Search this journal:     Advanced search
Article Information

Author:
Benno A. Zuiddam1

Affiliation:
1Skool vir Bybelwetenskappe & Antieke Tale, Potchefstroomkampus, Noordwes Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika

Correspondence to:
Benno Zuiddam

email:
Benno.Zuiddam@nwu.ac.za

Postal address:
110 Panorama Road, Blackstone Heights, TAS 7250, Australia

Keywords
orakel; Bybel; Handelinge 7:38; bybelvertaling; openbaring

Dates:
Received: 24 Feb. 2009
Accepted: 28 June 2010
Published: 10 Sept. 2010

How to cite this article:
Zuiddam, B.A., 2010, ‘Lewende Godsprake vir ons: Die implikasie van λόγια ζῶντα in Handelinge 7:38’, Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #377, 6 pages. DOI: 10.4102/ve.v31i1.377

Copyright Notice:
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 1609-9982 (print)
ISSN: 2074-7705 (online)

Lewende Godsprake vir ons: Die implikasie van λόγια ζῶντα in Handelinge
In This Original Research...
Abstract
Probleemstelling
   • Meer as woorde?
Literêre konteks
   • Handelinge 6 en 7
   • Handelinge 7:35–41
Eksegese Handelinge 7:38
   • The Tekskritiese opmerkings oor Handelinge 7:38
   • Eksegese Handelinge 7:38 as onmiddellike konteks van λόγια ζῶντα
Filologiese gevolgtrekking oor λόγια ζῶντα )
Literatuurverwysings
Footnotes
Abstract

Living oracles from God to us: The implication of λόγια ζῶντα in Acts 7:38

In what turned out to be his final sermon on earth, Stephen the Deacon used the expression >λόγια ζῶντα to describe the authoritative oracles from God as the people of Israel received them from God and his angels through Moses. From a philological understanding of this passage, the use of λόγια instead of λόγοι has important implications for Bible translation and theological understanding of the verse. Acts 7:38 indicates early Christianity’s understanding of the nature of the Law, and claims a divine origin for the same. It was not sanctioned by God, but it literally came from God. Luke and Stephen esteem the λόγια ζῶντα as divine oracles, with relevance far beyond Moses. These were the living oracles, not in the least because of their lasting empowerment by the Author. In the mind of the author of Acts of the Apostles, the λόγια ζῶντα received their power and lasting relevance from God rather than from the Israelites as a religious community.

Probleemstelling

Meer as woorde?

Hierdie artikel wil die implikasies van die gebruik van die Griekse frase λόγ ια ζῶντα in die literêre konteks van Handelinge 7:38 bepaal. Die semantiese teorie wat hier gebruik word, is die filologiese benadering, wat die teks in sy grammatiese en literêre konteks probeer verstaan. Vanuit daardie verstaan word betoog dat die huidige Afrikaanse vertalings van die teks verbeter kan word, aangesien die wesenlike betekenis van λόγια ζῶντα nie juis verstaanbaar (of selfs geldig) is vir die leser wat geen kennis het van die Grieks nie.

Die Griekse teks van Handelinge 7:38 lui soos volg:

( Οὗτός ἐστιν ὁ Μωϋσῆς) οὗτός ἐστιν ὁ γενόμενος ἐν τῇ ἐκκλησίᾳ ἐν τῇ ἐρήμῳ μετὰ τοῦ ἀγγέ λου τοῦ λαλοῦντος αὐτῷ ἐν τῷ ὄρει Σινᾶ καὶ τῶν πατέρων ἡμῶν, ὃς ἐδέξ ατο λόγια ζῶντα δοῦναι ἡμῖν.

Die Afrikaanse vertaling van 1933/1953 sien soos volg daar uit:

Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die Sinaiberg gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.

Die vertaling van 1983/92 verskil nie veel daarvan nie:

Dit is hy wat, toe die volk daar in die woestyn bymekaar was, die skakel was tussen ons voorvaders en die engel wat met hom op Sinaiberg gepraat het. Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel.

Die Nuwe Lewende Vertaling (2006) is ongelukkig ook nie ʼn verbetering nie:

Dit is dieselfde Moses wat, toe die volk as gemeente daar in die woestyn was, as tussenganger opgetree het tussen ons voorouers en die engel wat op Sinaiberg met hom gepraat het. Hy het lewende woorde ontvang om aan ons oor te dra.

Dis belangrik om te besef dat daar ʼn ingrypende verskil is tussen λόγι ον (orakel, Godspraak), wat Stefanus volgens die outeur van Handelinge hier gebruik, en die algemene woord λόγος (woord). Zuiddam, Van Rensburg en Jordaan (2008:381) meen in dié verband: ‘One of the most evident ways that the writers of Biblical literature claimed to receive divine speech is their use of the wordλό γιον.’ Hierdie woord λόγιον is ʼn letterlike voorbeeld van Jesus se verklaring oor die verwydering of toevoeging van ʼn jota of tittel1 aan die teks van die Skrif, wat daarop dui dat die uitspraak op sowel filoloë as die algemene publiek van toepassing kan wees. Die algemeen gebruikte λόγ ος kom heel dikwels voor en beteken gewoonlik ‘woord’, ʼn kommunikasiedraer van enige soort. Dít is egter nie die geval met λόγιον nie. Hoewel dit, soos λόγος, ook ‘woord’ beteken, is dit in ʼn heel bepaalde sin met ʼn beperkte betekenisveld. Die ou Grieke het dit eksklusief met verwysing na ʼn orakel (vgl. Liddell & Scott 1996:1056), oftewel ʼn gesaghebbende uitspraak of aanwysing van die gode, gebruik. Die λόγιον kom, volgens die Griekse taalgebruik, dus noodwendig uit die hemel: ‘In other words, while the author of λόγος could be human or divine, λόγιον was always produced in the heavenlies’ (Zuiddam et al. 2008:381).

Dit is van belang dat λόγια in Handelinge 7:38 nader bepaal word deur die partisipium ζῶντα. Hierdie artikel betoog dat God nie net woorde (λόγοι) aan Moses en die volk Israel gegee het nie, maar dat Stefanus baie méér impliseer. Dit gaan nie om ʼn gevoelsmatige kennis nie; nog minder om ʼn gesamentlike gevoelsmatige kennis waarop ʼn groep vroeë Christene saam besluit het. Volgens die Griekse teks is iets heel anders die geval. Volgens die skrywer gaan dit om orakels van God; om Godsprake (λόγια). Dit kom van Bo af en is nie namens God deur die mens hier benede uitgedink nie.

Stefanus het algemener woorde (bv. λόγος) tot sy beskikking gehad, maar hy het verkies om ʼn seldsamer Griekse woord te gebruik. Hierdie woord dui in wese op Godsopenbarings, orakels, wat die mens slegs moet ontvang en deurgee. Die meervoud dui aan dat dit om die verskynsel van Godsprake gaan. Die relevansie en werksame krag van hierdie orakels word dan nóg nader omskryf deur ζῶντα (lewende).

Hierdie literêre implikasies van die woorde wat Stefanus gebruik, kom glad nie in die Afrikaanse vertalings tot uiting nie. Die Afrikaanse vertaling van 1933/53 gee ὃς ἐδέξ ατο λόγια ζῶντα δοῦ ναι ἡμῖν soos volg weer: ‘Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.’ Die 1983-vertaling lui nagenoeg dieselfde: ‘Hy het die lewende woorde ontvang om aan ons mee te deel.’ Dit geld ook vir die Nuwe Lewende Vertaling van 2006. Wat die leser aangaan, kon λόγιον net sowel λόγος gewees het. Die feit dat ál drie Afrikaanse vertalings tot nog toe, sowel as ʼn algemeen gebruikte Engelse vertaling soos die New International Version (‘He received living words to pass on to us’), hierdie tekortkoming het, wys blykbaar op ʼn algemene gebrek in die verstaan van die vers.

Gevolglik stel hierdie artikel voor dat λόγια in Handelinge 7:38 nie as bloot ‘woorde’ verstaan moet word nie, maar wel as Goddelike kommunikasie. Dit gaan om Godsprake of orakels as sodanig. Die gebruik van ζῶντα is ʼn belangrike nadere kwalifikasie wat verduidelik dat die woorde se gesag ná duisende jare nie lewe en krag ingeboet het nie, maar relevant bly vir Lukas se lesers en Stefanus se toehoorders. Die skrywer wil dit duidelik stel dat Gód sy geopenbaarde Woord vir Moses en die Jode gegee het.

Om hierdie voorstel te motiveer word eers die breër konteks van Handelinge 7:38 , daarna die onmiddellike konteks van die perikoop Handelinge 7:35–40 (3), en uiteindelik die eksegese en implikasie van λόγια ζῶντα in Handelinge 7:38 bespreek.

Literêre konteks

Handelinge 6 en 7

Handelinge 7:38 maak deel uit van hoofstukke 6 en 7, wat die verkiesing en werksaamhede van die sewe diakens in die vroeë Kerk as onderwerp het. Hierdie diakens moes vir die sosiale welstand van die gemeente sorg, by name die weduwees met ʼn Griekse agtergrond en taal (Hand 6:1,5).2 Ná hierdie episode is daar baie meer Jode in Jerusalem wat Christene word, selfs ʼn hele aantal priesters.

Stefanus is een van die diakens, en word beskryf as ʼn man wat vol was van God se genade en krag; wat groot wonders en tekens onder die volk gedoen het (Hand 6:8). Dit het nogal afguns veroorsaak onder die Jode wat uit Griekse streke afkomstig was en die Christelike leer teengestaan het. Wanneer ʼn mens dit eers besef, is dit nie ʼn groot verrassing om die jongman Paulus onder hierdie oproermakers aan te tref nie. Hy het immers ook ʼn Griekse geboorteplek gehad (Hand 7:58, vgl. 8:1–3).

Stefanus is aangekla en voor die Joodse Raad, die Sanhedrin, gedaag. Getuies is ingebring (Hand 6:12–13) wat hom valslik beskuldig het dat hy die heilige tempel in Jerusalem en die Wet van Moses sleg gemaak het.

Toe die hoëpriester hom oor die waarheid van hierdie getuienisse uitvra, het Stefanus ʼn preek gelewer.3 In hierdie

toespraak vestig hy die aandag op God se omgang met die Israeliete vanaf die tyd van Abraham (Hand 7:2–8a), Jakob en Josef (Hand 7:8b–16). Dan volg Moses (Hand 7:17–44), Josua, Dawid en Salomo (Hand 7:45) en die profete (Hand 7:48–52a). Die hoogtepunt wat Stefanus beskryf, is die koms van die Messias, die Christus (Hand 7:52b–53). Hy beskuldig die Jode daarvan dat hulle die profete vervolg en die Messias doodgemaak het. Volgens hom is hulle mense wat God se Wet deur die diens van engele ontvang het, maar net mooi niks gedoen het om dit daadwerklik te gehoorsaam nie. Die oproermakers voel beledig, raak al hoe kwater, en bring Stefanus uiteindelik tot buite die stad, waar hulle hom met klippe doodgooi terwyl hy vir hulle bid (Hand 7:54–60).4

Die hemelse oorsprong van die Wet kry baie aandag. Stefanus benadruk dit in Handelinge 7:30, 35, 38 en 53 met die feit dat daar engele by hierdie aangeleentheid betrokke was (vgl. Dunn 1996:95). Die woorde σὺν χειρὶ ἀγγέλου τοῦ ὀφθέντος αὐτῷ ἐν τῇ βάτῳ (met die hand van die engel wat deur hom gesien is in die doringbos; vgl. Blass et al. 1990: 221) beklemtoon dat die Openbaring aan Moses in die braambos deur middel van ʼn engel plaasgevind het. Stählin (1975) het gelyk wanneer hy aanvoer dat hierdie engele namens God optree en sy wil uitvoer. Hy beskryf die engel as der unmittelbare Stellvertreter, ja beinahe eine Erscheinungsform Gottes (1975:109).

Daar is verklaarders wat meen dat Paulus die bemiddeling deur engele gebruik om aan te voer dat die Wet minderwaardig was (bv. Polhill 1992:200). Dit is ongeldig. Paulus se siening van die betrokkenheid van engele (Gal 3:19, Heb 2:2; vgl. Gal 3:21) toon dieselfde respek as wat Stefanus in sý toespraak toon. Dit is wél so dat Paulus die bedeling van die Wet in die brief aan die Galasiërs as minderwaardig beskou aan die rykdomme van Christus wanneer dit oor die oplossing van die mens se sondeprobleem gaan. Hy gebruik die betrokkenheid van engele egter nie as ‘n argument vir die minderwaardigheid van die Wet as sodanig nie. Inteendeel, in daardie brief betoon hy juis die grootste respek vir die optrede van engele (bv. Gal 1:8; 4:14). Met ander woorde, Paulus beskou engele geensins as minderwaardig nie, maar hy gebruik hulle as ʼn eervolle standaard om die eer van Christus, wat nog ver bo dít uitstyg, te beklemtoon.

Die betrokkenheid van engele by die deurgee van die Wet wat ʼn mens in Handelinge raakloop, is minder duidelik uit die Ou Testament self, hoewel Deuteronomium 33:2 (net in die Septuaginta) praat van engele aan God se regterhand toe Hy van Sinaiberg afgekom het. Hier kan vergelykings met die Griekse skrywer Ploutarchos getref word, aangesien sy daimone ook tussen die gode en die mens bemiddel het (Zuiddam 2008/2009:91–94). (vgl. Eckey 2000:174 oor die rol van engele by die deurgee van God se Openbarings.) Bette, Van den Berg en Van der Jagt (1990) meen soos volg:

Hoewel het OT spreekt over een direct contact tussen de Here en Mozes (vgl. Num. 12:7,8), spreekt de joodse traditie over een spreken van God door middel van een engel of engelen, geheel zoals dat ook bij de brandende doornstruik het geval was. God Zelf is immers met de menselijke zintuigen niet te vatten (1 Tim. 6:16).

(Bette et al. 1990:203)

Hierdie siening dui op ʼn uitlegkundige probleem, naamlik van ʼn moontlike teenstelling tussen die Joodse siening oor die bemiddeling deur engele, wat Stefanus hier navolg, en die ‘regte’ verklaring van die Ou Testament oor hierdie punt, wat aan die engele geen rol toeken nie. Die teenstelling is waarskynlik ongeldig. Die woorde στόμα κατὰ στόμα λαλήσω αὐτῷ ἐν εἴδει (Ek sal tot hom duidelik van mond tot mond praat; Num 12:8) hoef nie die gebruik van engele van die bedeling van die Wet uit te sluit nie. Van Eck (2003) verklaar dit nader:

In de rede van Stefanus ligt de nadruk op het feit dat Mozes een bemiddelaar van goddelijke uitspraken is. Het feit dat hij die via engelen ontvangen heeft, wordt daarop niet in mindering gebracht. Het wordt er gewoon bij verteld omdat dit nu eenmaal de manier was waarop God’s woord aan hem was doorgegeven.

(Van Eck 2003:176)

Handelinge 7:35–41

In die perikoop Handelinge 7:35–41 gaan dit oor die waarheid van God wat die volk Israel deur die bemiddeling van Moses uit die hemel ontvang het. Dit is God se standaard, en die ongehoorsaamheid van die Jode aan God se Openbaring, wat Stefanus aan sy toehoorders voorhou. In Stefanus se preek neem hierdie verse oor Moses en sy bemiddeling van die Woord van God ʼn spesiale plek in, aangesien dit gaan oor die Openbaring van God, en die verwerping daarvan sowel as van Moses as boodskapper deur ongehoorsame Jode. Taalkundig is die perikoop ʼn eenheid, met Moses as onderwerp.5 Diverse merkers in die struktuur beklemtoon dít. In vers 35 is daar twee gevalle van parallelisme, wat ook die betekenis van Handelinge 7:38 raak. Dit word anafore genoem (vgl. Blass, Debrunner, Rehkopf 1990:422–423) – eenvormige verwysings wat op tekseenhede dui wat op dieselfde vlak lê en met dieselfde woord begin. Die merkers, byvoorbeeld ‘Hierdie Moses’ (7:35; vgl. De Boor 1962:146,147; Dunn 1996:95),6 is eers positief. In 7:35 is dit τοῦτον en το ῦτον, wat albei na ‘hierdie Moses’ verwys. Later volg Stefanus dit met verwysings na dieselfde Moses7 in ʼn tweede reeks parallelismes in 7:36, 37 en 38, met die gebruik van οὗ τος (Bauer & Aland 1988:1206–1208).8 Aan die einde is die merkers negatief (7:40): ‘Wat hierdie Moses betref, wat ons uit Egipte uit gelei het – ons weet nie wat van hom geword het nie!’ 9 Hieruit volg dus dat veral 7:35–40 nie net ʼn gedagte-eenheid nie, maar ook ʼn grammatikale eenheid vorm. Dan brei 7:41 uit oor die ongehoorsaamheid van die Jode, en die omstandighede waarin hulle die neerhalende uitsprake oor Moses gemaak het. Die preek vervolg dan met die oordeel van die Here oor die volk se ongehoorsaamheid (7:42–43).

In die perikoop Handelinge 7:35–41 is dit die persoon van Moses wat ʼn belangrike rol speel. Dit is hy wat deur God gebruik word om die volk te verlos en sy Woord aan die Israeliete deur te gee, hoewel die Jode hom aanvanklik verwerp het (ἠρνήσαντο; vgl Blass et al. 1990:349). Die eerste verwerping word in 7:27 beskryf, en die tweede een het in die woestyn plaasgevind (Hand 7:39) (vgl Num 14:3 (LXX); Johnson 1992:130). God het egter anders besluit. Moses is gestuur om uiteindelik die leier en verlosser te word. Die feit dat Stefanus die gebruik van die perfektum ἀπέσταλκεν bo die aoristos verkies,10 wys daarop dat hoewel die Jode Moses verwerp het, die Here se sending en roeping van Moses bly staan het. Met ander woorde, die gebruik van die perfektum dui daarop dat die leser meer van Moses gaan hoor, ten spyte daarvan dat die Jode hom verwerp het. God handhaaf sy plan, en ontwikkel dit verder.

Die gebruik van die partisipium εἴπας, nogal ʼn seldsaamheid in die Nuwe Testament (Hand 22:24, 24:22 en 27:35; vgl Blass et al. 1990:63), kan ook in verband met die persoon van Moses en die tematiese eenheid van die perikoop genoem word. Die aoristos benadruk dat Moses die woorde gespreek het en trou was aan sy opdrag toe hy aangekondig het dat die Here eendag ʼn profeet soos hy gaan stuur, die groot Profeet.11 Dit lei die Openbaringstema in. Moses praat van ʼn profeet soos hy. Moses het namens die Here gepraat, sy Woord verkondig, en die Profeet gaan dit ook doen. In 7:38 volg dan die spesifieke uitsprake oor die orakels van God wat die Here op Sinaiberg aan Moses gegee het. Dít was toe die gemeente (ἐν τῇ ἐκκλησίᾳ) voor die berg saamgetrek het.12

In hierdie gedeelte kontrasteer Stefanus die Here se Openbaring met die volk se ongehoorsaamheid. Hulle weier om gehoorsaam te wees aan die geopenbaarde Woord van God; die orakels wat die mag het om ʼn verskil te maak in hul lewens. Die skrywer verduidelik dat dit ongehoorsaamheid is aan die leier wat die Here oor hulle aangestel het, naamlik Moses. Die objek van die Griekse ὑπήκοοι is die datief, in hierdie geval ᾧ, wat grammatikaal na Moses verwys (Blass et al. 1990:151–152).

Eksegese Handelinge 7:38

Tekskritiese opmerkings oor Handelinge 7:38

(Οὗτός ἐστιν ὁ Μωϋσῆς) οὗ τός ἐστιν ὁ γενόμενος ἐν τῇ ἐκκλησίᾳ ἐν τῇ ἐρήμῳ μετὰ τοῦ ἀγγέλου τοῦ λαλοῦντος αὐτῷ ἐν τῷ ὄρ ει Σινᾶ καὶ τῶν πατέρων ἡμ ῶν, ὃς ἐδέξατο λόγια ζῶ ντα δοῦναι ἡμῖν.13

Sommige manuskripte14 dui ὑμῖν as die laaste woord van 7:38 aan, in die plek van ἡμῖν. Die oorgrote meerderheid manuskripte (van sowel Oosterse as Westerse tradisies) verkies laasgenoemde. Dit is ook sinvol in die konteks van 7:38, aangesien Stefanus hom as deel van die volk reken wat die orakels ontvang het. Dat hy hom nog by sy toehoorders insluit,15 word bevestig deurdat hy na ‘ons vaders’ verwys (Hand 7:38,44). Dunn (1996:95) meen tereg: ‘This verse more than any other should make the positive claim of the speech clear: there is no critique of Moses here, no rejection of his law.’16

Aangesien sommige manuskripte van die Vulgaat die genitief selfstandige naamwoord vitae bevat, en nie die partisipium nie, sou ʼn mens vanuit die Vulgaat oor ζῶντα vrae kon vra.17 Dit is egter ʼn vertaalkeuse van sommige Latynse manuskripte, en nie ʼn saak wat met die Griekse teks te doen het nie.

Eksegese Handelinge 7:38 as onmiddellike konteks van λόγια ζῶντα

Eksegese Handelinge 7:38 as onmiddellike konteks van λόγια ζῶντα

Handelinge 7:38 beskryf Moses as die middelaar (Deut 5:5; vgl. Johnson 1992:130) tussen die volk Israel en God.18 Stefanus praat met die Jode oor die tyd toe die volk Israel nog saam met Moses deur die woestyn geswerf het. Hy vertel hoe die gemeente voor die Here se aangesig vergader het en sy Wet uit die hand van Moses ontvang het.

Stefanus brei uit oor die Wet en die rol van engele in daardie verband. Moses het die Wet by ʼn engel, of by die Engel van die Here, gekry, wat namens God op Sinaiberg met hom gepraat het. Moses was μετὰ τοῦ ἀγγέλου met die engel en (μετὰ) καὶ τῶν πατέρων ἡμῶν ‘met ons vaders’; albei sinsdele bevat μετὰ + genitief. Moses is die middelaar tussen die twee: die engel en die vaders. Stefanus betrek egter ook nou sy toehoorders. Hy betrek die verlede by die hede as hy sê dat Moses die lewende Openbaringswoorde ontvang het (ἐδέξατο, aoristos) om aan ons te gee (δοῦναι, aoristos infinitief). Met ander woorde, dit is vir Moses gegee, maar vir ons – ook Stefanus en dié wat na hom luister – bedoel. Die reikwydte van die woorde is dus baie groot. Die λόγια ζῶντα het ʼn betekenis wat baie verder as Moses se dae en die Israeliete van toendertyd strek. Volgens Lukas en Stefanus het dit betrekking op die hede! Dit is ʼn Goddelike strategie wat sowel die Jode wat na Stefanus se preek luister, as Lukas se lesers insluit. Dit is nie dooie woorde vir tóé nie, maar lewende woorde vir nóú. Dit was al duidelik uit die gebruik van ζῶντα, maar word nog verder versterk deur ἡμῖν. Moses het God se lewende uitsprake ontvang ‘om ze aan ons door te geven’ (Van Eck 2003:176). God se Openbaring was nie net vir Moses of die volk van daardie tyd bedoel nie, maar God het gelowiges wat eeue later sou leef in gedagte gehad. Sy Openbaring was ‘lewend’ of kragtig, en toereikend daarby.

Die hoofargument van hierdie artikel is dat nie bloot woorde (λόγοι) in Handelinge 7:38 ter sprake is nie. Volgens die outeur van die boek Handelinge het God baie meer as net woorde aan Moses en die volk Israel gegee. Dit gaan om Openbaringsuitsprake (λόγια); die meervoud dui op die verskynsel dat God sy wette, die orakels wat sy Openbaring uitmaak, aan Moses gegee het. Die aandagtige leser sien ook dat λόγια in Handelinge 7:38 nader bepaal word deur die partisipium ζῶντα. Daar is uitleggers wat ‘lewende’ verbind met wat die woorde kan uitrig in hulle wat luister.19 Hoewel dit nie onmoontlik is nie, is dit tog nie noodwendig wat die gebruik van die partisipium (akt pres neut plur) in hierdie verband aandui nie. Eintlik dui dit daarop dat die woorde besiel is met ʼn innerlike Goddelike krag. Dit is Gees en lewe; instrumente waarmee die lewende God self na sy mense uitreik.

Stefanus praat nie net oor ʼn verre verlede nie. Dit gaan nie oor ou nuus wat lank terug aan Moses gegee is nie. Die Godsprake, die λόγια, is lewend (ζῶντα). Daar is gesag en krag in daardie orakels wat selfs nou nog aanwesig is.

Die kombinasie van die meervoudsvorm van orakel, en klem op die blywende werksaamheid daarvan, maak ‘die Skrifte’ of ‘sy Woord’ die beste vertaling vir λόγια ζῶντα (vgl. Zerwick & Grosvenor 1988:373). Die λόγια ζ ῶντα is gesaghebbende uitsprake van Bo; die draers van God se Openbaring. Hulle het ook betrekking op, en is toeganklik vir, lesers en luisteraars meer as duisend jaar ná Moses (‘om vir ons te gee’). Dit is die versameling Godsuitsprake, orakels en Goddelike aanwysings, met ander woorde die Skrif. Dit is God wat gepraat het om sy wil bekend te maak. Baie vertalers en verklaarders verkies om hierdie rede die woord ‘orakel’ of ‘Godspraak’ vir λόγια in Handelinge 7:38. Dunn (1996:95) vertaal dit as ‘ living oracles to give to us’. Johnson (1992:130) kies weer ‘oracles = logia’. Munck (1967:64) merk op dat ‘the Greek word used here is generally translated as “oracular replies” ’. Witherington (1998; Hand 7:38) stem saam: ‘Moses received living oracles, the very words of God to convey to the congregation of God’s people.’

Dit gaan dus om Godsprake, maar terselfdertyd om die versameling daarvan; die verskynsel van God se Openbaring wat deur die mens geraadpleeg kan word. Metzger (1975:351)

lê nogal klem daarop, en praat gevolglik van ‘God’s revelation’. Bruce (1990:202) vertaal dit op soortgelyke wyse: ‘They received the revelation of God.’20

Die konteks bevestig dat Stefanus van die Skrif of van die Wet van Moses praat. In Handelinge 7:53 vervolg hy: οἵτινες ἐλάβετε τὸν νόμον εἰς διαταγὰς ἀγ γέλων καὶ οὐκ ἐφυλάξα τε (Die wat die Wet deur tussenkoms van engele ontvang het en dit nie bewaar het nie). Hulle het die Wet van Bo ontvang, maar nie daarby gehou nie. In daardie vers (7:53) is ʼn soortgelyke verband tussen engele en die Woord van God as in 7:38. Stefanus verbind die ‘lewende Godsprake’ met die werksaamheid van engele of met die Engel van die Here, μετὰ τοῦ ἀγγέλου (vgl. Dunn 1996:95; Stählin 1975:109).21 Die feit dat engele betrek is, wys op die Goddelike aard van die Openbaring; die buiteaardse oorsprong van hierdie Goddelike Openbaringswoorde. Dit is hemelse gesante wat die Wet by Moses en die volk laat uitkom. Die feit dat Stefanus in hierdie verband Sinaiberg noem, maak die afleiding moontlik dat hy veral die Wet as God se Openbaring in gedagte het (vgl. Polhill 1992:199). Hoewel dit vir Stefanus se toehoorders duidelik behoort te wees dat hy die hoogste agting vir Moses en God se Openbaring op Sinaiberg het, sou dit nie genoeg wees om sy lewe te red nie.

Kortliks kan ‘n mens dus saamvat dat λόγια ζῶντα in Handelinge 7:38 die Woord van God aandui, soos dit aan Moses gegee is. Die adjektiewe gebruik van die partisipium ζῶντα dui aan dat dit nie verganklike woorde uit die ou tyd is nie, maar dat dit deur die lewende God opgeskryf is en blywend werksaam is deur sy Gees – selfs vandag.22 Hierdie eietydse karakter word versterk deur δοῦναι ἡμῖν (om aan ons te gee). Die λόγια het die potensiaal om die lewe van Stefanus se toehoorders en Lukas se lesers te verander; hulle van die sonde weg te lei en op God te rig. Hierdie uitsprake besit die krag van God om dit te doen. Jervell (1998:240,241) beklemtoon die innerlike krag van die λόγια wat ʼn verskil maak in die verhouding met God: ‘”Lebendige Worte” heisst Worte, die Leben schenken’. Krodel (1986) stem saam en wys uit dat hierdie geestelike lewe sy oorsprong vind in God:

The law consists of living, that is, of life-giving, words which have their origin in God (cf. Heb. 4:12; 1 Peter 1:23). They demand obedience and faith toward the one true God and prohibit idolatry.

(Krodel 1986:147)

Ander verkies om in navolging van sommige Vulgaat-handskrifte ‘woorde van lewe’ te lees en dit te betrek op die positiewe gevolge van gehoorsaamheid. Weiser (1981:185): ‘Auf den Empfang der Lebensweisungen am Sinai.’ Stählin (1975:109) vertaal dit ook só, maar as hy die betekenis bespreek, gaan dit tog om ’n woord wat lewe gee: ‘vielmehr mit der Bezeichnung “Worte des Leben”. ’ Pirot & Clamer (1949:119) volg ook die Latynse vertaling in hulle Franse kommentaar. Hy vertaal qui accepit verba vitae dare nobis as qui reçut des paroles de vie pour vous les transmettre. Hoewel dit in Duits en Frans anders mag wees, is dit in Engels nie ’n goeie opsie om die Grieks as ‘woorde van lewe’ te vertaal nie. Dit is nie bloot ‘woorde’ nie en die partisipium is ζῶντα, ‘n werkwoord wat aksie aandui, nie ‘n selfstandige naamwoord nie (vgl. ζωῆς, e.g. 1 Joh. 1:1 περὶ τοῦ λόγου τῆ ςζωῆς).

Filologiese gevolgtrekking oor λόγια ζῶντα

In Handelinge 7:38 verwys λόγια ζῶντα na die versameling of verskynsel van Godsprake wat aan Moses vir die volk Israel gegee is. Dit gaan om die Woord van God, en het in besonder die Wet in die oog. Hierdie λόγια word aangebied as ‘lewend’: dit het ʼn blywende geestelike krag wat van God af kom. As Godsprake het dit ʼn gesag en krag wat ʼn verskil kan maak. Dit het nie net betrekking op die tyd van Moses nie, maar ook op die lewe van Stefanus se toehoorders en Lukas se lesers.

Dié artikel het geargumenteer dat die vertaling ‘woorde’, soos ʼn mens dit in die twee standaard- Afrikaanse vertalings sowel as die Nuwe Lewende Vertaling van 2006 aantref, nie ʼn goeie weergawe van die brontaal is nie. Die vertaling ‘Goddelike Openbaringswoorde’ word verkies, aangesien dit tereg aandui dat dit om orakels gaan wat van God af kom, en nie om blote (mense)woorde nie. Dít word versterk deur die Openbaringskonteks van Moses, wat God se Woorde aan die mense deurgegee het. Ten einde alle twyfel oor die oorsprong vir die leser uit die weg te ruim, las die outeur ook die aktiwiteit van engele in daardie verband in.

Stefanus maak aanspraak daarop dat Moses nie self die Wet namens God uitgedink het nie, maar dat dit as sodanig van Bo gekom het. Die groot leier het inligting uit die ‘hemelse gewest’ gekry om op die aarde bekend te maak.23 Die konteks wat Handelinge 7 daarstel, beklemtoon dat hierdie Openbaring deur ʼn daad vanuit die hemel plaasgevind het (God en engele was betrokke). Die outeur van Handelinge stel dit nie voor as slim teologie van Moses, wat agterna die Here of die godsdienstige gemeenskap se goedkeuring ontvang het nie.

Die Hollandse teoloog Kuitert (1989:28) meen soos volg: ‘Menselijke uitspraken worden niet méér waar als iemand zegt dat ze op openbaring berusten. Alle spreken over boven komt van beneden, ook de uitspraak dat iets van boven komt.’ Die outeur van Handelinge verskil. Volgens Lukas en Stefanus kom die Woord van Bo, al sou party wetenskaplikes ná die Verligting wel meen dit is benede uitgedink.

Die frase λόγια ζῶντα beklemtoon ʼn Openbaringsverskynsel wat deur menslike ervaring – deur die sintuie, die gehoor en taal – die tasbare wêreld bereik. Die mens hoef dit net te ontvang of te verwerp. Die feit dat die outeur van Handelinge die woorde λόγια ζῶντα kies, is ʼn aanduiding van die hoë agting vir die Skrif in die vroegste Christendom van Stefanus en Lukas se tyd. Moses het lewende Godsprake ontvang om aan die verdere geslagte te gee – van geslag tot geslag. Dit gaan oor die Woord van God, tóé en nóú.

Literatuurverwysings

Arrington, F.L., 1988, The Acts of the Apostles. An introduction and commentary [Die Handelinge van die Apostels. ‘n Inleiding en kommentaar], Hendrickson, Peabody.

Bauer, W., Aland, K. & Aland, B., 1988, Wörterbuch zum Neuen Testament. 6., völlig neu bearbeitete Auflage [Woordeboek van die Nuwe Testament, 6de volledig hersiene uitg.], Walter de Gruyter, Berlin.

Bette, J.C., Van den Brink, G. & Van der Jagt, J.W., 1990, Handelingen der Apostelen (Studiebijbel) [Handelinge van die Apostels, Studie Bybel reeks], In de Ruimte, Soest.

Blass, F., Debrunner, A. & Rehkopf, F., 1990, Grammatik des Neutestamentlichen Griechish [Grammatika van die Nuwe Testamentiese Grieks], VandenHoeck & Ruprecht, Göttingen.

Bruce, F.F., 1990, The Acts of the Apostles: The Greek text with introduction and commentary [Die Handelinge van die Apostel: Die Griekse teks met inleiding en kommentaar], Eerdmans, Grand Rapids.

Culy, M.M., 2003. The Acts of the Apostles: a handbook on the Greek text [Die handelinge van die Apostels: ‘n Handboek vir die Griekse teks], Baylor University Press, Waco.

De Boor, W., 1962, Der Brief des Paulus an die Römer (Wuppertaler Studienbibel) [Die brief van aulus aan die Romeine] (Wuppertal Studie Bybel Reeks)], Brockhaus Verlag, Wuppertal.

De Villiers, J.L., 1977, Die Handelinge van die Apostels, Deel 1, NG Kerkuitgewers, Kaapstad.

Dunn, J.D.G., 1996, The Acts of the Apostles (Epworth Commentaries) [Die Handelinge van die Apostels], Peterborough, Epworth.

Eckey, W., 2000, Die Apostelgeschichte: der Weg des Evangeliums von Jerusalem nach Rom [Acts of the Apostels: the way of the Gospel from Jerusalem to Rome], Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.

Jervell, J., 1998, Die Apostelgeschichte (Kritisch-exegetischer Kommentar über das Neue Testament) [Acts of the Apostles (Critical-exegetical Commentary Series on the New Testament)], Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Johnson, L.T., 1992, The Acts of the Apostles (Sacra Pagina Series), Liturgical, Collegeville.

Krodel, G., 1986. Acts. (Augsburg Commentary on the New Testament), Augsburg Publishing House, Minneapolis.

Kuitert, H.M., 1989, Zonder geloof vaart niemand wel, een plaatsbepaling van christendom en kerk [Without faith nobody travels well, a positioning of Christianity and church], Ten Have, Baarn.

Liddell, H.G. & Scott, R., 1996, A Greek-English Lexicon, with a revised supplement 1996, Clarendon Press, Oxford.

Lindijer, C.H., 1975, Handelingen van de Apostelen I (De Prediking van het Nieuwe Testament) [Acts of the Apostles I (Proclamation of the New Testament Series)] Callenbach, Nijkerk.

Longenecker, R., 1981, The Acts of the Apostles (Expository Bible Commentary), Zondervan, Grand Rapids.

Metzger, B.M., 1975, A textual commentary on the Greek New Testament, a companion volume to the United Bible Societies’ Greek New Testament (3rd edn.), United Bible Societies, Stuttgart.

Munck, J., 1967, The Acts of the Apostles. Introduction, translation and notes by Johannes Munck, revised by William F. Albright and C.S. Mann (The Anchor Bible), Doubleday & Company, New York.

Nestle-Aland, 1985, Novum Testamentum Latine, Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart.

Pelikan, J., 2006, Acts (SCM Theological Commentary on the Bible), SCM, London.

Pirot, L. & Clamer, A., 1949, Les Actes des Apôtres (La Sainte Bible, texte Latin et traduction Française d‘après les texts originaux avec un commentaire exégétique et théologique) [Acts of the Apostles (The Holy Bible Series, Latin text and French translation of the original text with and exegetical and theological commentary)], Letouzey et Ané, Paris.

Polhill, J.B., 1992, Acts (The New American Commentary), Broadman, Nashville.

Schille, G., 1983, Die Apostelgeschichte des Lukas (Theologischer Handkommentar zum Neuen Testament) [Luke’s Acts of the Apostles (Theological Commentary on the New Testament Series)], Deichert, Leipzig.

Schmithals, W., 1982. Die Apostelgeschichte des Lukas. (Zürcher Bibelkommentare), Theologischer Verlag Zürich, Zürich.

Stählin, G., 1975, Die Apostelgeschichte (Das Neue Testament Deutsch, Neues Göttinger Bibelwerk) [Acts of the Apostles (German New Testament Series, New Göttingen Bibleworks)], Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Van Eck, J., 2003, Handelingen, de Wereld in het geding (Commentaar op het Nieuwe Testament, derde serie) [Acts, the world at stake (Commentary on the New Testament, third series)], Kok, Kampen.

Weiser, A., 1981, Die Apostelgeschichte (Ökumenischer Taschenbuchkommentar zum Neuen Testament) [Acts of the Apostles (Ecumenical Small Commentary on the New Testament Series)], Gerd Mohn, Gütersloh.

Witherington, B., 1998, The Acts of the Apostles, Eerdmans, Grand Rapids.

Zerwick, M. & Grosvenor, M., 1988, A grammatical Analysis of the Greek New Testament, Papal Bible Institute (Editrice Pontificio Institutio Biblico), Roma.

Zmijewski, 1994, Die Apostelgeschichte. (Regensburger Neues Testament), Friedrich Pustet, Regensburg.

Zuiddam, B.A., 2008/2009, ‘Plutarch and God-eclipse in Christian Theology’, Ploutarchos, n.s., Scholarly Journal of the International Plutarch Society 6, 83–100.

Zuiddam, B.A., Van Rensburg, J. & Jordaan, P.J., 2008, ‘Λόγιον in Biblical Literature and its implications for Christian Scholarship’, Acta Patristica et Byzantina 19, 379–394.

Footnotes

1.Matteus 5:18: ἀμὴν γὰρ λέγ ω ὑμῖν ἕως ἂν παρέλθῃ ὁ οὐρ ανὸς καὶ ἡ γῆ ἰῶτα ἓν ἢ μία κεραία οὐ μὴ παρ έλθῃ ἀπὸ τοῦ νόμου ἕω ς ἂν πάντα γένηται. (1983/92-vertaling: ‘ Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.’)

2.Die Griekse name van die sewe diakens bevestig dat hulle almal ʼn Griekse agtergrond gehad het, wat aangesluit het by die mense vir wie hulle moes bedien. Die Griekse Stefanus bly egter ‘n Jood. Daar is verskillende Hebraïstiese spreekwyses in sy preek (soos wat trouens ook in die Septuaginta aangetref word). Één daarvan is σὺν χειρὶ ἀγγέλου (deur die hand van die engel) (vgl. Num 20:16; Blass, Debrunner, Rehkopf 1990:176–177). Hierdie Joodse agtergrond slaan ook deur in ander uitdrukkings, soos ἐν γῇ Αἰγύπτῳ. Kyk ook Hand 7, vers 40 (vgl. Blass et al. 1990:212–213).

3.Arrington (1988; Hand 7:32–44) merk op dat dit die langste toespraak in Handelinge is. Hy veronderstel dat dit ook as ‘n sendingstoespraak beskou kan word, want ‘it is a defense of the church against the Hellenistic synagogue and paves the way for the separation of the church from unbelieving Judaism’.

4.Handelinge 7 wys dat die werk van God voortgaan in Israel, soos blyk uit gelowiges onder die Griekse Jode, soos Stefanus. Daar is egter ook die element van diskontinuïteit, soos blyk uit die Jode wat die Godspraak, sy orakels en sy Openbaring in Christus verwerp: ‘Sie (die Stefanusrede) bringt einerseits durch den Geschichtsabriß die heilsgeschichtliche Kontinuität der Kirche mit Israel zur Sprache und andererseits durch die polemischen Teile die Distanzierung von dem Judentum, das sich dem Wirken des Heiligen Geistes widersetzt’ (Weiser 1981:188).

5.Die terugverwysing na Moses en sy leidende rol kom tot uiting in die Grieks van Handelinge 7. Persoonsname, soos Moses in hierdie perikoop (bv ὁ γὰρ Μωϋσῆς οὗτος), gaan gewoonlik saam met ʼn lidwoord. Dit word ook in Handelinge 1:11, 19:26 en Hebreërs 7:1 aangetref (vgl. Blass et al. 1990:240; Bruce 1990:203).

6.De Boor (1965:146–147) wys daarop dat die perikoop merkers bevat wat almal na Moses verwys. Hierdie verwysings verduidelik die agting wat Stefanus vir Moses het wanneer hy met sy beskuldigers praat: ‘De angebliche Lästerer des Mose zeigt die ganze Größe Mose in einem eindrucksvollen fünfmaligen‚ “dieser Mose, dieser, dieser, dieser, dieser”, aber damit zugleich auch die ganze unbegreifliche, schuldhafte Widerspenstigkeit Israels.’ Dunn (1996:95) vestig ook die aandag op hierdie fokus op Moses: ‘The repeated “this one” keeps the focus on Moses. The charge is building up: those listening to Stephen have been unfaithful to their own greatest hero.’ Eckey (2000:173) maak dit duidelik dat dit om ʼn kontras gaan: die Jode, as God se volk, het die Godgestuurde middelaar van sy Woord verwerp: ‘Ihn, den Israeliten als Herrscher und Richter ablehnten.’

7.Die strukturele merkers dui daarop dat Moses ook die onderwerp is van Handelinge 7:38, en nie die toekomstige profeet waarvan ook sprake is nie, indien die vers geestelik gelees moet word soos 1 Korintiërs 10:4: καὶ πάντες τὸ αὐτὸ πν ευματικὸν ἔπιον πόμα ἔπινον γὰρ ἐκ πνευματι κῆς ἀκολουθούσης πέτρας ἡ πέτρα δὲ ἦν ὁ Χ ριστός. (1983/92-vertaling: ‘... en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ʼn geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.’)

8.Longenecker (1981:343) verklaar hoe οὗτος in Handelinge 7 gebruik word om tot ʼn hoogtepunt mee te werk: ‘The twofold use of houtos estin (“this is that”) with the articular adjectival participle in these verses is an intensification of the demonstrative pronouns touton and houtos in vv.35–36. This suggests a buildup of tension in Stephen’s speech, starting from the rather placid historical narrative of vv.2–34, moving to the more strident conclusion in vv.35–36, and peaking with a passionate treatment of the Moses testimonium passage in Deuteronomy 18:15 and of the significance of Moses himself there … the expression “living words” (logia zonta) implies the opposite of any disparagement of the Mosaic Law.’

9.Die Jode praat op neerhalende wyse oor Moses in hierdie Ou-Testamentiese konteks, ὁ γὰρ Μωϋσῆ ς οὗτος (vgl. Bette et al. 1990:205). Dunn (1996:95) toon aan dat dit nie as ʼn ongeregverdigde aanval van Stefanus op die Joodse voorouers beskou moet word nie. Die Joodse geskrifte van daardie tyd het immers ook geen probleem gehad om sondes van die voorgeslag aan die kaak te stel nie. Die sonde van die goue kalf is byvoorbeeld op dieselfde vlak as die sondeval in die paradys beskou.

10.Sommige verklaarders begryp ἀπέσταλκεν as ʼn perfektum met ʼn aoristiese impak of betekenis (vgl. Blass et al. 1990:281), maar in die konteks van Handelinge 7 het dit sin dat Stefanus die perfektum verkies om ʼn handeling aan te dui wat in die verlede plaasgevind het, maar steeds impak het. God het vir Moses op pad gestuur en daardie sending het van krag gebly, ondanks die aanvanklike verwerping deur die Jode.

11.Vroeër (in Hand 3:22) het die apostel Petrus verkondig dat die aankondiging van die Profeet deur Moses (Deut 18:1) in Jesus Christus vervul was (vgl. Polhill 1992:199). Volgens sommige is dit ʼn nuwe Moses (bv Schille 1983:183). Deuteronomium 18:15 kondig egter ʼn groter profeet aan ná Moses. Pelikan (2006:103) wys daarop dat Moses self as die outeur beskou is van die profesie oor ʼn nuwe en veel groter Profeet. Met ander woorde, Petrus en Stefanus verstaan Deuteronomium 18:1 reg. Dit handel oor ʼn profesie wat ʼn nuwe Profeet aankondig wat bo Moses sal uitstyg, en nie oor ʼn reïnkarnasie van Moses nie.

12.Stefanus gebruik ἐκκλησίᾳ as ʼn saamtrek van gelowiges voor die aangesig van die Here. Dit is ook die woord vir ‘kerk’ in die Nuwe Testament; die gemeente of vergadering. De Villiers (1977:151) merk soos volg op: ‘Die woord vir “vergadering” wat hier in die Grieks gebruik word, is dieselfde woord wat Jesus vir kerk gebruik, wanneer Hy sy kerk op die belydenis van Petrus grondves, Matt. 16:18. Hiermee word die vergadering in die woestyn as ʼn tipe of voorbeeld gesien van die Christelike kerk of ekklesia, waar Jesus vir Moses vervang.’ Sommige laat dit na die dag van die vergadering verwys, toe die Israeliete by Sinaiberg saamgetrek het om God te ontmoet (vgl. Deut 4:10; 9:10; 18:6; vgl. ook Longenecker 1981:345). Bette et al. (1990:203) meen soos volg: ‘De ekklésia (gemeente, vergadering) verwijst hier naar “de dag van de vergadering”.’ Hierdie verklaring, wat ʼn ellips veronderstel, is egter nie waarskynlik nie, want dan sou ʼn mens eerder die invoeging van ἡμέρα (dag) as die weglating daarvan verwag. Die Septuaginta gebruik die uitdrukking ἐκ κλησίᾳ in Deuteronomium 4:10, 9:10 en 18:10, maar gebruik nie ἡμέρα in enige van daardie verwysings nie. (Kyk ook Handelinge 19:32, 39:41; vgl. Jervell 1998:240.)

13.Die New Revised Standard Version gee ʼn goeie brongerigte vertaling van Handelinge 7:38: ‘He is the one who was in the congregation in the wilderness with the angel who spoke to him at Mount Sinai, and with our ancestors; and he received living oracles to give to us.’

14.P46, א, B en enkele ander handskrifte (Metzger 1975:350-351) bevat ὑμῖν as die laaste woord van Handelinge 7:38. Die hoeveelheid en verskillende agtergronde van die manuskripte wat ἡμῖν bevat, dui egter daarop dat dit die regte lesing is. Handelinge 7:39 het ʼn soortgelyke alternatiewe lesing wat nog minder ondersteuning geniet.

15. Vanuit sowel ʼn tekskritiese oogpunt (die oorgrote meerderheid manuskripte uit verskillende tradisies) as ʼn linguistiese benadering is dit waarskynlik dat Handelinge 7:38 met ἡμῖν eindig: ‘Since he closely links himself with his hearers until v.51, ἡμῖν is to be preferred’ (Culy 2003:136).

16.Hoewel Stefanus met nie-Christelike Jode gepraat het, kan sy preek ook as ʼn beroep op die lesers van Lukas, dit wil sê Christene, verstaan word, om God se Openbaring deur Moses ernstig op te neem: ‘Wenn im gleichen Zuzammenhang (V.38) das durch Mose vermittelde Gesetz, die Tora, mit der Wendung >>lebendige Worte<< bezeichnet und damit auf die durch Jesus und die Kirche verkündigten >>Worte des Lebens<< (vgl. 5,20; auch 13:26) hingeordnet wird, dann ist dies eine Mahnung an den Christen, die Tora nicht gering zu achten,’ skryf Zmijewski (1994:331). Hoewel Handelinge ook Christelike lesers in gedagte het, is dit tog so dat die toehoorders van Stefanus se preek Jode was wat nie die Christene goedgesind was nie. Met die gebruik van ‘ons’ in 7:38 wys Stefanus die Jode dat hy Moses ernstig opneem.

17.Die Vulgaat: ‘Hic est qui fuit in exxlesia in solitudine cum angelo, qui loguebatur ei in monte Sinai et cum patribus nostris, qui accepit verba vitae dare nostris.’ Nestle-Aland se edisie van die Vulgaat (1985:340) verkies viva (lewend) bo vitae (van lewe) vanweë die Griekse partisipium, maar die manuskripte wat gewoonlik elders dié outeurs volg, bevat inderdaad vitae.

18.Verskeie kommentatore beskou Moses as ʼn tipe Christus, maar dit is onduidelik of Stefanus dié punt in Handelinge 7 stel. Schmithals (1982:71) beskou Moses as ʼn tipe Christus, sowel omdat Israel hom verwerp het, as omdat hy die middelaar was van God se woorde: ‘Von Mose spricht Stephanus nämlich in den höchsten Tönen; ihm widmet er auch den größten Teil seiner Rede. In V.35–38 stellt er ihn in liturgischem Stil (vgl. 2,22f. 32f.36; 3,12ff) als Typos (Vor-Bild) des Erretters Jesus dar, der wie Jesus (3,13) von seinen Volksgenossen abgelehnt wurde (V. 35.39). Zu den << christologischen>> Titeln des Mose in V. 27.35 vgl. Man 3,15; 5,31 und Lk.24,21; Mose tat wie Jesus und die Apostel Zeichen und Wunder vor dem Volk (V.36).’ Eckey (2000:174) ondersteun hierdie siening: ‘Als wundertätiger Befreier, Prophet und Mittler zwischen Gott und den Menschen ist Mose hier Prototyp Jesu Christi. Ander (Lindijer 1975:189) bevraagteken tog of dit is wat Stefanus in gedagte gehad het: ‘Wij kunnen aan de mogelijkheid denken dat in de gedachte van de middelaar opnieuw een parallellie tussen Mozes en Jezus ligt (vgl. Conzelmann: weer een plaats van de typologie: Mozes is “middelaar”). Maar dit element is hier zo weinig aangegeven, dat het ons de vraag lijkt of wij hier de paralellie Mozes-Jezus mogen vinden.’ Johnson (1992:137) voer Schmithals (1982) se teorie nog verder en lê ʼn verband tussen die koms van die Profeet, en die werk van die Heilige Gees deur die apostoliese Kerk: ‘We understand from this Moses story as well not only how Luke understands Jesus to be a prophet, but also how he understands the apostles to represent the “second visitation” to the people. As Moses went away in exile and returned in power, so did Jesus, but his second sending was in the power of the Spirit at work in his prophetic successors. Dit is egter in Handelinge duidelik dat Lukas ʼn letterlike terugkeer van Jesus in gedagte het (vgl. Hand 1:11, 17:31).

19.Die beeldvorming van ‘lewend’ in verband met God se Woord word reeds in die Ou Testament aangetref. Johnson (1992:130) wys daarop dat hoewel die frase ‘lewende woorde’ as sulks nie in die Septuagint aangetref word nie, daar tog ʼn konstante verband is tussen die Wet en ‘lewe’ (vgl. Deut 4:1, 33; 5:26; 16:20; 30:15; 32:45; ook LXX Ps 118:25, 50, 154). De Villiers (1977:151) wys in besonder op die verband met Deuteronomium 32: ‘Moontlik verwys Stefanus hiermee na Deut. 32:47, waar van die wet gesê word: “Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe; en deur hierdie woorde sal julle die dae verleng in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.” Hierdeur word ook Stefanus se agting vir die wet aangedui en word die aanklag van die Jode verwerp. Hierdie lewende woorde van die wet is ʼn voorafskaduwing van die evangelie, vgl. Joh.6:63,68; 12:50; Fil.2:16; Hebr. 4:12; 1 Petr. 1:23; 1 Joh. 1:1.’ Schille (1985:183) stem saam: ‘ “Lebendige Worte” ist eine Wendung nach Deut. 32:47 (wer das Gesetz hält, hat ein langes Leben vor sich).’ (Vgl. Lev 18:5, Eseg 20:11,13,21; Matt 19:17; Rom 7:10,12,14; 10:5; Gal 3:12)

20.Moses was die middelaar van God se λόγια ζῶντα. ‘Moses is thus presented as being, under God, the founder of a pure, spiritual cult – a presentation found elsewhere in Hellenistic appreciations of him,’ meen Bruce (1990:202). Sy siening beklemtoon dat die Wet nie namens God deur Moses uitgedink is nie, maar uit die hemel geopenbaar is.

21.Daar is verskillende aanwysings vir die betrokkenheid van engele by die Openbaring van God se Woord, hoewel dit in die Ou Testament nie baie aandag kry of uitgespel word nie. Deut. 33:2 LXX: καὶ εἶπεν κύριος ἐκ Σινα ἥκει καὶ ἐπέφανεν ἐκ Σηιρ ἡμῖν καὶ κατέσπε υσεν ἐξ ὄρους Φαραν σ ὺν μυριάσιν Καδης ἐκ δ εξιῶν αὐτοῦ ἄγγελοι μετ αὐτοῦ (En die HERE het gesê: uit Sinai het hy gekom en van Seïr het hy verskyn aan ons en met spoed het hy uit die berge van Faran gekom met tienduizenden van Kades met sy engele aan sy regtersy) (vgl. Dan 6:2; Hand 7:53; Gal 3:19; Heb 2:2). Kyk ook Josefus (Joodse Oudhede XV,3): ‘En wat ons betref, ons het van God die uitnemendste van ons geloofsleer ontvang en die allerheiligste deel van ons Wet deur engele of afgevaardigde tussengangers.’

22.Die gebruik van die partisipium ζῶντα dui op energie en moontlik selfs leweskeppende kwaliteite: ‘In “levend” kunnen wij horen: werkzaam, krachtig, en ook wel: leven scheppend’ (Lindijer 1975:189).

23.Die agting vir die Skrif wat Handelinge 7:38 weerspieël, kry ʼn mens ook in Psalm 119:105 (LXX 118:105): λύχνος τοῖς ποσίν μ ου ὁ λόγος σου καὶ φῶ ς ταῖς τρίβοις μου (U Woord is ʼn lamp vir my voete en ʼn lig op my paaie. Wanneer die Here praat, verstaan die mens sy lewenspad). Handelinge 7:38 beklemtoon die Goddelike oorsprong baie sterker as Psalm 119:105, waar die praktiese nut van die Woord sentraal staan.

 

Cited-By

1. Openbaring en ervaring, ’n reformatories-konfessionele benadering van 2 Petrus 1:16–21
Benno A. Zuiddam
In Die Skriflig in Luce Verbi  vol: 50  issue: 2  year: 2016  
doi: 10.4102/ids.v50i2.2010

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 1609-9982 (print) | ISSN: 2074-7705 (online)

Connect on: Facebook, Twitter, Google+, LinkedIn and YouTube

Subscribe to our newsletter

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license.

©2016 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS Publishing | Empowering Africa through access to knowledge
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

publishing(AT)aosis.co.za replace (AT) with @

Please read the privacy statement.