Book Information

Title:
Ignatius of Antioch – A martyr bishop and the origin of episcopacy

Authored by:
Allen Brent

ISBN:
978-0-567-22264-0

Publisher:
Gütersloher Verlagshaus (a division of Verlagsgruppe Random House), Güterloher; 2006, pp. 207, € 19.95*
*Book price at time of Review

Book Review information

Reviewer:
Peter Nagel

Affiliation:
Departement Nuwe Testament, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika

email:
peter.nagel@up.ac.za

Postal address:
Posbus 578, Lanseria 1748, Suid-Afrika

How to cite this article:
Posbus 578, Lanseria 1748, Suid-Afrika

Copyright Notice:
©2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 0038-2353 (print)
ISSN: 1996-7489 (online)

Ignatius van Antiochië – ‘n nuwe blik op ‘n ou kerkvader

Allen Brent, ‘n voormalige geaffilieerde professor in Geskiedenis by die Universiteit van Noord-Queensland, Australië, is tans ‘n lid van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Cambridge in Groot-Brittanje. Brent poog om Joseph Lightfoot en Theodore Zahn van Duitsland se konsensus oor die sogenaamde sewe ‘egte’ briewe (oftewel middle recension) van Ignatius te bespreek aan die hand van primêre bronne wat in die loop van die 20ste eeu verskyn het en dus nie vir Lightfoot en Zahn toeganklik was nie. In ‘n vorige publikasie, Ignatius of Antioch and the Second Sophistic (STAC 36; Mohr Siebeck, 2006), steun Brent sterk op epigrafiese bronne om die kultuur van die Hellenistiese stadstate in Klein-Asië te konstrueer waarbinne Ignatius se begrip van die kerkorde beoordeel en verstaan behoort te word. Brent se jongste publikasie bou voort op hierdie beredeneerde lyn van interpretasie, en het ten doel om die inhoud van sy vorige werk vir ‘n groter publiek toeganklik te maak.

Die inhoud van die publikasie word in sewe hoofstukke vervat wat Brent se benadering duidelik weergee. Hy wil Ignatius van Antiochië toeganklik maak deur hom op die primêre bronne tot sy beskikking te beroep. Met die eerste hoofstuk gee Brent ‘n breedvoerige dog kompakte inleiding tot die vasstelling van Ignatius se ‘egte’ briewe. Hy verwys bepaald na die verskyning van die historiese kritiek, en daarmee saam bronkritiek, wat die herbeoordeling van Ignatius en sy briewe gestimuleer het. Hy keer terug na hierdie aspek in hoofstukke 5 en 6 – waarin hy onder andere die onlangse betwyfeling van Ignatius se literêre korpus hanteer (hoofstuk 5) – waarná hy die argument vir ‘n middle recension, oftewel die sewe ‘egte’ briewe van Ignatius, ondersteun deur die verwantskappe tussen Polikarpos en Ignatius te beklemtoon. Brent bied ‘n deeglike en breedvoerige hantering van huidige argumente vir én teen ‘n short, middle en long recension (laasgenoemde verwys na die sogenaamde 13 ‘egte’ briewe van Ignatius).

Die inleidende bydrae oor die agtergrond waarteen Ignatius, die biskop van Antiochië, verstaan behoort te word, wat ook die teks vir lesers toeganklik maak, lê opgesluit in hoofstukke 2 tot 4. In hoofstuk 2 word Ignatius en sy worsteling met die kerklike orde in Antiochië bekend gestel. Brent probeer hiermee aandui dat Ignatius op sowel kerklik-sosiale as polities-kulturele gebiede beweeg het ten einde die eenheid van die Kerk te bewerkstellig – nie net in Antiochië nie, maar ook in Klein-Asië. Die manier waarop Ignatius sy ‘meesterplan’ bewimpel om in die polities-ekonomiese en godsdienstig-kulturele konteks van sy tyd eenheid te verwesenlik, word in hoofstuk 3 aangebied. Die leser kry as’t ware ‘n blik op die psige van Ignatius, en leer ken hom as neuroties-fanaties oor kerklike rangorde en die episkopale rang en bestuur van die Kerk van Christus, teen die agtergrond van sy strewe na kerklike eenheid.

Dit is egter hoofstuk 4 wat die leser laat insien en begryp waarvoor Ignatius hom beywer het en watter benadering hy gekies het om sy ideaal te verwesenlik. Die prosessie van Ignatius se martelaarskap na Rome word belig deur ‘n verband te lê tussen die prosessielede, die amptenare, boodskappers en kerklike verteenwoordigers, en die Hellenistiese afgodeprosessie waartydens ‘n dier aan een of ander godheid geoffer moes word ter vereffening van die aanbidders se skuld. Ignatius word dus die sondebok, die offer, die martelaar wat op ‘n altaar in Rome geoffer moet word om eenheid deur ‘n biskoplike bestel te verwesenlik.

Daar is waardering vir die feit dat Brent nie ou argumente wil afstof en op ‘n nuwe manier aanbied nie. Hy wend die primêre bronne verantwoordelik aan om die leser voldoende insig te bied om Ignatius en die agtergrond waarteen hy as biskop van Antiochië verstaan en beoordeel kan word, te begryp. Brent se bydrae oor die Hellenistiese godsdiens, met bepaalde verwysing na die Second Sophistic (die beweging vir heidense Hellenistiese eenheid) vir die verwesenliking van homonoia tussen stadstate in die Romeinse ryk, en daarmee saam ook die gode, synde die agtergrond waarteen Ignatius se offer vir eenheid binne die ekklesia verstaan behoort te word, is van groot waarde en word geslaagd aangebied. Mark Edwards (dosent in Patristiek aan die Universiteit van Oxford) reken ook so en merk tereg op: ‘This book is the best available introduction to the world of Ignatius of Antioch.’



Crossref Citations

No related citations found.