die korrekte datum sou wees (vgl. ook Rofé 1999:65–67; Weidmann 1968:20–21). Hierdie bronne het Wellhausen se verwysings geword wat gebruik is om Geschichte Israels en die Prolegomena te skryf.

Soos vroeër gemeld was Wellhausen nie die eerste persoon wat die mening gehuldig het dat die Pentateug uit verskillende bronne bestaan nie. Tog word hy die persoon aan wie die eervolle titel ‘vader van die klassieke bronneteorie’, toegedeel word. Daar kan dus met reg gevra word waarom Wellhausen die persoon was wat roem verwerf het? Smend verskaf myns insiens die bevredigendste antwoord hierop: ‘The decisive element must be that Wellhausen had a total view’ (1982:13). Die vermoë van Wellhausen om dele te identifiseer, dit tot ’n geheel te ontwikkel en die proses te verwoord, het van hom ’n befaamde akademikus gemaak. Gooder (2000:12) beskryf die uniekheid van Wellhausen en sy teorie met die volgende stelling: ‘The significance of Wellhausen’s theory lay not in his enumeration of four sources, since that had been done before, but in the order he proposed for their composition.’

Vandag word al die aspekte van Wellhausen se bronneteorie nie meer gehandhaaf nie. Dit sou onrealisties wees om te verwag dat dit ’n eeu later steeds onvoorwaardelik as die norm aanvaar word aangesien wetenskaplike navorsing en kritiese denke uiteraard reeds-ontwikkelde teorieë gedurig toets en aanpas. Volgens Ska (2006:160) is die een aspek van Wellhausen se bevindings wat egter steeds gehandhaaf word, sy insigte oor die sentralisering van Israel se godsdiens: ‘The centralization of the cult is an accepted fact and no longer calls for explanation or polemic, as Wellhausen had shown.’

Wellhausen se invloed kan nie geringgeskat word nie – sy teorie was vir bykans ’n eeu die basis vir studies wat oor die Ou Testament en Pentateug onderneem is. Hoewel sekere aspekte van sy teorie gekritiseer en nie meer as die norm aanvaar word nie, beteken dit nie dat Wellhausen se bronneteorie geen relevansie vir huidige navorsing het nie. Volgens Kratz (2009:400–402) begin geleerdes in sommige kringe terugkeer na aspekte van Wellhausen se bevindings. Sy werke word meer aangehaal en herdruk as van tevore. Geen uitsprake oor die oorsprong van die Pentateug of die godsdiens van Israel in die Ou Testament kan gemaak word sonder om eers deeglik kennis te neem van die bronneteorie van Wellhausen nie. Richard E. Friedman het die volgende opmerking gemaak in Davies (2007:34) wat elkeen wat navorsing oor die Pentateug wil doen, deeglik van kennis moet neem: ‘To this day, if you want to disagree, you disagree with Wellhausen. If you want to pose a new model, you compare its merits with those of Wellhausen’s model.’

Wynn-Williams (1997) beskryf ook die bronneteorie steeds as ’n bruikbare teorie:

In bringing to light the existence of distinct story-lines within the canonical text, the source-critical method remains a valid and useful approach to appreciating the complexities of the final text. (p. 251)

Ook McEvenue (1990) beklemtoon dat historiese kritiek die enigste manier is om die betekenis van antieke tekste te bepaal:

A contemporary reading of ancient literature requires, however, the use of historical-critical methodology, as that is the only means we have of getting beyond our own ideas to really read the intent of a text from another era. (pp. 152–153)

Eindelik is dit ook belangrik om te let daarop dat nie net sy merkwaardige insigte nie, maar ook sy unieke karakter hom as legendariese figuur onderskei het. Sy sienings was dikwels kontroversieel en het hom meermale die kritiek en argwaan van geleerdes, kollegas en konserwatiewe kerklui op die hals gehaal. Sy soeke na ’n geskikte plek vir die regsmateriaal in die godsdiensgeskiedenis van Israel, was nie onbelemmerd nie; hy het ’n ongewone deursettingsvermoë getoon om antwoorde op soms ongemaklike vrae te kry. Tog was hy nie ’n arrogante en aanmatigende persoon nie; meermale is daar na hom verwys as ’n geleerde wat eerder die houding het van ’n boer as ’n professor.

Wellhausen se vasberadenheid het eindelik gelei tot die daarstelling van ’n teorie wat vir byna ’n eeu die onvoorwaardelike basis vir Ou Testamentiese studie was. Sy dryfkrag ten spyte van teenstand behoort net soveel as sy bronneteorie, die inspirasie vir enige student van die Pentateug te wees. Die voldonge feit dat daar nog baie teorieë is wat wag om ontsluit te word deur persone wat ook die moed het om bo bestaande denkpatrone en kritiek uit te styg, behoort ’n aansporing te wees vir studente wat Julius Wellhausen as ’n rolmodel beskou.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenisse het met enige partye wat hul nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

Outersbydrae
Die artikel was deel van die vereistes vir die graad Ph.D aan die Departement Ou Testament, Universiteit van Pretoria. J.H.L.R (Universiteit van Pretoria) was die promotor en G.J.S. (Universiteit van Pretoria) was die outeur en samesteller.

Literatuurverwysings

Albertz, R., 1992, Religionsgeschichte Israels in Alttestamentlicher Zeit 1. Von den Anfängen bis zum Ende der Königszeit,Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Albertz, R., 1994, A history of Israelite religion in the Old Testament period. Vol. 2, From the beginnings to the end of the Exile, transl. J. Bowden, SCM Press, London.

Alexander, T.D., 2002, From paradise to the promised land, An introduction to the Pentateuch, Paternoster Press, Cornwall.

Alter, R., 1996, Genesis, W.W. Nortan & Company, New York.

Beutel, A., 2011, ‘The Enlightment’, in Religion Past and Present, viewed 25 October 2011, from http://referenceworks.brillonline.com/entries/religion-past-and-present/enlightenment-the-COM_01277

Blenkinsopp, J., 1992, The Pentateuch. An introduction to the First Five Books of the Bible, Doubleday, New York.

Blum, E., 1990, Studien zur Komposition des Pentateuch, Walter de Gruyter, Berlin. http://dx.doi.org/10.1515/9783110879506

Campbell, A.F. & O’Brien, M.A., 1993, Sources of the Pentateuch, Fortress Press, Minneapolis.

Davies, C., 2007, Dating the Old Testament, viewed 24 August 2011, from http://books.google.co.za/books?id=AQhvp9qtzNEC&printsec=frontcover&dq=Dating+the+old+testament&hl=en&ei=duTITs3vC cGw8QP37bB-&sa=X&oi=book_result&ct=result&resnum=1&ved=0CEcQ6AEwAA#v=onepage&q=Dating%20the%20old%20testament&f=false

De Spinoza, B., 1951, A theologico-political treatise and a political treatise, transl. R.H.M. Elwes, Dover publications, Inc., New York.

Deist, F.E., 1984, Mosaïek van Moses, Sagtebanduitgawe, Tafelberg, Kaapstad.

Ebach, J., 1982, ‘Ewald, Georg Heinrich August (1803–1875)’, TRE 10, 694–496.

Enlightenment, 2011, Encyclopaedia Britannica. Encyclopaedia Britannica Online, viewed 27 March 2011, from http://www.britannica.com/EBchecked/topic/188441/Enlightenment

Ewald, H., 1869, The history of Israel, transl. Russel Martineau, Longman’s Green & Co, Londen.

Frei, H.W., 1974, The Eclipse of Biblical Narrative. A stydy in eighteen and nineteen century hermeneutics, Yale University Press, London.

Gertz, J.C., 2011a, ‘Astruc, Jean’ in Religion Past and Present, viewed 15 October 2011, from http://0-brillonline.nl.innopac.up.ac.za/subscriber/uid=5428/ entry?entry=rpp_COM-13072

Gertz, J.C., 2011b, ‘Graf, Karl Heinrich’ in Religion Past and Present, viewed 25 October 2010, from http://0-brillonline.nl.innopac.up.ac.za/subscriber/uid=5428/ entry?entry=rpp_COM-13072

Gooder, P., 2000, The Pentateuch. A story of beginnings, Continuum, London.

Grabbe, L.L., 2000, ‘Writing Israel’s history at the end of the 20th century’, Supplements to Vetus Testamentum, Congress Volume, Oslo, Brill, Leiden.

Harrisville, R.A. & Sundberg, W., 1995, The Bible in Modern Culture – Theology and historical-critical Method from Spinoza to Käsemann, William B. Eerdemans Publishsing Company, Grand Rapids.

Houtman, C., 1980, Inleiding in de pentateuch, J.H. Kok, Kampen.

Kratz, R.G., 2009, ‘Eyes and spectacles: Wellhausen’s method of higher criticism’, Journal of Theological Studies, NS, 60, 381–402. http://dx.doi.org/10.1093/jts/flp038

Lambe, P.J., 1985, ‘Biblical criticism and censorship in ancien regime France: The case of Richard Simon’, HTR 78(1–2), 149–77.

McEvenue, S.E., 1990, Interpreting the Pentateuch (Old Testament Studies), Liturgical Press, Minnesota.

Miller, P.D., 1982, ‘Wellhausen and the history of Israel’s religion’, Semeia 25, 61–73.

Moberly, R.W.L., 2001, ‘Genesis 12–50’, in J.W. Rogerson, R.W.L. Moberly & W. Johnstone (eds.), Genesis and Exodus (pp. 100–172), Sheffield Academic Press, Sheffield.

Nicholson, E.W., 1998, The Pentateuch in the Twentieth Century: The legacy of Julius Wellhausen. Oxford University Press, New York.

O’Doherty, E., 1953, ‘ Conjectures of Jean Astruc, 1753’, Catholic Biblical Quarterly 15(3), 300–304.

Otto, E., 2007, ‘A hidden truth behind the text or the truth of the text: At a turning point in Biblical Scholarship two hundred years after De Wette’s Dissertatio Critico Exegetica’, in J. le Roux & E. Otto (eds.), South African perspectives on the Pentateuch between synchrony and diachrony (pp. 19–28), E.T. & T. Clarck, London.

Otto, E., 2011, ‘Pentateuch’, in H.D. Betz, D.S. Browning, B. Janowski & E. Jüngel (eds.), Religion Past and Present, viewed 25 October 2011, from http://0-brillonline.nl.innopac.up.ac.za/subscriber/uid=5428/ entry?entry=rpp_COM-13072

Paul, M.J., 1988, Het Archimedisch Punt van de Pentateuchkritiek, Uitgeverij Boekencentrum, Gravenhage.

Rendtorff, R., 1997, ‘Directions in Pentateuchal studies’, in Alan Hauser (ed.), Currents in Research: Biblical Studies 5, (pp. 43–65), Sage Publications, Ltd.

Rieger, R., 2004, Religion in Geschichte und Gegenwart, vol. 4 (p. 1327), Mohr Siebeck, Tubingen.

Rofé, A., 1999, Introduction to the composition of the Pentateuch, Sheffield Academic Press, Sheffield.

Cited-By

No related citations found

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 1609-9982 (print) | ISSN: 2074-7705 (online)

Connect on: Facebook, Twitter, Google+, LinkedIn and YouTube

Subscribe to our newsletter

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license.

©2016 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS Publishing | Empowering Africa through access to knowledge
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

publishing(AT)aosis.co.za replace (AT) with @

Please read the privacy statement.