Article Information

Author:
Hennie J.C. Pieterse1

Affiliation:
1Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika

Correspondence to:
Hennie Pieterse

email:
pietehjc@absamail.co.za

Postal address:
Maraisstraat 262, Brooklyn 0181, Suid-Afrika

Keywords
gebrek aan aktuele prediking; hermeneutiese homiletiek; H-G Gadamer en Paul Ricoeur; oorheersing van teks of leser in die verstaansproses; vrugbare spanning tussen teks en leser op gelyke vlak

Dates:
Received: 22 Apr. 2010
Accepted: 24 Aug. 2010
Published: 22 Nov. 2010

How to cite this article:
Pieterse, H.J.C., 2010, 'Die dialektiek tussen leser en teks: 'n Gesprek oor hermeneutiese homiletiek', Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #391, 6 pages. DOI: 10.4102/ve.v31i1.391

Note:
Hierdie artikel maak deel uit van 'n projek met finansiíle steun van die Nasionale Navorsingstigting.

< Copyright Notice:
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 1609-9982 (print)
ISSN: 2074-7705 (online)

Die dialektiek tussen leser en teks: ‘n Gesprek oor hermeneutiese homiletiek
In This Original Research...
Abstract
Inleiding
Die spanning tussen die kategorieë ‘leser’ en ‘teks’
   • Hermeneutiese benaderinge met die klem op die teks as uitgangspunt
    • Die naïewe lees van die Bybel
    • Die suiwer historiese kritiek
    • Struktuur-analitiese metodes
   • Hermeneutiese benaderinge met die klem op die leser as uitgangspunt
    • Schleiermacher en die subjektiewe belewing van die saak van die teks
    • Dilthey se objektiewe psigologiese hermeneutiek deur die leser en die outeur van die teks se lewenservaring te verstaan
Leser en teks as twee kategorieë in vrugbare spanning in die hermeneutiese proses
   • Hermeneutiese homiletiek gebaseer op Gadamer en Ricoeur
    • Die insigte van H-G. Gadamer
    • Paul Ricoeur se dialektiek tussen leser en teks
Helder, eksistensiële kennis van die eie konteks van die gemeente en haar wêreld
   • Die kunste as venster op die ervare wêreld van die gemeente en die prediker
   • Die liturgiese situasie waarin die preek geskied
   • Die sosiale, politieke, kulturele en ekonomiese konteks van die gemeente
   • Die persoonlikheid, Godsbeeld en gemoedstoestand van die toehoorders
Gevolgtrekking
Literatuurverwysings
Abstract

Dialectics between reader and text: A discussion on hermeneutical homiletics

The fundamentalist reaction to contemporary theological discourse in South Africa expresses the need for homiletics to give serious attention to the pre-understanding of our existential situation in order to understand the Biblical text for preaching. Empirical research shows that most preachers concentrate on exegesis in sermon preparation, but do not succeed in actualising the message of the text in their own context. In homiletics, the question still remains whether the own context of the reader of a Biblical text should be seen as an integral part of the hermeneutical-homiletical theory. This article argues that there is a creative tension between reader and Biblical text in the hermeneutical process of sermon preparation, provided the two are treated equally. Because either the text or the reader sometimes dominates the process of understanding, a choice is made for an equal dialectical weight of reader and text in hermeneutical-homiletics, referring to H-G. Gadamer and Paul Ricoeur as sources. This approach opens up the possibility of topical preaching as a result of a creative tension between reader and text in sermon preparation.

Inleiding

Wanneer 'n mens in die koerant die briewe oor aktuele sake lees waarin mense so fundamentalisties op die huidige teologiese gesprek reageer, besef jy dat die prediking sokkies sal moet optrek om ons lidmate so te bedien dat hulle groter insig in die betekenis van die Bybeltekste in ons eie konteks kry. Hierin kan die prediking immers 'n groot rol speel. Teologies gaan dit oor die hermeneutiese homiletiek. Op die vakgebied van die homiletiek is daar in hierdie opsig geen beter gespreksgenoot as Cas Vos nie.

Prof. C.J.A. Vos het sowel nasionaal as internasionaal 'n formidabele bydrae tot die homiletiek en liturgiek gemaak [vgl. onder andere sy Die Volheid daarvan I & II (1996); Hoe lieflik is U woning (1997); Theopoetry of the Psalms (2005)]. Hy het ewe belangrike insette gelewer in die beskrywing van die teorie en praktyk van die preekvoorbereidingsproses. Sy beskrywing van die hermeneutiese spiraalsirkel as hermeneutiese omgang met die teks is uitstekend (Vos 1996:2-4,5-118). Wat die versigtige leser van 'n teks egter opval, is dat die hermeneutiese teorie en sy konsepte, waarin die verstaan van die eie konteks en die konteks van die teks samestellende dele van die homiletiese verstaansproses uitmaak, hier in enkele bladsye beskryf word (Vos 1996:2-4). Die eksegetiese teorie en proses (as èèn samestellende deel van die hermeneutiese proses in die homiletiek) word in 114 bladsye beskryf, wat inderdaad vir die deursneeprediker goud werd is. Hy lê dieselfde klem op die teorie van die eksegese wanneer hy die praktyk van die eksegese met die oog op die preek beskryf (Vos 1996:239-252). Wanneer hy terugkom tot die hermeneutiese teorie met die oog op preekvoorbereiding in die eie konteks, lê hy die swaarste klem op die ideologiese kritiek aan die hand van die hermeneutiek van suspisie, met die oog op 'n oop gemoed in die ontmoeting met die teks (Vos 1996:3; Vos 2008). Die konteks van die liturgie word deurgaans in sy werk beklemtoon, en dan word veral deeglike eksegese as vereiste vir 'n goeie preek voorgehou. Die eksegese ontvang die swaarste klem in die proses. Hiermee het Vos ons 'n groot guns bewys. Ons Reformatoriese teologiese uitgangspunt ís tog dat die preek 'n verwoording van die teks se boodskap in ons konteks is. Vir 'n prediker is dit van onskatbare belang om hierdie grondige eksegetiese weg by Vos aan te leer.

Tog ontstaan die vraag waarom die voorverstaan van die eie konteks nie soveel aandag kry in die hermeneutiese teorie met die oog op die preek nie. Dit is al jare lank, so ver terug as wat 'n mens kan onthou, opvallend in die preke wat studente maak dat hulle goeie eksegese beoefen, maar dit moeilik vind om die konteks aan te roer. 'n Empiriese ondersoek van 105 preke deur NG predikante uit verskillende opleidingsagtergronde, en van verskillende ouderdomme en opleidingsvlakke, toon dat 32.4% van die preke Skrifgeoriínteerd is (dus eksegese sonder noemenswaardige aktualisering), 17.1% situasiegeoriínteerd (dit wil sê toepassing in die konteks sonder noemenswaardige eksegese), 39.0% aktueelgeoriínteerd (dit wil sê goeie eksegese en goeie aktualisering in die gemeente se konteks) en 12.4% onklassifiseerbaar (Pieterse 1986:69). 'n Noemenswaardige aantal predikante beklemtoon dus die eksegese in die preek, dog slaag nie in die aktualisering van die boodskap nie omdat hulle nie die konteks goed verreken nie, alhoewel hulle al lank in die bedieningspraktyk staan. 'n Mens vermoed dit is vandag steeds die geval.

In sy uitmuntende boek oor die Psalms (Vos 2005) gee Vos meer aandag aan die verstaan van die eie konteks met die oog op 'n sinvolle verstaan van die teks in vandag se situasie. Volgens hom is die kunste 'n venster op die lewenswerklikheid van die eie tyd (Vos 2005:292-297). Dit is gewoon noodsaaklik vir elke prediker. Alhoewel Vos oor die algemeen nie in sy werk soveel aandag gee aan die konseptualisering van die eie konteks as 'n ewe belangrike gewig in die balans van die hermeneutiese teorie vir preekvoorbereiding nie, het hy met die kunste as invalshoek 'n goeie drie gedruk. Tog ontstaan 'n volgende vraag: Werk dit vir die deursneeprediker? Lees predikers literêre werke van gehalte; het hulle 'n waardering en aanvoeling vir die beeldende kunste; kyk hulle gereeld na goeie rolprente? Het hulle so 'n aanvoeling dat hulle hul spesifieke gemeentelede se lewensgevoel verstaan? Dit is te verstane dat Cas Vos met 'n algemener siening van die eie konteks kan volstaan, omdat hy as begaafde kunstenaar 'n buitengewoon gevoelige membraan het - 'n sesde sintuig - om die lewensgevoel, denke en probleme van eietydse mense onfeilbaar aan te voel. Dít blyk uit sy oeuvre digbundels en sy preke (vgl. maar net die laaste gepubliseerde digbundel ten tyde van die skryf van hierdie bydrae, Vos 2007). Die gemiddelde prediker is egter nie so begaaf nie. Daarom moet predikers in teorie en praktyk geleer word om die eie konteks van die gemeente in die wêreld te ondersoek en doelbewus te bedink, totdat hulle dit self eksistensieel ervaar.

Die probleem wat in hierdie artikel aangespreek word, het te doen met die noodsaak om die verstaan van die eie konteks as inherente deel van die hermeneutiese teorie by te bring, ten einde die teks met die oog op die preek te verstaan. Die meeste boeke in die homiletiek gaan uit van die beweging teks-na-preek, om dan aan die einde eers doelbewus aan die adres van die preekboodskap te dink. Hierdie probleem het te make met die verhouding leser-teks wat in verskillende hermeneutiese ontwerpe voorkom. Daarom sal daar in hierdie bydrae eers aandag gegee word aan die verhouding leser-teks, om daarní¡ tot 'n konseptuele beskrywing te kom van die verkenning van die eie situasie as eerste beweging in die verstaansproses van die teks met die oog op die preek.

Die spanning tussen die kategorieë ‘leser’ en ‘teks’

In die proses waardeur die betekenis van die teks met die oog op die prediking in die konteks waarin dit ontstaan het sowel as vir die konteks van die leser geí¯nterpreteer word, is daar twee kategorieí wat in spanning met mekaar staan, naamlik leser en teks. Daar is hermeneutiese benaderinge tot preekvoorbereiding wat klem lê op die teks as uitgangspunt vir die ontvangs van betekenis deur die leser. Tog is daar ook ander benaderinge wat klem lê op die leser as uitgangspunt vir die vind van betekenis in die teks. 'n Dialektiek tussen teks en leser help ons egter om die spanning tussen teks en leser 'n vrugbare spanning te maak. Hierdie verskillende benaderinge kom nou kortliks aan die orde.

Hermeneutiese benaderinge met die klem op die teks as uitgangspunt

Volgens hierdie benaderinge verskaf die teks self die betekenis, terwyl die leser se betekenisgewing nie bewustelik op 'n teoretiese wyse aandag ontvang nie.

Die naïewe lees van die Bybel
Voor die Verligting was daar nie juis 'n besef van die afstand tussen die Bybelse teks en die leser se konteks nie. Volgens die verskillende soorte fundamentalistiese beskouinge van die Skrif kom die hele Bybelse teks direk van God af, sonder 'n menslike faktor. Elke woord in die Bybel is letterlik waar. Ook vandag gaan sommige mense in ons land van hierdie siening uit. Die uitgangspunt is dat daar 'n fundamentele ooreenkoms is tussen die denke en die geloofs- en lewenservaring van mense in die teks, en die lesers van die teks vandag. Die verskille tussen die konteks van die leser, en die konteks van die teks, word geensins verantwoord nie (vgl. Vaessen 1997:36; Deist & Burden 1980:54-56). Die leser behoort dus ontvanklik vir en gehoorsaam aan die teks te wees. Kritiese vrae oor die teks word as liberale teologie beskou. In die preek word Bybelse karakters se optrede en geloofservaringe net so oorgedra as voorbeeld vir vandag se mense in hul optrede in ons (veranderende) konteks. In hierdie benadering kry die teks alle klem, en word die eie konteks nie as 'n element in die verstaan van die teks met die oog op die preek verreken nie.

Die suiwer historiese kritiek
Die historiese verstaan van die teks hít al voorlopers in die Antiochiese eksegese gehad, maar dit was veral die Reformasie wat 'n historiese uitleg van die Bybel ter tafel gebring het, saam met die vereiste van kennis van die oorspronklike Bybeltale. Ní¡ die Verligting het die historiese kritiek opgang gemaak met 'n bewustheid van die historiese gaping tussen teks en eietydse Europese lesers. In wat die suiwer historiese kritiek genoem kan word, het eksegete die betekenis van die teks objektief in die tyd van ontstaan probeer rekonstrueer.

Die uitgangspunt was dat dit moontlik is om die historiese situasie van die Skrif te leer ken. Die betekenis word vanuit die gees en bedoeling van die outeur opgespoor. Gegewens agter die teks, soos die ontstaanstyd van die teks, die werklike outeur met 'n ontwikkeling van 'n redaksiegeskiedenis, en die skrywers se kulturele, politieke en religieuse omstandighede, moet vasgestel word. Ook hiír val die klem op die teks in die vind van betekenis met die oog op die preek. Anders as by die naí¯ewe lees van die teks, is daar egter 'n bewustheid van die historiese afstand, en daarom ook 'n besef van die begrensdheid van die kennis van die betekenis van die teks (vgl. onder andere Van Zyl 1975:74-81,239-249; Deist & Burden 1980:83-113; Vaessen 1997:38-39). Die teks ontvang hier die swaarste klem in die verhouding tussen die teks en die leser.

Struktuur-analitiese metodes
Ní³g 'n benadering waarin die teks sterk beklemtoon word as uitgangspunt vir die betekenis waarna die prediker-eksegeet op soek is, is die strukturele teksanalise. Hier is die belangstelling nie soseer in wat agter die teks lê, soos met die histories-kritiese benadering nie, maar eerder in die immanente struktuur van die teks soos dit voor vandag se leser lê. Alle aandag is geheel en al op die teks gerig, en nie soseer op wat buite die teks gebeur nie. Hierdie eksegete wil nie die historiese lesing as sodanig vervang nie, maar wil met 'n ander invalshoek kom.

Die belangstelling in die strukturalisme moet ook as 'n reaksie op die historiese positivisme beskou word. Die fenomenologie wat met Husserl begin opgang maak het, leer ons dat dit gaan om die verskynsel soos dit is, en nie soseer om hoe dit so gekom het nie. Die spesifieke perikoop word skerp ontleed, maar ook binne breír verbande geplaas. Hierdie benadering handhaaf die houding dat die diakroniese metodes 'n plek het, maar dat die sinkroniese lees dit moet korrigeer. Die teks word egter steeds dikwels as 'n geslote sisteem beskou, met interne relasies waarin die verband tussen taal en werklikheid vervaag. Dií soort lees neig om die teks tydloos te verstaan (vgl. Patte & Patte 1978; Du Toit 1981). Ook hiír word die eietydse konteks nie voldoende as inherente konsep in die hermeneutiese proses verreken nie.

Hermeneutiese benaderinge met die klem op die leser as uitgangspunt

Vir die argument wat hier gevoer word, is die sterk klem wat ander weer op die leser as uitgangspunt lê, ewe betreurenswaardig. Dit beteken dat die leser betekenis gee, terwyl die teks as betekenisgewer op die agtergrond verdof.

Schleiermacher en die subjektiewe belewing van die saak van die teks
Friedrich Schleiermacher het die subjektiewe interpretasie op 'n teoretiese wyse in die hermeneutiek staangemaak. Sy ontwerp is 'n teologiese reaksie op die filosofie van Kant in die konteks van sy tyd. Die objektiewe, altyd geldige reíls vir die eksegese was volgens hom nie meer genoeg nie. Daarom verdien die rol van die leser meer aandag in die teologiese hermeneutiek. Die leser se subjektiewe belewing van 'n Bybelse teks kan die betekenisgewing grondig verander. Daarmee word die hermeneutiek self 'n onderwerp uit eie reg. Die keuse van die interpretasieteorie maak van die leser 'n integrale deel van die verstaansproses (vgl. Schleiermacher 1980).

In die lig van Kant se denke, aanvaar Schleiermacher dat objektiewe kennis van die bonatuurlike onmoontlik is. Daarom ontwikkel hy die insig dat die religiositeit van die mens 'n eie vermoí het naas die denke en die doen. Die religieuse deurdring die denke en dade van die mens, en bepaal dus die mens se bewussyn. In die bewussyn ervaar die mens ten diepste hom- of haarself. Die gelowige besinning in die teologie moet op hierdie bewussyn konsentreer. By Schleiermacher kry die metafisiese, wat nií objektief geken kan word nie, 'n nuwe betekenis as die religieuse in die subjektiewe belewing - die schlechthinnige Abhí¤ngigkeitsgefíhl. Hy is van oordeel dat 'n mens deur Einfíhlung 'n ander (ook die outeur van 'n teks) se gemoed kan verstaan. Naas die grammatiese en die historiese, is die psigologiese interpretasie noodsaaklik, deurdat daar met die lewensuiting van die outeur kontak gemaak word. Die leser kan die outeur van die teks se belewing goed begryp, want dit gaan om die saak waarmee die outeur en die leser in hul eie subjektiewe belewing besig is. Die kloof tussen die teks en die leser word oorbrug deur die algemene menslike natuur waaraan albei deel het. Schleiermacher self het die verstaan problematies gemaak (vgl. Barth 1972:425-473; Wethmar 1977:156; Pieterse 1979:20; Vaessen 1997:46-48). By Schleiermacher verskuif die klem in die spanning tussen leser en teks gedurende betekenisgewing feitlik heeltemal na die leser.

Dilthey se objektiewe psigologiese hermeneutiek deur die leser en die outeur van die teks se lewenservaring te verstaan
Wilhelm Dilthey het die geesteswetenskappe wetenskaplik probeer begrond. Wat Kant vir die natuurwetenskappe gedoen het, wou Dilthey vir die Geisteswissenschaften doen, naamlik die daarstelling van 'n objektiewe grondslag vir wetenskaplike ondersoek. In hierdie kader gee hy aandag aan die hermeneutiek. Die metode om die historiese kloof tussen leser en teks te oorbrug is om die ooreenkoms tussen die menslike lewe (geleefde lewe; lewenservaring) in die geschichtliche tyd van die leser, en dií in die geschichtliche tyd van die outeur te verstaan.

Dilthey drew upon hermeneutics, especially as it had been developed by Schleiermacher, to bring out what he took to be both the distinctive subject matter and the method of the Geisteswissenschaften, especially as 'historical reason'.

(Bernstein 1989:30)

Om die menslike lewe objektief te verstaan, wend hy die psigologie as objektiewe uitgangspunt van die geesteswetenskappe aan. Om egter 'n begrip van die historisiteit van die lewe destyds en vandag te kry, werk hy met objektiewe historiese kennis. Psigologie en geskiedenis kry by Dilthey dieselfde objektiewe status. Die mens openbaar sy lewenservaring in taal en kultuurgoedere wat bestudeer moet word. Dít is die raamwerk van Dilthey se idee van die wetenskaplike benadering in die geesteswetenskappe, wat op gelyke vlak met die natuurwetenskappe kan werk. Teenoor die 'verklaar' van die natuurwetenskappe stel hy die 'verstaan' van die menslike gees vir die geesteswetenskappe - dit gaan om die invoelende psigologiese begrip van die gees van die mens. Die gedagte is dat jy belangrike insigte oor die lewe van die mens kan bekom deur begrypend toegang te verkry tot uitingsvorme van die menslike lewe in die verlede, synde tekste en ander kultuurvorme. Daarom moet die begrypende interpretasie soek na die oorblyfsels van menslike eksistensie wat in die geskrewe woord vasgelê is. Taal word hier as die objektiewe omhulsel beskou waardeur geboor moet word om die eksistensiíle wat in die teks vasgelê is, te onttrek. Die onderskeid tussen 'verklaar' en 'begryp' lê dan in die verskil tussen natuur en menslike gees; die fisiese en die psigiese.

Dilthey plaas die hermeneutiek dus in die dinamiek van die menslike lewe wat steeds interpreterend in voortdurende samehang voorkom. Die invoeling in die Bybelteks kombineer die klem op die strukture van die eie psigiese lewe met die interpretasie van die geobjektiveerde lewensuitinge van die outeur van die historiese teks. Dít beteken dat die verstaan van die menslike lewe deur die bemiddeling van sin in die eie lewe, en sin in die lewe van die verlede geskied. Die leser probeer 'n gelyktydigheid met die lewensuiting van die teks kry en daarin is die leser in beginsel nie gebonde aan tradisie en die vooroordele wat daarmee gepaardgaan nie. Die mens beskik dus oor 'n oneindige verstaanshorison. Hieraan sou Gadamer aandag gee. Dilthey neem uiteindelik die posisie van die leser as uitgangspunt, omdat die eietydse psigiese strukture op die lewensuitinge van die verlede geprojekteer word. Bybeltekste word dan veral vanuit die aktuele vrae van die eie tyd benader (vgl. Vaessen 1997:49-53; Wethmar 1977:156-157; Pieterse 1979:20-21; Bernstein 1989:30,37).

Leser en teks as twee kategorieë in vrugbare spanning in die hermeneutiese proses

Die eietyse hermeneutiese insigte probeer om leser en teks in 'n spanning te plaas waarin sowel die wêreld van die leser as die wêreld van die teks sinvol vir die leser se eie wêreldervaring geí¯nterpreteer kan word. Vir die homiletiek is hierdie insigte uiters waardevol.

Hermeneutiese homiletiek gebaseer op Gadamer en Ricoeur

Die insigte van H-G. Gadamer
Gadamer se invloedryke boek het 'n nuwe benadering ter tafel gebring (Gadamer 1975, 1979). Gadamer het hom op Heidegger se ontologie verlaat, naamlik dat die mens se kontekstuele bestaan in die wêreld die basiese voorwaarde is vir elke wyse waarop daardie mense sy of haar omgewing ken en daaraan betekenis gee. Die mens kan slegs betekenis gee en betekenis ontvang in die verstaan van enige saak, op grond van die belewing van die wêreld waarin hy of sy as eindige wese gewerp is (vgl. Gadamer 1975:240-251; 1979:225-236). Daarom het elke mens 'n eie verstaanshorison. Die verband met die verlede (om dit te kan verstaan) lê opgesluit in die konsep van die Wirkungsgeschichte (die effektiewe geskiedenis, of die interpretasiegeskiedenis - om byvoorbeeld 'n Bybelse teks in die tradisie deur te werk) (Gadamer 1975:284-290; 1979:267-274). Gadamer noem die grense tussen die hede en die verlede horisonne in die effektiewe geskiedenis. Met elke horison hou iets op en begin iets nuuts in mense se interpretasie. Die oue en die nuwe staan egter nie heeltemal op hul eie nie. As die oue verbygaan, laat dit 'n erfenis na aan die nuwe. Sí³ werk die effektiewe geskiedenis oor horisonne heen in die menslike bestaan deur telkens te interpreteer en nuwe tradisies te laat ontstaan.

Met die begrip distansiíring verduidelik Gadamer die dubbelheid wat daar in die verhouding tussen leser en teks bestaan. Die teks is tegelyk onbereikbaar weens die historiese afstand, en teenwoordig. Teenwoordig in die onbereikbaarheid weens die effektiewe geskiedenis. Hermeneutiek word dus 'n konstante worsteling tussen afstand en nabyheid, vervreemding en deelname (Gadamer 1975:275-282; 1979:258-265). Die teks word daarom nie objektief verstaan nie, want die interpreteerder is deel daarvan. Deur die vooroordele van die eie tyd (voorafmenings) en die vreemdheid van die teks wat die leser in interpretasie ontmoet, vind 'n kritiese konfrontasie tussen leser en teks plaas. Dit is juis in hierdie heen-en-weer van die interpreterende konfrontasie wat die verstaan eindelik daag. Die spanning tussen die eie en die vreemde deur die verstaansproses heen bewerk 'n horisonversmelting, waarin die teks se betekenis vir die eie tyd verstaan kan word (Gadamer 1975:289-290,356-366; 1979:274-276,333-341). Dit is belangrik om te onthou dat verstaan alleen deur taal - en veral taal as gesprek - kan geskied (Gadamer 1975:344-360; 1979:325-341).

Die eie vooroordele word in die verstaansproses verhelder en krities in 'n ander lig gestel waarin nuwe insigte as betekenis ontvang word. Die vooroordele kan die vooroordele van die eie tyd wees - dií van die predikant of wat in die gemeente leef (Vaessen 1997:57,59). Vir die eie tyd waaraan ons as 'n gegewe gebonde is, gebruik Gadamer ook die begrip situasie (Gadamer 1975:288; 1979:269). By die begrip 'situasie' hoort dan ook die verstaanshorison.

Die verstaan van 'n historiese teks vir die eie tyd begin met die vooroordele van die leser (Gadamer 1975:261-268; 1979:245-253). Hiermee plaas Gadamer leser en teks in 'n eweredige verhouding tot mekaar. Geen mens staan in die lewe as 'n onbeskrewe blad nie, maar het bepaalde sieninge vanweí sy opvoeding, omgewing, kultuur en die invloed van die tradisie - van, byvoorbeeld , ons Christelike geloof. Ons sien dinge volgens die insigte van die eie tyd. Niemand kan daarvan loskom nie. Daarom kan ons liewer die vooroordele openlik en bewustelik by die verstaansproses betrek, vir toetsing en kritiek. Eers as ons ons eie situasie met sy bepaalde denke, sieninge en probleme goed bedink het, en dit helder in die bewussyn sit, kan ons na die teks gaan, waar kritiese konfrontasie in die verstaansproses plaasvind. Die gevolg daarvan (as dit goed verloop) is gewoonlik nuwe insigte vanuit die teks en 'n nuwe blik op die eie konteks.

Gadamer se hermeneutiese ontwerp lê dus 'n stewige grondslag vir my argument dat 'n mens in die verstaan van 'n Bybelse teks met die oog op die preek, eers by die konteks van die gemeente as deel van die homiletiese hermeneutiek moet begin.

Paul Ricoeur se dialektiek tussen leser en teks
Op 'n paar punte sluit Ricoeur by Gadamer aan, maar verdiep ook Gadamer se insigte deur sy benadering tot taal (Ricoeur 1976). Die leser ontvang betekenis deur die omweg van taal, teken en teks. Taal word as diskoers beskou. Die grondbeginsel is die voortgaande dialektiek tussen struktuur en gebeure. Dit word voltrek in die simbool in sy verskillende sinslae, in veral die metafoor, maar ook in die taal. Dit gaan om taal as teks, en die wêreld wat die teks voor hom uitwerp in 'n oneindige proses van interpretasie en nuwe betekenis. Betekenis ontstaan in die dialektiek tussen taalsisteem en taalgebeure (Ricoeur 1976:12).

Wanneer 'n outeur gebeure in die konkrete wêreld op skrif stel, word die betekenis losgemaak van die gebeure en die outeur - die teks verkry 'n semantiese outonomie (Ricoeur 1976:25). Tog word die teks steeds deur die dialektiek tussen gebeure en betekenis beheer. Trouens, die dialektiek word meer eksplisiet op skrif. Die teks behou egter dít wat gesê is; die inhoud; 'n proposisie. Juis dií selfstandigheid van die teks, met die kern van dít wat die teks dra, maak dit ontvanklik vir 'n oorvloed betekenisse wanneer die leser dit interpreteer en daaraan nuwe betekenis gee. Die proses van tekswording en interpretasie, die oorgang van gesproke taal na geskrewe taal, en die oorgang na die interpretasie van die teks, geskied deur die prosesse van prefigurasie, konfigurasie en refigurasie (Ricoeur 1984:76-77). By refigurasie deur die leser, wat gerig is op toeíiening van wat die teks bied, word betekenis gevind vanuit die wêreld van die teks, om nuwe betekenisse te vind in die wêreld van die leser.

In hierdie proses word twee wêrelde teenoor mekaar gestel - die wêreld van die teks, en die wêreld van die leser. Met hul meervoudige betekenisse, werp tekste telkens vir lesers in verskillende kontekste op verskillende maniere wêrelde voor hulle uit. Verstaan geskied wanneer die leser die ander, vreemde self ontvang wat deur die teks na hom of haar aangereik word. Die toeíiening van die eiendomlikheid van die teks laat jou 'n ander siening van jou situasie kry, wat jou hetsy tot handeling beweeg, of jou, vanuit die verhaal van die teks se konteks, 'n nuwe verhaal in jí³íº konteks laat maak.

Leser en teks staan dus in 'n dialektiese verhouding tot mekaar. Albei se leefwêreld is 'n inherente deel van die verstaansproses. Daarom kan 'n leser tot 'n vrugbaarder konfronterende dialoog met die teks en sy wêreld kom wanneer die eie konteks bewustelik en sistematies verdiskonteer is. Ricoeur se hermeneutiek van suspisie van die eie konteks, met sy vooringenome houdinge en ideologieí (Vos 2008), het ten doel om jou 'n oper gemoed te gee om die teks se boodskap te ontvang. Dit help egter ook om jou vooroordele helder en bewustelik raak te sien en te sistematiseer, aangesien dit, volgens Ricoeur, die verstaansproses bevorder. Gadamer se uitspraak hou in so 'n geval water: 'Prejudices (are) conditions of understanding' (Gadamer 1979:245).

Helder, eksistensiële kennis van die eie konteks van die gemeente en haar wêreld

In sy boek oor 'n Christelike hermeneutiek van die Ou Testament, werk Houtman (2006) ook met die twee komponente van die verstaan met die oog op prediking vandag. Hy werk met 'n heilshistoriese idee waarin ontvanklikheid vir toekomstige interpretasie moontlik word, en waarin die Ou en die Nuwe Testament die beste in 'n Christelike gemeente tot hul reg kom. Hy plaas 'n inherente spanning tussen die teoloog wat wetenskaplik en Ou-Testamenties met byvoorbeeld die profete omgaan, en die teoloog wat in die vryheid van die Heilige Gees met die oog op die toekoms vandag geí¯nspireerd preek (Houtman 2006). Kennis van albei pole is onontbeerlik. Dit is belangrik om die begrippe wat die leser of prediker doelbewus vir die verstaan van die eie konteks moet verreken, hier op 'n ry te sit. Ons gaan van die veronderstelling uit dat die hedendaagse Bybelwetenskappe oorvloedige materiaal bied om die konteks van die verskillende sosiale en politieke omgewings van die tekste van die Bybel in die konteks van die teks te verstaan. Die eerste twee begrippe in die teorie van die verstaan van die eie konteks as inherente deel van die homiletiese hermeneutiek, word deur Cas Vos self aangebied.

Die kunste as venster op die ervare wêreld van die gemeente en die prediker

Op diepgaande wyse beskryf Vos die rol wat die poísie, die skilderkuns, musiek, en verhale soos Tolkien se The Lord of the Rings (1955) in die begrip van die eietydse denke, probleme en vrae speel (Vos 2005:292-294). Die groot belang van die aanbod van eietydse films in die vertolking van die eietydse gees, probleme, vrae en oplossings word aan die hand van voorbeelde bespreek (Vos 2005:294-296). Hierdie bespreking word in verband gebring met die eietydse konteks van die toehoorder van die preek wat die prediker in gedagte moet hou.

Die liturgiese situasie waarin die preek geskied

Vos neem ook die liturgiese konteks van die preek ernstig op (Vos 1996:217-238; vgl. Vos & Pieterse 1997). Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese beskouinge van die erediens word indringend behandel (Vos 1996:217-228). Sy liturgiek is eg gereformeerd omdat dit so stewig op die Skrif gegrond is. In die beskrywing van die liturgiese handelinge doen hy moeite om te toon dat die preek nie 'n geí¯soleerde gebeurtenis in die erediens is nie. Ook die kerklied en die liturgiese musiek word met kennis en insig bespreek. Al die sintuie van die toehoorder word by die ervaring van die gelowige in die ontmoeting met God en mekaar in die erediens ingesluit. Hierin is Vos op die voorpunt van die eietydse denke in die liturgiek (Vos 1996:228-235).

Die uiters belangrike aspek van liturgiese taal kom aan bod vir die verstaan van die eie konteks, waarin die preek sinvol en begryplik moet geskied. Die erediens geskied in religieuse, poítiese, simboliese, rituele, tradisionele, Bybelse en sober taal (Vos 1996:236-238). Voorts is dit van lewensbelang vir ons verstaan van die liturgiese konteks om dit in verhouding tot die kultuur van die dag te sien (Barnard 2001:47-62). Naas hierdie twee begrippe, sou 'n mens ní³g twee begrippe kon insluit by die teorie vir die eietydse verstaan van die horison waarop die gemeente leef.

Die sosiale, politieke, kulturele en ekonomiese konteks van die gemeente

In ons land het daar in die afgelope twee dekades radikale veranderinge op politieke, sosiale en ekonomiese gebied plaasgevind wat 'n groot impak op onder andere die lidmate van die Afrikaanssprekende Reformatoriese kerke het. Baie mense se rol en posisie in die openbare lewe, hul toekomsvisie en hul finansiíle situasie het verswak of gekwyn. In die teologie is daar nog min navorsing oor hierdie toestand onderneem. Dalk is ons nog besig om die skok te verwerk, of miskien probeer ons polities korrek optree en durf ons nie die saak ter tafel bring nie uit vrees vir allerlei reperkussies. Die sosiaal-ekonomiese, kulturele en politieke konteks van ons lidmate skreeu egter om aktualisering in die prediking. Predikers behoort die nuus gereeld te volg - in koerante en op televisie, veral buitelandse kanale soos die BBC, en die Vlaamse en Nederlandse nuus. Dít is bulletins waarin wêreldnuus gegee word en wat vir ons 'n breír begrip van die bewegings in die wêreld gee. Dit is ook belangrik om die politieke ontleders se kommentaar te volg, sodat ons 'n beter begrip kan kry van die swak- en sterkpunte in ons regeringsbeleid. Verder skreeu die algemene toestand van armoede in ons land, waarvan die oorgrote meerderheid onder Swart mense is, ook om kerklike verstaan en optrede. In preke merk ons nog weinig van die goeie kennis van die sosiale, politieke, kulturele en ekonomiese konteks op waarin die boodskap van die preek geaktualiseer moet word.

'n Belangrike aspek van die prediker se vermoí om die boodskap van die teks in die verstaanswêreld van die gemeentelede te aktualiseer, is die idee van preekwerkgroepe. Thomas het hierdie saak al lank gelede in die homiletiek aangeroer (Thomas 1978). Pieterse (1986:126-167) het dit breedvoerig in die Suid-Afrikaanse konteks uitgewerk. 'n Goeie verstaan van die konteks van die gemeentelewe, en goeie kommunikasie in die preek, is moontlik as die preek deur dialoog omring word.

Die eietydse situasie van armoede moet met die oog op die prediking geanaliseer en geí¯nterpreteer word, sodat dit 'n bewuste plek in ons denke en gemoed inneem wanneer ons 'n preek maak. 'n Eerste poging is dií van Pieterse (2001). Heelwat ondersoek hieroor is nog nodig, sodat dit 'n element in die verstaan van ons konteks word. Baie Wit mans en baie arm Wit lidmate van die Afrikaanssprekende kerke se veranderde posisie op finansiíle gebied, en die groot impak daarvan op hul huishoudings, gesinslewe en toekomshoop, sal eweneens aangeroer moet word om, met die oog op die verstaan van die teks se boodskap vir vandag, die eietydse konteks beter te begryp (vgl. Pieterse 2009).

Die persoonlikheid, Godsbeeld en gemoedstoestand van die toehoorders

Twee uitstekende proefskrifte wat in 2008 verskyn het waarin bogenoemde begrip met die oog op die verstaan van die konteks van die gemeentelede vir wie ons preek, hard in die lugleegte op hierdie gebied ontplof het (vgl. Steyn 2008; Schaap-Jonker 2008). In 'n uitgebreide en diepgaande ondersoek toon Steyn (2008) aan die hand van die teorie van die MBTI-persoonlikheidstyle aan hoe gedifferensieerd die toehoorders van die preek in hul verstaan en interpretasie van die preek is. Hierdie feit het allerlei implikasies, ook vir ons gemeentebegrip. Steyn spel talle hermeneutiese, liturgiese en homiletiese eise ten opsigte van die erediensgangers in hul persoonlikheidstipes en interpretasiewêreld volledig uit. Dit is 'n nuwe wêreld wat oopgeruk word vir die prediker se verstaan van die gemeentelede vir wie hy of sy moet preek.

Schaap-Jonker (2008) het insgelyks in Nederland 'n diepgaande en uitgebreide studie gedoen aan die hand van die teorie van Donald W. Winnicot, met 'n gesofistikeerde empiriese ondersoek onder toehoorders. Haar ondersoek toon watter groot invloed die Godsbeelde en die gemoedstoestand tydens die erediens op mense se verstaan van die preek het. Hierin speel die verskillende tipes persoonlikhede 'n groot rol. Sy ontwikkel 'n homiletiese teorie met drie belangrike faktore, naamlik 'relasionele betekenis', waarin 'n positiewe verstaan sowel as die ervaring van 'n ontmoeting met God plaasvind; 'aandag' aan die preek, waarin allerlei sake 'n rol speel, en 'negatiewe betekenis', wat die teenoorgestelde effek het as die eerste faktor. Hierin loop die verwikkelde en komplekse vooropstellings van mense se Godsbeelde, persoonlikhede en psigologiese gemoedstoestande uit op 'n sentrale, deurslaggewende idee, naamlik relasionaliteit (verhoudinge) met God, met sigself, en met die kerk en die prediker. Geen wonder dat Schaap-Jonker deurgaans benadruk dat die prediker sy of haar gemeentelede deeglik moet kín nie. Hierdie insigte sal nog in ons geskrifte oor en onderwys in die prediking moet daag om te keer dat 'n nuwe geslag predikers onbeslae op die ys gelaat word.

Gevolgtrekking

Met dií vier begrippe kan ons al 'n begin maak om, met die oog op die ontmoeting met die teks se eietydse konteks, die kennis van die gemeente se eietydse konteks 'n eie teoretiese plek te gee in die dialektiek tussen leser en teks as deel van die hermeneutiese homiletiek. Dít vereis dan dat 'n mens in die preekmaakproses by die doelbewuste verstaan van die gemeente se eie situasie sal begin (vgl. Pieterse 2001:19,86-87). Deur hierdie teorie oor die verstaan van die eietydse konteks by die hermeneutiese homiletiek in te bou, kan ons ons teorie oor die hermeneutiek in die homiletiek op meer gepaste wyse by Heitink se kerkbegrip, waarin inkulturasie 'n belangrike konsep is, laat aansluit (Heitink 2007).

Cas Vos het 'n uitmuntende bydrae gelewer tot die homiletiek in die algemeen en tot die homiletiese hermeneutiek in besonder - soveel so dat ons met hom in gesprek kan tree. Daarvoor het ons baie groot waardering.

Literatuurverwysings

Barnard, M., 2001, 'Dynamiek van cultus en cultuur' [Die dinamiek van kultus en kultuur], in M. Barnard & P. Post (reds.), Ritueel bestek, Meinema, Zoetermeer.

Barth, K., 1972, Protestant theology in the 19th century [Protestantse teologie in die 19de eeu], SCM Press, London.

Bernstein, R.J., 1989, Beyond objectivism and relativism [Verby objektivisme en relativisme], Blackwell, Oxford.

Deist, F.E. & Burden, J.J., 1980, 'n ABC van Bybeluitleg, J.L. van Schaik, Pretoria.

Du Toit, A.B., 1981, 'Strukturele teksanalise en die Suid-Afrikaanse Redevoeringsanalise - enkele opmerking aan die hand van Van Iersel se analise van die Emmausverhaal', Skrif en Kerk 2(1), 3âˆ'14.

Gadamer, H-G., 1975, Wahrheit und Methode, 4, [Waarheid en wyse], Auflage, J.C.B. Mohr, Tíbingen.

Gadamer, H-G, 1979, Truth and Method [Waarheid en wyse], transl. William Glen-Doepel, Sheed and Ward, London.

Heitink, G., 2007, Een kerk met karakter. Tijd voor heroriíntasie 'n Kerk met karakter. Tyd vir her-orentering], Kok, Kampen.

Houtman, C., 2006, De Schrift wordt geschreven. Op zoek naar een christelijke hermeneutiek van het Oude Testament [Die skrif word geskryf. Op soek na 'n Christelike hermeneutiek van die Ou Testament], Meinema, Zoetermeer.

Patte, D. & Patte, A., 1978, Structural exegesis: from theory to praxis [Strukturele eksegese: van teorie na praxis], Fortress Press, Philadelphia.

Pieterse, H.J.C., 1979, Skrifverstaan en prediking, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Pieterse, H.J.C., 1986, Verwoording en prediking, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Pieterse, H.J.C., 2001, Prediking in 'n konteks van armoede, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Pieterse, H.J.C., 2009, 'Om oor God te praat in die prediking in die Suid-Afrikaanse konteks van regstellende aksie', in F.G. Immink & C.J.A. Vos (reds.), God in 'n kantelende wêreld, pp. 250âˆ'273, Protea, Pretoria.

Ricoeur, P., 1976, Interpretation theory. Discourse and the surplus of meaning [Teoretiese interpretasie. Diskoers en die oorvloed van betekenis], The Texas University Press, Fort Worth.

Ricoeur, P., 1984, Time and narrative [Die narratiewe en tyd], vol. 1, University of Chicago Press, Chicago.

Schaap-Jonker, H., 2008, Before the face of God. An interdisciplinary study of the meaning of the sermon and the hearer's God image, personality and affective state [Voor God se aangesig. 'n Interdissiplinêre studie oor die betekenis van die boodskap, die hoorder se Godsbeeld, persoonlikheid en effektiewe staat] , Lit Verlag, Wien-Berlin.

Schleiermacher, F.D.E., 1980, Der Christliche Glaube [Die Christelike geloof], Teilband 1 & Teilband 2, Herman Peiter (Hrsg.), Walter de Gruyter, Berlin.

Steyn, C.S., 2008, 'Persoonlikheidstyle by erediensgangers. 'n Prakties-teologiese ondersoek na die uitdagings wat aan die liturg gestel word om erediensgangers van alle MBTI persoonlikheidstyle effektief in eredienste te kan aanspreek', PhD proefskrif, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.

Thomas, J., 1978, Het luistert nauw. Het gesprek over de preek tussen gemeente en predikant [Luister nou. 'n Gesprek oor die preek tussen die gemeente en die predikant], Kok, Kampen.

Vaessen, J.C., 1997, Tussen Schrift en preek [Tussen die skrif en die preek], Kok, Kampen.

Van Zyl, A.H., 1975, Gods Woord in mensetaal, Deel I, Butterworths, Durban.

Vos, C.J.A., 1996, Die Volheid daarvan, RGN-Uitgewery, Pretoria.

Vos, C.J.A., 2005, Theopoetry of the Psalms [Theopoísie van die Psalms], Protea Book House, Pretoria.

Vos, C.J.A., 2007, Die afdruk van ons hande, Protea Boekhuis, Pretoria.

Vos, C.J.A., 2008, 'Om die horison te verken. Op soek na 'n eietydse homiletiese hermeneutiek', HTS 64(1), 11âˆ'20.

Vos, C.J.A. & Pieterse, H.J.C., 1997, Hoe lieflik is U woning, RGN-Uitgewery, Pretoria.

Wethmar, C.J., 1977, Dogma en verstaanshorison, Rodopi, Amsterdam.


 

Crossref Citations

1. Verrekening van die kragveld van die verbond in die inkleding van die kommunikatiewe driehoeksverhouding tussen teks, hoorder en prediker
Friedrich W. De Wet
In die Skriflig/In Luce Verbi  vol: 46  issue: 1  year: 2012  
doi: 10.4102/ids.v46i1.47