Search this journal:     Advanced search
Article Information

Authors:
Alfred R. Brunsdon1
George A. Lotter1

Affiliations:
1Practical Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Alfred Brunsdon

Email:
arbrunsdon@gmail.com

Postal address:
PO Box 10049, Lichtenburg 2740, South Africa

Dates:
Received: 05 Oct. 2010
Accepted: 03 Apr. 2011
Published: 24 Aug. 2011

How to cite this article:
Brunsdon, A.R. & Lotter, G.A., 2011, ‘Outo-etnografie as selfhulp vir predikante met bedieningsmoegheid: Verkennende opmerkings’, Verbum et Ecclesia 32(1), Art. #465, 7 pages. doi:10.4102/ve.v32i1.465

Copyright Notice:
© 2011. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 1609-9982 (print)
ISSN: 2074-7705 (online)
Outo-etnografie as selfhulp vir predikante met bedieningsmoegheid: Verkennende opmerkings
In This Original Research...
Open Access
Abstract
Inleiding
Navorsingsmetodologie
Outo-etnografie
Outo-etnografie as terapeutiese hulpmiddel
Outo-etnografie as bydrae tot die wetenskap
Outo-etnografie in teologiese konteks
   • Praktiese teologie en kwalitatiewe navorsing
   • Outo-etnografie in Skrifkonteks
Enkele praktykgerigte opmerkings met betrekking tot predikante met bedieningsmoegheid wat outoetno- grafie as selfhulp oorweeg
   • Van pre-narratief na narratief
   • Metodiek
   • Fragmente of 'n hele verhaal
Slotsom
Literatuurverwysings
Footnotes
Abstract

Auto-ethnography as self-help for ministers with ministry-fatigue: Exploratory remarks
This article addressed the possible benefits of auto-ethnography as a form of self-help for ministers suffering from ministry-fatigue. Given the fact that the ministry is a vocation with little or no support for its workers, ministers must develop self-help skills to manage fatigue. Auto-ethnography is an exciting new development in the field of qualitative research methodology. In recent times, a number of researchers have used this method to shed light on various phenomena, especially those of a personal nature. This article explored the notion that, apart from making a contribution to science, auto-ethnography also has therapeutic value for writers who implement this method. This article made some exploratory remarks on this issue, with special reference to the therapeutic possibilities that it may have for ministers suffering from ministry-fatigue.

Inleiding

‘Dominees het ʼn lekker werk – net een dag per week en boonop net vir ʼn uur’. Hierdie geykte uitdrukking is ingeburger in die Suid-Afrikaanse volksmond en berus waarskynlik op die growwe wanpersepsies wat kerkgangers en lede van die algemene publiek oor die beroepslewe van die predikant koester. Met ‘predikant’ word hier verwys na leraars, manlik en vroulik, van alle godsdienstige denominasies wat voltyds in die gemeentelike bediening staan. Die teendeel van hierdie aanname blyk eerder waar te wees, aangesien die predikantsamp toenemend ʼn hoërisiko-beroep blyk te wees. Die hoë risiko verbonde aan die amp behels weliswaar nie die lewensgevaarlike omstandighede waarin boere, werkers in die sekuriteitsbedryf en kafee-eienaars1 daagliks hulle werk verrig nie; dit het betrekking op die emosionele en geestelike onherbergsaamheid wat toenemend met die predikantsamp geassosieer word en wat bepaalde implikasies vir die funksionering van predikante in hulle ampte en as persone het.

Onlangse navorsing, soos dié van Breytenbach, Wilders, Strydom en Breytenbach (2005), asook Nolte en Dreyer (2009), het oortuigend aangetoon dat die hedendaagse bedieningsomgewing van predikante emosionele en fisiese leemtes het wat negatiewe fisieke en psigo-emosionele gevolge vir die predikant inhou. In hierdie artikel sal daar kollektief na hierdie gevolge as bedieningsmoegheid verwys word. Hierin word daar aangesluit by die gedagtegang van Charles Figley (1995), wat die term compassion fatigue [medelyemoegheid] gemunt het om die uitputting te beskryf wat hulpverleners tydens die hulpverleningsproses opdoen. Medelyemoegheid is volgens Coetzer (2004:202) te onderskei van uitbranding, wat hoofsaaklik as gevolg van organisatoriese belange en die herhaling van burokratiese take ontstaan. Waar uitbranding sigbaar word in ʼn stelselmatige ontrekking van persone aan ʼn bepaalde saak, asook ʼn stelselmatige verlies aan empatie, onttrek ʼn persoon met medelyemoegheid nie noodwendig van die werksomgewing nie, maar werk eerder harder om ʼn verskil te maak (Pfiffering & Gilley 2000:39).

Bedieningsmoegheid by predikante behels ʼn kombinasie van uitbranding en medelyemoegheid, aangesien die bediening heelwat herhalende organisatoriese take omvat, terwyl dit ook swaar op die hulpverlening aan mense in verskillende vorme van nood berus. In die nakoming van hierdie funksies word die beroepsbelewenis van predikante verder gekompliseer deur stressors wat algemeen met gemeentebediening geassosieer word, soos byvoorbeeld werkslading, onrealistiese rolverwagtinge, paradigmatiese verskille tussen die predikant en gemeentelede en ʼn verplasing van verantwoordelikhede na die predikant (vgl. Grobbelaar 2007). Die gevolg is ʼn algemene bedieningsmoegheid by die predikant wat deur middel van ʼn wye spektrum van fisiese en emosionele reaksies uitgedruk word. Hieronder tel psigosomatiese reaksies, moedeloosheid, oorsensitiwiteit, skuldgevoelens, negatiewe denke, depressie en selfs kognitiewe dissonansie (Grobbelaar 2007:113–114; Nolte & Dreyer 2009:1). Hierdie reaksies belemmer alle aspekte van die bediening en het die kollektiewe fenomeen van bedieningsmoegheid tot gevolg.

Oor die afgelope twee dekades het daar talle Suid-Afrikaanse studies verskyn wat die risikofaktore verbonde aan die predikantsamp uitgewys het. Die leemte van hierdie navorsing was egter dat dit diagnosties eerder as terapeuties gerig was. Voorbeelde in hierdie verband is die navorsing van Kellerman (1991) en Roux (1992), wat slegs gefokus het op die oorsake van stres by predikante en stressors in die bediening, sonder om enige terapeutiese remedie aan die hand te doen. Dergelike navorsing is paslik afgesluit met ʼn opmerking soos: ‘Ook die kerk sal aan sy predikante in hierdie verband aandag moet gee’ (Kellerman 1991:297).

Tans wil dit voorkom of die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk nie sy verantwoordelikheid in hierdie verband na behore kan behartig nie, aangesien predikante in beduidende getalle die bediening verlaat. Volgens Bischoff en Schoeman (2000:120) het 290 NG Kerk predikante uit die bediening bedank in die periode tussen 1987 en 1997. Uit die gegewens van die 2010-Jaarboek van die NG Kerke blyk dit dat 411 predikante tans uit diens getree is. Wat hierdie syfer merkwaardig maak, is dat slegs enkele van hierdie uitgetredenes vir die bediening behoue gebly het deur byvoorbeeld betrokkenheid by teologiese opleiding2. Oor die welstand van die nagenoeg 1618 predikante wat met die ingang van 2010 in die NG Kerk gedien het, word dikwels kommer uitgespreek. In die nuuskolom van die Kerkbode van 20 Agustus 2010, word daar beweer dat predikante weens veranderende omgewingsfaktore toenemend in die randfigure van die samelewing verander het. Drastiese optrede, soos selfmoord, het reeds etlike predikante se lewens geëis (Jacobs 2010:14). Na beraming sal slegs sowat 20% predikante enduit in die bediening bly (Dreyer 2010:16), 80% sal oorgaan na ander beroepe of voortydig bedank.

In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat weë ontgin moet word waarlangs predikante bedieningsmoegheid kan bestuur en hopelik kan afweer. In hierdie verband het die Algemene Sinode van die NG Kerk ʼn tree in die regte rigting gegee deur die aanvaarding van die ‘A-tot-Z-Beleid aangaande predikante van die NG Kerk’3. Uit die oogmerke van hierdie beleid is dit duidelik dat die beleid as ʼn welheidsstrategie daargestel is om ʼn effektiewe en volhoubare bediening onder predikante te bevorder. Die program is aan predikante en gemeentes versprei onder die titel ‘Bedieningsvreugde met die A-tot-Z-Beleid aangaande predikante’ (eie kursivering), maar dit is opvallend dat mondelinge reaksie van predikante daarop dui dat hulle die aanbevelings van hierdie beleid as net ‘nog ʼn verpligting’ binne die bediening ervaar. Hierdie siening van predikante spruit veral uit die voortgesette bedieningsontwikkeling waarvoor predikante volgens die A-tot-Z-Beleid krediete moet verwerf, ten einde hulle bedieningsbevoegdheid te behou. Wanneer hierdie reaksie in ag geneem word, tree die belangrikheid van selfhulp op die voorgrond. Dit beteken dat predikante, benewens die maatreëls van die kerklike strukture, self strategieë en vaardighede moet ontwikkel waarmee hulle op ʼn deurlopende basis bedieningsmoegheid kan bestuur.

In die lig van die voorafgaande, het die navorsing van Labuschagne (2008) besondere aandag getrek. Labuschagne is ʼn oud-NG Kerk predikant wat weens verskeie nadelige bedieningsfaktore die amp as leraar neergelê het. Wat begin het as ʼn poging om ‘die storie agter die storie’ van predikante met bedieningsproblematiek te dokumenteer (Labuschagne 2008:157), het uiteindelik Labuschagne se persoonlike narratief van sy ervaring met die bediening geword. Hy het dit as doktorale proefskrif aangebied onder die titel: ‘Die ander vrou – ʼn outo-etnografiese studie van die beroepsbelewenis van ʼn predikant’. Na die beste van ons wete is dit die eerste outo-etnografiese studie waarin die beroepsbelewenis van ʼn NG predikant as doktorale studie aangebied is. Alhoewel Labuschagne hierdeur waardevolle insigte oor die uitdagings van die gemeentelike bediening deur predikante blootgelê het, meen ons veral dat die outo-etnografiese metodologie waarlangs die navorsing ontvou het, ʼn helende funksie vir die skrywer gehad het (Labuschagne 2008:281).

Dit is hierdie terapeutiese potensiaal van die outo-etnografiese benadering wat in die res van hierdie artikel verken sal word met die oog op die bestuur van bedieningsmoegheid by predikante.

Navorsingsmetodologie

Metodologies sal die navorsing binne die parameters van die praktiese teologie beweeg. Dit beteken dat die navorsing sy vertrekpunt vanuit die fenomeen van bedieningsmoegheid by predikante vind, maar dan gesien onder die sambreel van die groter narratief van predikante in hulle geloofsverhoudings met God, waarbinne daar baie lewensmoontlikhede bestaan. Müller (2005:73) merk in hierdie verband op dat praktiese teologie plaasvind ‘whenever and wherever there is a reflection on practice, from the perspective of the experience of the presence of God’ [waar en wanneer daar ‘n refleksie op praktyk is, vanuit die perspektief van die ervaring van die teenwoordigheid van God]. Cilliers (2009:634) bou hierop voort deur die sosiale vergestalting van geloof in ʼn prakties-teologiese benadering te bepleit (fides quarens societatem). In die verkenning van die navorsingsonderwerp sal die hermeneutiese sirkel (Osmer 2008) in gedagte gehou word. Hiervolgens is die taak van die praktiese teologie om vas te stel wat in ʼn bepaalde situasie aan die gang is, hoekom dit aan die gang is, wat aan die gang behoort te wees en hoe die betrokkenes op ʼn gegewe situasie behoort te reageer; met ander woorde, watter response geformuleer kan word ten einde tot ʼn nuwe praksis te kom.

In die lig van die inleidende opmerkings rondom bedieningsmoegheid by predikante, sal daar voorts veral op Osmer se laaste aspek van die prakties-teologies- hermeneutiese-sirkel gefokus word, naamlik hoe predikante op bedieningsmoegheid kan reageer deur outo-etnografie as ʼn bron van selfhulp te gebruik.

Outo-etnografie

Outo-etnografie geniet sedert die 1990s prominensie as ʼn kwalitatiewe navorsingsmetode. Dit is saamgestel uit die begrippe outo (self), etnos (kultuur) en grafie (skryf) en dui op die skryfproses aangaande persoonlike ervaring binne bepaalde omstandighede (Labuschagne 2008:148). Dit was onder andere die werk van Ellis, in haar boek Final Negotiations of Love, Loss and Chronic Illness (1995), wat hierdie benadering op die voorgrond geplaas het. In hierdie geskrif reflekteer die skrywer op haar persoonlike belewenis van haar eggenoot se siekte. In ‘n outo-etnografiese werkswyse staan die selfnarratiewe van individue voorop. ‘Autoethnography celebrates ... the individual story’ [Outo-etnografie vier ... die individuele verhaal] (Muncey 2005:7).

Chang (2008:46) wys daarop dat die begrip ‘outo-etnografie’ deur ‘n ontwikkelingsproses gegaan het waar die betekenis van die ‘outo’ of die self verander het. Aanvanklik, toe die begrip in die 1970s deur die antropoloog Heider (1975) bekendgestel is, het die ‘outo’ of die self na die sogenaamde informante of mede-outeurs van die outo-etnografiese proses verwys. Tans verwys ‘outo’ egter na die skrywer self. Richardson (2000:931) omskryf outo-etnografie derhalwe as ‘highly personalized, revealing texts in which authors tell stories about their own lived experience, relating the personal to the cultural’ [hoogs persoonlike, ontblotende tekste waarin outeurs verhale vertel oor hulle eie geleefde ervarings, waardeur die persoonlike en die kulturele verbind word]. Hierdie self-narratiewe kan uiteindelik binne die wetenskap aangewend word om bepaalde verskynsels te verstaan.

Die opkoms van outo-etnografie kan ten beste teen die agtergrond van ontwikkelinge binne die veld van kwalitatiewe navorsingsmetodologie verstaan word. Sedert kwalitatiewe navorsingsmetodologie as ʼn selfstandige dissipline naas die positivistiese kwantitatiewe wetenskapsbenaderings ontwikkel het (Mouton & Marais 1989:157), het dit op sigself gevestig as ʼn benadering wat die betekenis van menslike ervaring help omskrywe het (Strauss & Corbin 1998:11; Silvermann 2000:1). Hierdie ontwikkeling moet op sy beurt weer teen die agtergrond van die paradigmatiese migrasie na postmodernisme gesien word. Binne die postmoderne denkraamwerk het daar hoofsaaklik ’n verskuiwing plaasgevind na ’n voorkeur vir die subjektiewe bó die objektiewe; van ’n klem op die rede na ’n klem op die ervaring en ʼn algemene voorkeur vir die relativisme teenoor objektiewe sekerhede. So skryf McMinn en Hall (2000:251) byvoorbeeld dat ‘[p]ostmodernity has become a prepositional stance for philosophical reflection. Postmodernism, with its valuing of multiple ways of knowing, has ushered in new challenges for interpretation’ [postmodernisme het ‘n preposisionele houding vir filosofiese refleksie geword. Postmodernisme, met sy erkenning vir verskeie maniere van kennisversameling , het ‘n nuwe uitdaging vir interpretasie ingelei].

Denzin en Lincoln (2000:12) wys daarop dat die kwalitatiewe navorsingsmetodologie deur ʼn proses van ontwikkeling gegaan het, waardeur aanvanklike aansprake op objektiwiteit en kontroleerbaarheid in navolging van positivistiese wetenskapsbenaderings mettertyd laat vaar is. Hulle merk op dat ‘[t]he concept of the aloof observer has been abandoned’ [die konsep van die objektiewe waarnemer is laat vaar] (Denzin & Lincoln 2000:17). Hierdie ontwikkeling het momentum aan outo-etnografie as ʼn selfstandige benadering verleen, aangesien die narratiewe van individue toenemend as gesaghebbend deur die postmoderne wetenskapsbenadering beskou is in die soeke na die oplossing op probleme. Denzin en Lincoln (2000:17) voer in hierdie verband aan: ‘The search for grand narratives is being replaced by more local, small scale theories fitted to specific problems and particular situations’ [Die soektog na groot narratiewe word vervang deur meer persoonlike teoriëe wat toepaslik is vir spesifieke probleme en besondere omstandighede]. Langs hierdie weg, het outo-etnografie as selfstandige dissipline ontwikkel wat in verskeie wetenskaplike studies aangewend is en as geldige bydraes tot die wetenskap aanvaar is (vgl. Avraamides 2007; Ellis 1995; Labuschagne 2008; Sparkes 2002).

In hierdie selfde periode het die sogenaamde narratiewe benadering tot die oplossing van menslike problematiek op die voorgrond getree en is dit ontwikkel tot ʼn effektiewe terapeutiese benadering waarbinne die stories van individue as die sleutel tot verstaan en verandering ontgin is. In hierdie verband, is die titel van Epston en White (1990) se boek oor die narratiewe benadering, Narrative Means to Therapeutic Ends, beskrywend van die narratiewe rewolusie wat binne die kaders van die postmoderne Zeitgeist [tydsgees] plaasgevind het.

In hierdie benadering word die begrip narratief gebruik om aan te dui dat die mens se lewe as ʼn verhaal verstaan kan word en dat hierdie analogie vir terapeutiese doeleindes aangewend kan word. ʼn Narratief (verhaal) ontstaan volgens Morgan (2000:5) in mense se lewens na aanleiding van gebeure wat in volgorde oor tyd volgens ʼn bepaalde plot ontwikkel het. Mense leef hulle lewens en laat hulle verwagtings van die lewe aan die hand van hierdie verhale bepaal. Mense se lewens is egter multistoried [veelfasettig], wat behels dat ‘[t]here are many stories occuring at the same time and different stories can be told about the same events’ [daar is baie verhale wat op dieselfde tyd plaasvind en verskillende verhale kan oor dieselfde gebeure vertel word] (Morgan 2000:8). Hierbenewens word mense se lewensverhale medebepaal deur hulle lewenskonteks en kultuur. Hierdie sogenaamde sosiale diskoerse spreek ʼn bepaalde woord met lewensgebeure mee, om uiteindelik die verhaal te vorm aan die hand waarvan mense hulle lewens verstaan en interpreteer. Die belangrike uitvloeisel hiervan is egter dat die narratiewe van mense ook nou gesien word as die sleutel [means]) tot verstaan en verandering. Binne ʼn narratiewe benadering tot terapie word die terapeut instrumenteel in die daarstel van mense se narratiewe deur die aanwending van verskeie strategieë (vgl. Brunsdon 2009:2–3). Binne ʼn outo-etnografiese benadering is die navorsers instrumenteel in die daarstelling van hulle eie verhaal, oftewel self-narratief, wat uiteindelik instrumenteel kan wees in ʼn persoonlike helingsproses, terwyl daardie self-narratief ook waarde kan hê vir die wetenskap.

Ten spyte van hierdie positiewe ontwikkeling van outo-etnografie as ʼn kwalitatiewe navorsingsmetode, word dit nie sonder kritiek uit alle oorde aanvaar nie. Die grootste kritiek teen ʼn outo-etnografiese benadering kom verstaanbaar uit die tradisionele (positivistiese) benadering tot die wetenskap, waar groot waarde geheg word aan begrippe soos objektiwiteit, kontroleerbaarheid en verifikasie. Protagoniste van die positivistiese benadering bevraagteken in die lig van die kwantitatiewe paradigma die geldigheid van die bevindinge van ʼn kwalitatiewe benadering en beskou dit dikwels as ‘not valuable in the scientific community’ [nie waardevol vir die wetenskap nie] (Wall 2006:1). Veral die feit dat die navorser se self-narratief die objek van studie is, plaas die outo-etnografiese benadering in konflik met die tradisionele benadering tot wetenskap.

Hierdie kritiek diskwalifiseer egter geensins die wetenskaplike meriete van outo-etnografiese bydraes nie. Chang (2008:54) meen dat outo-etnograwe sinvolle bydraes kan lewer, indien hulle krities met hulle skryfwerk omgaan. Sy identifiseer byvoorbeeld vyf kritiese areas waaroor outo-etnograwe hulself gereeld moet verantwoord:

1. Het die skrywer en/of navorser nie oormatig op die self gefokus in isolasie van ander nie?
2. Het die narratiewe (skryf) proses nie te veel aandag verkry, ten koste van die analise en intepretasie van die kulturele faktore nie?
3. Het die skrywer en/of navorser net op sy of haar geheue as bron van kennis staatgemaak?
4. Het die skrywer en/of navorser deurlopend eties korrek opgetree ten opsigte van die verwysing na ander persone in die skryfproses?
5. Is die term outo-etnografie deurgaans korrek aangewend?

Hierbenewens is daar binne die kring van kwalitatiewe navorsing omvattende nabetragting oor ‘grounding qualitative research’ [die begronding van kwalitatiewe navorsing] (vgl. Flick 2002:218–237; McNiff & Whitehead 2006:129–173), waaraan outo-etnografiese bydraes ook getoets behoort te kan word. Hieronder tel beginsels soos die proseduriële betroubaarheid van die navorsing, of die inligting toepaslik sou wees in ʼn volgende situasie en in welke mate die bevindinge van die navorsing klop met die reeds bestaande kennis aangaande ʼn bepaalde onderwerp (Flick 2002:235).

Die kontroleerbaarheid van kwalitatiewe navorsing is egter nie so afgebaken soos binne ʼn kwantitatiewe benadering nie. Dit is daarom die taak van die outo-etnograaf om met etiese integriteit en met inagneming van die kwalitatiewe epistemologie oor ʼn bepaalde saak te skryf.

Outo-etnografie as terapeutiese hulpmiddel

Outo-etnografie word verkennend beskou in hierdie navorsing, hoofsaaklik omdat die vermoede bestaan dat dit terapeutiese waarde vir die outo-etnograaf inhou. As ʼn kwalitatiewe benadering, is outo-etnografie epistemologies interpretatief gegrond (Swinton & Mowat 2007:34). Dit wil bydra tot die proses van Verstehen [verstaan] (vgl. Bryman 2004:13), wat aansluit by die beginsel van konstruktivisme, wat meen dat kennis gekonstrueer word deur individue en gemeenskappe. Toegepas op die outo-etnografiese proses, beteken dit dat ‘the researcher will be involved with the research process, not as a distant observer, but as an active participant and co-creator of the interpretative experience’ [die navorser sal betrokke wees by die navorsingsproses, nie as ‘n objektiewe waarnemer nie, maar as ‘n aktiewe deelnemer en medeskepper van die interpretatiewe ervaring] (Swinton & Mowat 2007:35). Dit is hierdie ‘interpretative experience’ [interpretatiewe ervaring] wat in alle waarskynlikheid aan die outo-etnografiese proses ʼn helende funksie verleen.

Bogenoemde aanname berus enersyds op die waarneming dat outo-etnografiese studies oorwegend aan persoonlike of eksistensiële problematiek gekoppel is. Hier word gedink aan die baanbrekerswerk van Ellis (1995), Final negotiations of love, loss and chronic illness, waarin die outeur op weg gaan met die siekte van haar eggenoot. Labuschagne (2008) se proefskrif, ‘Die ander vrou – ʼn outo-etnografiese studie van die beroepsbelewenis van ʼn predikant’, waarby hierdie navorsing aansluiting vind, is in wese ʼn ‘interpretative experience’[interpretatiewe ervaring] van persoonlike verlies wat gely word in die gemeentelike bediening. Na ons mening, kan Gous (2005) se boek, Om die ondraaglike te dra, ook onder hierdie noemer gebring word. Hierin skryf Gous as ‘man en pa’ (Gous 2005:11) oor die selfmoord van sy 16-jarige dogter, Janie. Bydraes van Tillmann-Healy oor bulimie en Rambo Ronai oor die verstandelike gestremdheid van haar moeder in die versamelwerk van Bochner en Ellis (1996) bevestig verder dat daar ʼn duidelike verband tussen persoonlike problematiek en outo-etnografie in die kontemporêre literatuur bestaan. Andersyds berus ons aanname oor die terapeutiese waarde van outo-etnografie op die waarnemings van outo-etnograwe self. Die betrokke outeurs maak byvoorbeeld die volgende opmerkings oor hulle outo-etnografieë: ‘Because my research was helpful didn’t mean it lacked intellectual substance’ [Omdat my navorsing nuttig was, beteken nie dat dit mank gegaan het aan intellektuele inhoud nie] (Ellis [1995:308] oor Final negotiations of love, loss and chronic illness); ‘Ek is dankbaar. Dankbaar vir die voorreg om so ’n studie te kon doen. Vir die insig en genesing wat dit gebring het, maar ook vir die wete dat dit vir ander iets kan beteken’ (Labuschagne [2008:281] oor sy proefskrif); en ‘Ek het hierdie boek geskryf. Dit hoef nie gelees te word nie, dis klaar my genesing terwyl ek dit skryf’ (Gous 2005:176) oor Om die ondraaglike te dra.

Binne die interpretatiewe ervaring wat deur die outo-etnografiese skryfproses gefasiliteer word, is daar dus ʼn terapeutiese funksie opgesluit, wat verder in die artikel verken sal word.

Outo-etnografie as bydrae tot die wetenskap

Alvorens die terapeutiese waarde van outo-etnografie verder ontgin word, dien daar kortliks ʼn opmerking oor die wetenskaplike bydrae van outo-etnografie gemaak te word. Die vraag kan sekerlik gevra word of die byhou van ʼn dagboek of joernaal nie ook die navorsingsonderwerp goed kon dien nie. Sou predikante met bedieningsmoegheid nie goedskiks verligting van bedieningsmoegheid kon bewerk deur ʼn daaglikse dagboek by te hou van hulle ervaring van die bediening nie?

Duidelikheid oor hierdie kwessie kan verkry word deur ʼn onderskeid te tref tussen die byhou van ʼn joernaal [journal-keeping] en outo-etnografie. Die skryf van ʼn dagboek of ʼn joernaal is binne die teologiese wêreld nie ʼn vreemde verskynsel nie. Irvine (1997:192) wys daarop dat hierdie gebruik terug te voer is na die dae van die apostels, waar vroeë Christelike leiers dagboek gehou het van hulle reise en kontak met ander mense. Geestelike werkers word steeds tot hierdie gebruik aangemoedig ten einde tot ʼn geïntegreerde beeld ten opsigte van hulle eie bediening te kom (vgl. Irvine 1997:193; Kelsey 1989:116). Joernale is egter hoogs persoonlike en private dokumente. Dit skep juis ruimte vir, onder andere:

the ventilation of emotions and the feelings we have towards others ... This calls for a moving beyond social acceptability or spiritual piety to what is happening in reality at the centre of our being. [die ventilasie van emosies en die gevoelens wat ons teenoor ander het ... Dit vra vir ‘n beweging verby sosiale aanvaarbaarheid of geestelike vroomheid na wat besig is om te gebeur in die werklikheid, in die middelpunt van ons wese]. (Irvine 1997:195)

Daarom word vertroulikheid gewoonlik ook met die byhou van ʼn joernaal geassosieer en is dit nie vreemd dat die skrywers daarvan besorgd is oor wat daarmee gebeur na hulle dood nie (Irvine 1997:194). In die lig hiervan, kan daar gesê word dat ʼn joernaal ʼn baie persoonlike dokument is wat aan predikante ruimte bied vir ʼn persoonlike katarsis en hulle help om ʼn oorsig te kry oor hulle bediening soos wat tendense en patrone oor weke, maande en jare sigbaar word.

Binne die kwalitatiewe paradigma is skryfwerk ʼn erkende terapeutiese hulpmiddel. Hier word veral gedink aan briefwisseling tussen die terapeut en die persoon in narratiewe berading, waardeur die betekenis van sekere aspekte in persone se eie narratiewe blootgelê word (Penn & Frankfurt 1994:218; White & Epston 1990:34–37). Wat dadelik opval, is dat skryfwerk binne ’n interpretatiewe raamwerk sy private karakter verloor, aangesien dit in diens van ʼn hermeneutiese proses staan. Outo-etnografiese dokumente is derhalwe openbare dokumente. Dit is gegiet in ʼn suggestiewe genre en as sodanig is dit nie bedoel om slegs die skrywer se denke te stimuleer nie, maar ook dié van die leser. Die doel daarmee is juis om kommentaar uit te lok en gesprek te stimuleer, ten einde tot ʼn beter verstaan van ʼn bepaalde saak te kom (vgl. Labuschagne 2008:261–276). Uiteindelik wil dit lei tot teorievorming aangaande ʼn bepaalde fenomeen (McNiff & Whitehead 2006:240). Joernaalskrywing en outo-etnografie het derhalwe verskillende oogmerke: joernaalskrywing het ten doel om indirek net die skrywer daarvan tot hulp te wees, terwyl outo-etnografie die skrywer sowel as die leser tot hulp kan wees met die ontrafeling van bepaalde vraagstukke en sodoende ʼn wetenskaplike bydrae lewer.

In die geval van bedieningsmoegheid is dit juis die oogmerk dat die deskundiges oor die onderwerp (naamlik predikante) outo-etnografies met hulle bedieningservaring sal omgaan. Die voordele hieraan verbonde is dat kollegas daarby kan baat en die geestelike leierskorps van ons tyd daardeur versterk kan word in die oplossing van een van die skadu-kante van die hedendaagse bediening.

Outo-etnografie in teologiese konteks

Praktiese teologie en kwalitatiewe navorsing
Binne die parameters van hierdie prakties-teologiese navorsing is dit belangrik om outo-etnografie binne die teologiese konteks te plaas. Uit die voorafgaande paragrawe het duidelik geblyk dat outo-etnografie vanuit ʼn postmoderne epistemologie vertrek in soverre dit onder kwalitatiewe navorsing resorteer en interpretatief van aard is. Een van die hoofkenmerke van die postmoderne epistemologie is dat vaste konstrukte hulle plek verloor het en dat waarheid sosiaal gekonstrueer word (vgl. Andersen 1997:27; Piehl 2001:25). Die vraag wat hieruit voortspruit is of dit nie in konflik met ʼn prakties-teologiese epistemologie staan waarin die Skrif, as geopenbaarde waarheid aangaande God, ʼn sentrale plek het nie (vgl. Brunsdon & Janse van Rensburg 2008:25).

Na ons mening, behoort die aanwending van ʼn outo-etnografiese benadering nie in konflik met ʼn prakties-teologiese benadering te staan nie. In terme van die vroeëre diakoniologiese benadering, wat (tesame met die bibliologiese vakke) die Bybel as primêre vertrekpunt gehad het, sou daar vermoedelik sprake van onversoenbaarheid en botsing kon wees, veral wanneer die diakoniologiese epistemologie aanleiding tot ʼn biblisistiese Skrifgebruik gegee het. Die migrasie na ʼn prakties-teologiese epistemologie het egter ʼn duidelike epistemologiese skuif verteenwoordig, wat meer erns met die menslike ervaring binne die praktiese teologie wou maak. Tans word aanvaar dat praktiese teologie as handelingswetenskaplike benadering sy vetrekpunt vanuit die menslike (geloofs)ervaring vind en dat die praktiese teologie ‘takes human experience seriously’ [menslike ervaring ernstig opneem] (Swinton & Mowat 2007:5). Dreyer (1998) se toeligting van praktiese teologie is hier toepaslik:

A new practical theology with a new focus emerged ... its scope no longer that of pastoral theology ... Whereas the old practical theology mainly applied the results of exegesis or dogmatics, which is often called a deductive or applied approach, the new practical theology had to seek a methodology or methodologies to study the lived religion in its explicit and implicit multiplicity ... The result was an ... adoption of social-scientific methods to carry out ... research within a practical theological framework. [‘n Nuwe praktiese teologie met ‘n nuwe fokus het na vore gekom ... die omvang daarvan nie meer dit van pastorale teologie nie ... Waar die ou praktiese teologie hoofsaaklik die resultate van eksegese of dogmatiek, wat gereeld ‘n deduktiewe of toegepaste aanslag genoem word, moes die nuwe praktiese teologie ‘n metodologie of metodologiëe soek om die geleefde godsdiens in sy eksplisiete en implisiete verskeidenheid te bestudeer ... Die gevolg was ‘n ... aanneming van sosiaal-wetensaplike metodes om ... navorsing binne ‘n praktiese teologiese raamwerk uit te voer.] (Dreyer 1998:14–15)

Dit is veral die frase ‘adoption of social-scientific methods to carry out ... research within a practical theological framework’ [aanneming van sosiaal-wetensaplike metodes om ... navorsing binne ‘n praktiese teologiese raamwerk uit te voer] wat hier belangrik is. Dit beklemtoon dat outo-etnografie binne ʼn prakties-teologiese paradigma aangewend kan word. In die geval van hierdie navorsing kom dit daarop neer om die verhaal van die predikant met bedieningsmoegheid op die tafel te kry en te interpreteer. ʼn Prakties-teologiese paradigma impliseer egter dat die fenomeen wat bestudeer word, juis ook in die lig van die Skrif en die kerklike tradisie beskou sal word4. Wanneer dit gebeur, word daar voorkom dat iets wat as ʼn teologiese onderneming begin het, as ʼn bloot sosiaal-wetenskaplike bydrae eindig. Praktiese teologie is immers teologiese refleksie. Die ernstige blik op die menslike teks is volgens Swinton en Mowat (2007):

not to suggest that human experience is a locus for fresh revelation, that will counter or contradict the script provided by scripture ... it is however to recognize that questions ... always emerge from some context [nie om voor te stel dat menslike ervaring ‘n lokus van vars openbaring is nie, wat die teks wat deur die Skrif gebied word sal tëegaan en weerspreek nie ... dit is, alhoewel, om te erken dat vrae ... altyd vanuit ‘n konteks ontstaan]. (Swinton & Mowat 2007:7)

Outo-etnografie in Skrifkonteks
In die lig van die voorafgaande opmerkings oor die plasing van outo-etnografie binne ʼn prakties-teologiese konteks, dien enkele opmerkings oor outo-etnografie in Skrifkonteks gemaak te word. Sodanige opmerkings berus op die vraag of daar enige Skriftuurlike raakpunte tussen ʼn outo-etnografie en die Skrif is.

Indien aanvaar word dat ʼn outo-etnografie in wese ’n self-narratief is, is dit moontlik om daardie self-narratief teen die agtergrond van die Skrif as God se meta-narratief te lees, om so tot verstaan van die eie narratief te kom. Binne die raamwerk van die praktiese teologie is dit inderdaad moontlik om ʼn fusie tussen die Godverhaal en die mensverhaal te bewerk binne die kaders van byvoorbeeld ʼn narratiewe benadering (vgl. Brunsdon 2009).

Hierdie tese word versterk deur die self-narratiewe te lees in die lig van Skrifgedeeltes soos Psalm 42 en Psalm 43, wat self sterk outo-etnografiese trekke van ander gelowiges vertoon en wat besliste potensiaal het as stof waarteen die eie narratief verstaan kan word.

Enkele praktykgerigte opmerkings met betrekking tot predikante met bedieningsmoegheid wat outo-etno-grafie as selfhulp oorweeg

Van pre-narratief na narratief
Predikante wat oorweeg om outo-etnografies met hulle bedieningsverhaal om te gaan, mag tot hulle verbasing ontdek dat die skryf van die eie verhaal nie maklik is nie. Alhoewel daar verskeie redes hiervoor kan bestaan, wys Ganzevoort (2001:132) op die moontlikheid dat ʼn persoon in ʼn sogenaamde ‘pre-narratiewe’ toestand kan verkeer, hetsy omdat hulle as gevolg van trauma nie hulle verhaal onder woorde kan bring nie, of omdat hulle nie vaardig binne die narratiewe kultuur is nie. Predikante behoort na ons mening egter oorwegend vaardig te wees in die narratiewe kultuur, aangesien skryf ʼn groot deel van hulle roeping behels. Die skryf van preke is onder andere hier ter sprake, aangesien die meeste predikante verantwoordelik is vir die skryf van ten minste een preek per week. Voorts het die publikasie van preke op gemeentes se webwerwe en in nuusbriewe ook baie predikante verplig om onderlê te wees in basiese skryfmetodiek. Die meer waarskynlike rede vir pre-narratiwiteit by predikante sal daarom eerder die onvermoë wees om eie gevoelens onder woorde te bring, omdat predikante gekondisioneer is om diskreet te wees en nie gewoond is aan ondersteuningstelsels wat die verbalisering van eie belewenisse fasiliteer nie (Grobbelaar 2007:116). Hierdie pre-narratiewe fase kan oorkom word deurdat predikante hulleself ten minste op papier begin uitdruk, al sou dit eers in joernaalformaat wees.

Metodiek
Terwyl dit waar is dat outo-etnografie ʼn wetenskaplike dissipline is, behoort dit nie predikante daarvan te weerhou om outo-etnografiese vaardighede aan te leer nie. Bronne van navorsingsmetodiek en in besonder, kwalitatiewe navorsingsmetodiek wat voornemende studente stap vir stap begelei, is legio. Soos die weergee van kwalitatiewe navorsing, is outo-etnografie ʼn toeganklike en aanleerbare metodiek (vgl. Chang 2008; McNiff& Whitehead 2006:186; Richardson 2000:923; ). Dit verg nie ʼn spesifieke aanleg, soos byvoorbeeld die vermoë om te dig of te komponeer, nie.

Fragmente of ʼn hele verhaal
Die vraag ontstaan vervolgens met watter aspek van die predikant se verhaal hy of sy outo-etnografies behoort om te gaan. Die kompleksiteit van bedieningsmoegheid suggereer dat nie alle predikante, soos in die geval van Labuschagne (2008), hulle hele bedieningservaring outo-etnografies sal kan verwoord nie. Bedieningsmoegheid is die resultaat van ʼn verskeidenheid faktore en die faktore waarmee predikante die meeste worstel, kan bepaal watter verhale vertel behoort te word en in watter aspekte van die verhaal insig via die outo-etnografiese aktiwiteit verkry behoort te word. Konflik, eensaamheid, teleurstelling, die verwerking van eie rousmart oor gestorwe gemeentelede en so meer kan fragmente word waarmee outo-etnografies omgegaan word.

Slotsom

Hierdie artikel verteenwoordig ’n verkenning van outo-etnografie as selfhulp vir predikante met bedieningsmoegheid. Dit het vertrek vanuit die tese dat bedieningsmoegheid, as ’n kombinasie van uitbranding en medelyemoegheid, by predikante ʼn gegewe is. In die afwesigheid van ondersteuningstelsels sal predikante erns moet maak om eienaarskap vir die hantering en bestuur van bedieningsmoegheid te aanvaar. Labuschagne (2008) se outo-etnografiese studie van die beroepsbelewenis van ʼn predikant het die potensiaal van hierdie benadering uitgelig. Daar is ook aangetoon dat outo-etnografie oor terapeutiese potensiaal beskik vir die outo-etnograaf wat dit aanwend om die eie narratief binne die groter narratief van God se betrokkeneid by die mens te verstaan. Wanneer outo-etnografies te werk gegaan word, word daar terselfdertyd inligting aan die wetenskap beskikbaar gemaak wat kan lei tot teorievorming ten opsigte van bepaalde verskynsels. Ons vertrou dat hierdie navorsing predikante met bedieningsmoegheid sal aanmoedig om hulle verhale of fragmente daarvan te begin vertel, sodat dit tot groter begrip van die verskynsel van bedieningsmoegheid sal lei en moontlik sal uitmond in verdere navorsing en publikasies.

Literatuurverwysings

Andersen, W.T., 1997, The future of the self: Inventing the postmodern person [Die toekoms van die self: Om die postmoderne persoon uit te vind], Putman, New York, NY.

Avraamides, M., 2007, ‘A diamond or a stone? Using autoethnography to make sense of my industrial psychology internship’ [‘n Diamant of ‘n steen? Gebruik outo-etnografie om sin te maak van my industriële sielkundige internskap], ongepubliseerde doktorale verhandeling, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika.

Bisschoff, J. & Schoeman, K., 2000, Kerkspieël, 6de uitg., Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Breytenbach, M.C., Wilders, C.J., Strydom, G.L. & Breytenbach, H.S., 2005, ‘Fisieke en psigo-emosionele gesondheidsbedreigings vir die NG predikant met betrekking tot gemeentedemografie’, NGTT 46(1&2), 55–68.

Brunsdon, A.R., 2009, ‘Troos as unieke uitkoms in ʼn pastoraal-narratiewe benadering tot rousmart’, HTS Teologiese Studies 65(1), Art. # 275, 7 pages. doi:10.4102/hts.v65i1.275

Brunsdon, A.R. & Janse van Rensburg, J., 2008, ‘Kanker tydens aftrede- ʼn narratiewe benadering’, NGTT 49(3&4), 25–39.

Bryman, A., 2004, Social research methods [Sosiale navorsingsmetodes], 2nd edn., Oxford University Press, Cape Town.

Bybelmedia, 2008, Bedieningsvreugde met die A-tot-Z-beleid aangaande predikante van die NG Kerk 2008. Handleiding en Interaktiewe CD Rom, 2008, CD-ROM, Bybel-Media, Wellington, Suid-Afrika.

Chang, H., 2008, Autoethnography as method [Outo-etnografie as metode], Left Coast Press, Walnut Creek, CA.

Coetzer, W., 2004, ‘“Medelyemoegheid” – die hantering van sekondêre traumatiese stres’, Koers 69(2), 199–219.

Cilliers, J., 2009, ‘“Fides quarens societatem”: Praktiese teologie op soek na sosiale vergestalting’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4), 624–638.

Die Kerkbode, 2010, ‘Predikante het randfigure in die samelewing geword’, Die Kerkbode 185(3 & 4).

Denzin, D.K. & Lincoln, Y.S., (eds), 2000, Handbook of qualitative research [Handboek van kwalitatiewe navorsing], 2nd edn., SAGE Publications, London, UK.

Dreyer, B.J. v R., 2010, ‘Huisbesoek kan dominees gesond hou’, Die Kerkbode, 05 Maart, p. 16.

Dreyer, J.S., 1998, ‘The researcher and the researched: Methodological challenges for practical theology’ [Die navorser en die nagevorsde: Metodologiese uitdagings vir praktiese teologie], Praktiese Teologie in Suid-Afrika 13(1), 14–27.

Ellis, C., 1995, Final negotiations of love, loss and chronic illness [Finale onderhandelings met liefde, verlies en chroniese siekte], Temple University Press, Philadelphia, PA.

Flick, U., 2002, An introduction to qualitative research [‘n Inleiding tot kwalitatiewe navorsing], 2nd edn., SAGE Publications, London, UK.

Ganzevoort, R.R., 2001, Reconstructies: Praktisch-theologisch onderzoek naar de verhalen van mannen over seksueel misbruik en geloof [Rekonstruksies. Praktiese teologiese ondersoek na die verhale van mans oor seksuele misbruik en geloof], Kok,Kampen (Kamper Studies), NL.

Gous, H., 2005, Om die ondraaglike te dra, CUM Christelike Uitgewersmaatskappy, Paarl.

Grobbelaar, K.G., 2007, ‘Hulpverlening tot streshantering by predikante van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (GKSA): ʼn Pastorale studie’, ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika.

Groenewald, P., 2006, Misdaad maak boerdery in Suid-Afrika die gevaarlikste, besigtig 24 Maart 2010, van http://www.vryheidsfront.co.za

Irvine, A.R., 1997, Between two worlds. Understanding and managing clergy stress [Tussen twee wêrelde. Die verstaan en bestuur van stress by predikante], Mowbray, London, UK.

Jacobs, L., 2010, ‘Wanneer dominees nie meer kans sien nie’, Die Kerkbode 185(3), 14.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2010, Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke 2010, uitgawe 161, Tydskriftemaatskappy, Wellington.

Kellerman, J.S., 1991, ‘Die oorsake van werkstres by die predikant’, NGTT 32(2), 290–298.

Kelsey, M., 1989, Reaching. The journey to fulfilment [Uitreik. Die reis na vervulling], Augsburg Publishing House, Minneapolis, MN.

Labuschagne, J.N.R., 2008, ‘Die ander vrou – ʼn Outo-etnografiese studie van die beroepsbelewenis van ʼn predikant’, ongepubliseerde PhD-proefskrif, Dept. Menslike Hulpbronbestuur, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika.

Lotter, G.A., 2007, ‘Pastorale teologie: Voëlvlug en (voorlopige) landing’, Intreerede, Noordwes-Universiteit,Potchefstroom.

McMinn, M.R. & Hall, T.W., 2000, ‘Christian spirituality in a postmodern era’ [Christelike spiritualiteit in die postmoderne era], Journal of Psychology and Theology, 28(4), 251–253.

McNiff, J. & Whitehead, J., 2006, All you need to know about action research [Alles wat jy moet weet oor aksie-navorsing], SAGE Publications, London, UK.

Morgan, A., 2000, What is narrative therapy? [Wat is narratiewe terapie?], Dulwich Centre Publications, Adelaide, SA.

Mouton, J. & Marais, H.C., 1989, Metodologie van die geesteswetenskappe: Basiese begrippe, J.C. Insto-Print, Pretoria.

Muncey, T., 2005, ‘Doing auto-ethnography’ [Om outo-etnografie te doen], International Journal of Qualitative Method 4(3), Article 5, viewed 04 October 2010, from http://www.ualberta.ca/~iiqm/backissues/4_1/pdf/muncey.pdf

Müller, J., 2005, ‘A postfoundationalist, HIV-positive practical theology’ [‘n Post-fundamentalistiese, HIV-positiewe praktiese teologie], Praktiese Teologie in Suid-Afrika 20(2), 72–88.

Nolte, P.S. & Dreyer, Y. 2009, ‘Pastors as gewonde genesers: Outobiografiese pastoraat as heelmiddel vir emosionele verwonding en verlamming by pastors’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #158, 9 pages. doi:10.4102/hts.v65i1.158

Osmer, R.R., 2008, Practical theology: An introduction [Praktiese teologie: ‘n Inleiding], Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Penn, P. & Frankfurt, M., 1994, ‘Creating a participant text: Writing, multiple voices, narrative multiplicity’ [Om ‘n deelnemende teks te skep: Skryf, veelduldige stemme, narratiewe veelvuldigheid], Family Process 33, 217–231. doi:10.1111/j.1545-5300.1994.00217.x, PMid:7828707

Piehl, R.O., 2001, ‘Narrative therapy and the Christian counselor. Necessary precautions’ [Narratiewe terapie en die Christelike berader. Belangrike voorsorgmaatreëls], Christian Counseling Today 9(3), 25–28.

Rambo Ronai, C., 1996, ‘My mother is mentally retarded’ [My moeder is verstandelik gestremd], in A.P. Bochner & C. Ellis (eds), Composing ethnography. Alternative forms of qualitative writing, pp. 109–131, Altamira Press, Walnut Creek, CA.

Richardson, L., 2000, ‘Writing. A method of inquiry’ [Skryfwerk. ‘n Metode van ondersoek], in D.K. Denzin & Y.S. Lincoln (eds), Handbook of qualitative research, 2nd edn., pp. 923–948, SAGE Publications, London, UK.

Roux, G.B., 1992, ‘Stressore in die bediening en die effek daarvan op spesifieke persoonlikheidsaspekte van die predikant’, NGTT 33(2), 225–231.

Solidariteit, 2007, Jou werk ʼn tikkende tydbom, besigtig 24 Maart 2010, van http://www.solidaritysa.co.za/ Tuis/wmview.php?ArtID=1174

Swinton, J. & Mowat, H., 2007, Practical theology and qualitative research [Praktiese teologie en kwalitatiewe navorsing], SCM Press, London, UK.

Silvermann, D., 2000, Doing qualitative research [Om kwalitatiewe navorsing te doen], SAGE Publications, London, UK.

Sparkes, A.C., 2002, Telling tales in sport and physical activity. A qualitative journey [Verhaalvertelling in sport en fisiese aktiwiteit. ‘n Kwalitatiewe reis], Human Kinetics, Leeds, UK.

Strauss, A. & Corbin, J., 1998, Basics of qualitative research [Basiese beginsels van kwalitatiwe navorsing], 2nd edn., SAGE Publications, California, CA.

Tillmann-Healy, L.M., 1996, ‘A secret life in a culture of thinness. Reflections on body, food and bulimia’ [‘n Geheime lewe in ‘n kultuur van slankheid. Nadenke oor die liggaam, voedsel en bulimie], in A.P. Bochner & C. Ellis (eds), Composing ethnography. Alternative forms of qualitative writing, pp. 76–108, Altamira Press, Walnut Creek, CA.

White, M. & Epston, D. 1990, Narrative means to therapeutic ends [‘n Narratiewe benadering tot terapie], W.W.Norton & Company, New York, NY.

Zerfass, R., 1974, ‘Praktische teologie as handelungswissenschaft’ [Praktiese teologie as handelingswetenskap], in F. Klostermann & R. Zerfass, Praktische Theologie heute, pp. 164–177, Kaiser, Munchen.

Footnotes

1.Hierdie beroepe is uitgewys as lewensgevaarlik, aangesien die kanse goed is om fisies gedood te word in die beoefening daarvan (vgl. Anon 2007:1–3; Groenewald 2006:1).

2.Die Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke verskyn jaarliks as ’n inligtingsbundel waarin, onder andere, die gegewens van die verskillende NG Gemeentes, Ringe, Sinodes, Teologiese Inrigtings en leraars verskyn. Die afdeling ‘Leraars – Ned Geref Kerk – Uitgetrede leraars’ (2010:338–347) dui aan watter leraars uit die gemeentelike bediening getree het.

3.Die ‘A-tot-Z-Beleid’ is in 2007 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk goedgekeur en per interaktiewe CD-Rom aan gemeentes en leraars beskikbaar gestel vir implementering.

4.Vergelyk in hierdie verband onder meer die prakties-teologiese modelle van Zerfass (1974), Lotter (2007), Swinton en Mowat (2007) en Osmer (2008). Elkeen van hierdie modelle maak voorsiening daarvoor dat die navorsingsonderwerp in die lig van die Skrif en die kerklike tradisie beskou word.

 

Cited-By

1. The impact of Christian Higher Education on the lives of students and societies in Africa
Petria M. Theron
Koers - Bulletin for Christian Scholarship  vol: 78  issue: 1  year: 2013  
doi: 10.4102/koers.v78i1.60

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 1609-9982 (print) | ISSN: 2074-7705 (online)

Connect on: Facebook, Twitter, Google+, LinkedIn and YouTube

Subscribe to our newsletter

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license, unless otherwise stated.

Website design & content: ©2016 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS Publishing | Empowering Africa through access to knowledge
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

publishing(AT)aosis.co.za replace (AT) with @

Please read the privacy statement.