Search this journal:     Advanced search
Article Information

Authors:
Johannes P. Pienaar1
Ernest van Eck1

Affiliation:
1Departement Nuwe-Testamentiese Wetenskap, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika

Correspondence to:
Ernst van Eck

email:
ernest.vaneck@up.ac.za

Postal address:
Departement Nuwe-Testamentiese Wetenskap, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria, Lynnwoodweg, Pretoria 0002, Suid-Afrika

Keywords
Kolossense; Christologie; etiek; praktiese geloof; identiteit in Jesus Christus

Dates:
Received: 18 Jan. 2010
Accepted: 24 Aug. 2010
Published: 14 Oct. 2010

How to cite this article:
Pienaar, J.P. & Van Eck, E., 2010, ‘Die verhouding tussen Christologie en etiek in Kolossense – praxis vir die postmoderne gelowige en kerk’, Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #369, 7 pages. DOI: 10.4102/ve.v31i1.369

Copyright Notice:
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

ISSN: 1609-9982 (print)
ISSN: 2074-7705 (online)

Die verhouding tussen Christologie en etiek in Kolossense – praxis vir die postmoderne gelowige en kerk
In This Original Research...
Abstract
Inleiding
Die Christologie van kolossense
Etiek (paranese) in Kolossense
Die identiteit van die gelowiges
Toepassing
Slotopmerkings
Literatuurverwysings
Footnotes
Abstract

The relationship between Christology and ethics in Colossians – praxis for the postmodern believer and church

In Colossians, there is a close relationship between Christology and ethics. This relationship provides answers to the many questions that face the postmodern believer and the church in the current secular world. Believers constantly battle to apply their faith in a practical way. The reason for this is that believers do not have a reference point from which to apply their faith in practice. The relationship between Christology and ethics in the letter to the Colossians presents such a reference point, namely the believer’s identity in Jesus Christ. This identity in Christ, and not nomalism, should determine all ethical decisions of the believer.

Inleiding

Gelowiges in Suid-Afrika se geloof en verhouding met Christus word daagliks bedreig deur allerlei beproewings en versoekings wat mense, omstandighede en die bose op hul pad lê. Die kerk in die nuwe Suid-Afrika kom verder voor verskeie uitdagings te staan wat nooit vantevore op sy voorstoep was nie. Die globaliserende wêreld waarin die kerk hom bevind, dra ook by tot ʼn groot aantal onsekerhede. Lidmate vra om praktiese leiding in hierdie nuwe situasies wat feitlik daagliks verander. Hierdie bydrae wil aantoon dat die Kolossensebrief ʼn etiek voorhou wat op baie van hierdie nuwe uitdagings en onsekerhede antwoorde bied.

Dit is opmerklik hoe gelowiges daagliks sukkel om in hul praktiese geloofslewe staande te bly en te volhard. Die rede hiervoor is dat gelowiges nie hul geloof prakties vanaf ʼn vaste uitgangspunt uitleef nie. Die Kolossensebrief bied hierdie uitgangspunt deur ʼn bepaalde verhouding tussen die Christologie en etiek daar te stel. Die tipies Pauliniese wisselwerking tussen die indikatief en imperatief kom baie prominent in Kolossense voor.1 Die vaste uitgangspunt wat Kolossense bied, is Jesus Christus, en die gelowige se identiteit in Hom. Indien die praktiese ekklesiologie sterker klem lê op hierdie uitgangspunt, en die wisselwerking tussen die indikatief en imperatief – die verhouding tussen die Christologie en etiek – sal dit gelowiges beter vir hul praktiese geloofslewe toerus. Wanneer die gelowige se identiteit in Christus geleë is (indikatief) en die verhouding met Christus die praktiese geloofslewe bepaal (imperatief), word gelowiges in staat gestel om dinamies en nuut met hul omstandighede en nuwe uitdagings om te gaan. Anders gestel: Die gelowige se identiteit in Christus, en nie ʼn wettiese ingesteldheid nie, moet die hedendaagse etiek bepaal.

Die navorsingsgeskiedenis van Kolossense toon dat die dwaalleer waarna die brief verwys, outeurskap, die belydenis (Kol 1:13–20), en die huistafels (Kol 3:18–4:1) die meeste aandag ontvang. In ʼn mindere mate skenk Kolossense ook aandag aan die teologie, Christologie en etiek. Sommige werke verwys wél na die verhouding tussen die indikatief en imperatief, maar ʼn volledige diepte-ondersoek wat spesifiek op die verhouding tussen die Christologie en etiek fokus as ʼn wyse om die dwaalleer in die gemeente teen te staan, is nog nie werklik onderneem nie.

Bogenoemde navorsing is dit grotendeels eens dat die skryf van die Kolossensebrief heel waarskynlik toe te skryf is aan ʼn dwaalleer wat die gemeente bedreig het (O’Brien 1982:XXX; Barth & Blanke 1994:46; Boonzaaier 2002:27–29; Martin 1985:7; Roberts 1998:161–183; Vergeer 1995:413–442).2 Hierdie dwaalleer het die algenoegsaamheid, voorrang en verhewenheid van Christus se verlossingswerk betwyfel deur die aanbidding van engele, die vier van feeste, en menslike voorskrifte aan die verlossingswerk van Christus toe te voeg. Dit alles het die gelowiges in Kolosse aan hul redding in Christus laat twyfel.

Paulus konfronteer nie die dwaalleraars direk nie. Hy volg ʼn ander strategie. Deur deurgaans op die wisselwerking tussen die indikatief (Christologie) en die imperatief (etiek) klem te lê, help hy die gelowiges om vas te staan teen die bedreiging. Hy herinner hulle aan die volstrekte uniekheid van Christus (Kol 1:12–20); dat Hy die genoegsame Middelaar vir skepping en herskepping is. Tweedens herinner hy die gelowiges aan hul identiteit. Hulle is mense wat met Jesus Christus verbonde is, omdat hulle saam met Hom gesterf het (Kol 2:20). Hulle staan in ʼn intieme verhouding met Hom. Hul lewenswyse moet deur hierdie verbondenheid, hierdie identiteit, bepaal word. Dit moet die uitgangspunt vir hul alledaagse en praktiese geloofslewe wees – wat hul persoonlike lewe en hul verhoudings in die gemeente, in die gesin en teenoor buitestanders insluit.

Uiteraard is dit in die bestek van hierdie bydrae nie moontlik om volledig op die Christologie en etiek van Kolossense in te gaan nie. Net enkele penstrepe word daarom in die volgende twee afdelings getrek wat hierdie twee sake betref. Die bedoeling is om die kern van albei kortliks aan te bied ter ondersteuning van dít wat hierdie bydrae wil aantoon, naamlik dat die noue verband in Kolossense tussen die Christologie en die etiek as uitgangspunt vir ʼn postmoderne praktiese ekklesiologie behoort te dien.

Die Christologie van kolossense

Die belydenis in Kolossense 1:13–20

Die belydenis in Kolossense 1:13–20 is die matriks vir die hele Kolossensebrief. Die interpretasie van die boodskap in die brief moet vanuit hierdie belydenis geskied, aangesien die kerntemas wat in die res van die brief behandel word, voortbou op temas wat in die belydenis aan die orde kom.3 Die inhoud van die belydenis kan kripties soos volg saamgevat word: Jesus Christus is die Here, die Seun van God, die Seun wat Hy liefhet (Kol 1:13). Die Seun is die beeld van God (Kol 1:15a); Hy is voor alles, en verhewe bo die hele skepping (Kol 1:15b). God het alles déúr Hom en vír Hom geskep, en deur Hom bly alles in stand (Kol 1:16a). Die hele skepping het ín Hom, déúr Hom, en mét Hom ontstaan, met Hom as doel (Kol 1:16b). As beeld van die onsigbare God, is die Seun die Skeppergod in aksie. Alles buig voor Hom, en in Hom is die erfdeel van die Vader te vinde. Die Seun voer heerskappy oor dinge wat gesien kan word en nié gesien kan word nie; oor dinge in die hemel óf op die aarde; engele én geestelike magte, sowel as oor elke ding of mag wat deur mense vereer of aangehang sou kon word (Kol 1:16a). Hierdie verhouding van die Seun met God is die sigbare én onsigbare bewys dat Hy God is.

Met die skepping en onderhouding van die skepping voer God sy plan uit – die plan wat Hy in Christus sal voltooi (Kol 1:18–20). Daarom wys alles heen na Christus, en kan die skepping die sin van sy bestaan en sy hoogste doel alleen in Christus en sy verheerliking vind. Almal in die ganse skepping moet weet: Die Seun is eerste!

Soos Christus die eerste genoem word met betrekking tot die skepping, so is hy ook die eerste met betrekking tot die herskepping, oftewel die opstanding uit die dood. Hy was die eerste wat uit die dood opgestaan het. Hy het die dood oorwin (Kol 1:18b). Só is Christus die begin van die nuwe skepping – nie alleen in tydelike sin nie, maar in die sin van bron, oorsprong en norm van die nuwe lewe.

Christus se opstanding is die oorsprong van sy kerk, sy liggaam, waarvan Hy die Hoof is (Kol 1:18a). Hy voer heerskappy oor die kerk. In Hom word die kerk tot ʼn eenheid gebind. Hy is die hart en bron van die kerk. Die kerk (gelowiges) groei úit Hom en ná Hom toe, en is ook op Hom gerig as doel van hul lewe. Die kerk is by Christus ingelyf. Wat met Hom gebeur het, het ook met hulle gebeur. Hulle het saam met Christus gesterf; is saam met Hom begrawe, en is saam met Hom opgewek. Daarom word hulle die liggaam van Christus genoem. Dit alles is die resultaat van God se besluit om deur sy Seun alles op die aarde en in die hemel met Homself te versoen (Kol 1:20). God het dit bewerkstellig deur met sy volle wese in Christus te woon (Kol 1:19). Die versoening en die herstel van die vrede is deur die bloed van sy Seun aan die kruis tot stand gebring (Kol 1:20b).

Die gelowiges is ook met God versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het. God het hulle uit die mag van die duisternis weggeruk, en hulle onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het gelowiges weens hul geloof in, aanname van, en verbondenheid met Christus as hul Here verlossing verkry deurdat hul sondes vergewe is (Kol 1:14). Hy het die skuldbewys met sy eise teen hulle tot niet gemaak deur dit aan die kruis te spyker, en het dit vir goed weggeneem. Christus het met sy kruisdood die straf vir die sonde op Hom geneem en dit namens die sondaars gedra (Kol 1:20b).

Die geheimenis van God wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan mense wat aan Hom behoort, is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vinde (Kol 2:3). Die waarheid van alles, en eintlik die inhoud van die geheimenis, is dat Christus in die gelowiges is. Hy is hulle hoop op die heerlikheid (Kol 3:4).

Christus is ook hoof oor die bose magte, deurdat Hy hulle met sy oorwinning aan die kruis ontwapen het en in sy triomftog weggevoer het. Dus: die gelowiges is bevry van alles wat enige mag oor hulle wil uitoefen; hulle hoef niks te vrees nie. Christus sit nou aan die regterhand van God. Wanneer Hy, wat die gelowiges se lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal hulle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol 3:4). Daarom het hulle nie nodig om hulle aan enigiets of enigiemand naas Christus te onderwerp nie. Hulle moet hulle aan Christus onderwerp, want alle volheid is in Hom te vinde. Hy is genoeg (Kol 1:13–20).

Etiek (paranese) in Kolossense

Die etiek in Kolossense moet in die eerste plek verstaan word teen die agtergrond van die dwaalleer in die gemeente se midde, wat dreig om hul fokus op wie Jesus Christus is, hul identiteit in Hom, en gevolglik hul lewenswyse, te laat ontspoor (kyk Kol 2:4). Hierdie etiese voorskrifte is egter ook universeel en altyd geldend vir alle gelowiges in hul daaglikse lewe.

Die wisselwerking tussen die indikatief en imperatief in Kolossense word aangewend om die lesers te oorreed om die etiese riglyne (paranese) wat voorgehou word, te volg. Hierdie studie is deeglik daarvan bewus dat die indikatief en imperatief nie van mekaar geskei kan word nie: Die indikatief (wat in Kolossense in ʼn groot mate met die Christologie van die brief ooreenkom) motiveer en regverdig die imperatief (etiek), terwyl die imperatief teruggryp na die indikatief waarop dit gebaseer is. Tog word daar in hierdie afdeling alleen ʼn samevatting van die etiese vermaning in Kolossense aangebied, sonder vermelding van die Christologiese begronding daarvan. Hierdie werkswyse kan die indruk skep dat die etiek in Kolossense ʼn opeenstapeling van etiese riglyne of kodes is. Dít is egter nie die geval nie. Die etiek in Kolossense is Christologies begrond. Die gelowige se etiese lewenswyse, volgens Kolossense, spruit uit hul verbondenheid met Christus, oftewel hul identiteit in Christus. Die bedoeling van die etiese riglyne is dan juis dat gelowiges as’t ware weer ʼn greep op Christus moet kry. Hulle moet wees wat hulle alreeds is.

Interessant van Kolossense is dat daar reeds in die indikatiewe deel (Kol 1:3–2:23) van die brief etiese vermanings aangetref word, alhoewel nie in die imperatiewe vorm nie. Daar word ook nie in die indikatiewe deel van die brief op die etiese uitsprake uitgebrei nie. Dít word later, in die paranetiese deel, in besonderhede behandel. Die gemeente word hier as’t ware voorberei op wat sal volg.

In die inleidende deel (Kol 1:1–12) sê die skrywer dat hy bid dat hulle, deur wysheid en insig wat die Gees gee, tot volle kennis kan kom van wat God se wil is, en dat dit tot ʼn lewenswandel tot eer van die Here sal lei (Kol 1:9b–10). Paulus bid daarom in hierdie gedeelte van die brief vir praktiese dinge. Die gemeente moet vrugte dra deur goeie werke te doen. Hulle moet toeneem in kennis van God. Hulle moet die Vader met blydskap dank wat hulle geskik gemaak het om deel te hê aan die verlossing en die erfenis wat vir hulle in die ryk van die lig wag (Kol 1:12). In Kolossense 2:6–7 spreek Paulus die gemeente die eerste keer in die imperatief aan. Hier word gesê dat die gelowiges in Christus moet wandel (in verbondenheid met Hom moet lewe); in Christus gewortel en op Hom gebou moet wees; moet vasstaan in die geloof soos hulle geleer is, en dankbaar moet wees.

In die derde hoofdeel van die brief (Kol 3:1–4:6) word die eintlike paranetiese of etiese uitsprake aangetref. In Kolossense 3:1–4 word gestel dat die dinge daar bo, waar Christus is, gesoek, oftewel nagestreef, moet word. Hier gaan dit oor die oriëntering van die mens se wil. ʼn Volgehoue poging en inspanning word vereis. Die term ‘soek’ (zhteite) word as ʼn direkte etiese bevel gebruik. Dit verwoord die gesindheid waarmee geleef moet word. Die opdrag in Kolossense 3:1 word in Kolossense 3:2 herhaal. Die dinge daar bo, en nie die dinge op die aarde nie, moet bedink word. Daar moet dus duidelik op ʼn bepaalde manier gedink word. In wese wil Kolossense 3:1–4 dus sê dat gelowiges soos iemand in Christus moet leef (optree).

Die implikasies en gevolge van die voorafgaande indikatiewe in Kolossense 2:20 en 3:4 word vanaf Kolossense 3:5 as die ware alternatief vir die dwaalleer gestel. Kolossense 3:5 begin met ʼn imperatief wat vra dat die sondige praktyke wat deel was van die lesers se lewe – dit wil sê alle eties onverantwoordelike gedrag – mee weggedoen (doodgemaak) word. Vervolgens word vyf ondeugde genoem wat deel was van hul lewe: onsedelikheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid wat afgodery is (Kol 3:5). Só word gewaarsku dat die aardse (materiële) dinge God se plek in ʼn mens se lewe kan inneem. Hierdie lys ondeugde is van ʼn meer persoonlike aard.

Die tweede lys ondeugde in Kolossense 3:8 en 9 is van ʼn meer sosiale aard. In hierdie lys word ook vyf ondeugde genoem wat afgelê (laat staan) moet word, onder andere, (1) toorn, (2) woede, (3) boosheid (nyd), (4) laster en (5) skandelike taal (Kol 3:8). Gelowiges moet ook nie vir mekaar lieg nie, want dit mislei ander (Kol 3:9). Dit is die vrug van ʼn liefdelose gesindheid teenoor die medemens, en is ʼn verwerping van die eis van waarheid en opregtheid. Hierdie lys ondeugde raak die gelowiges se verhoudings onderling sowel as hul verhouding met niegelowiges.

In Kolossense 3:9 en 10 word dan gestel dat gelowiges moet leef volgens dít wat hulle alreeds is – ‘nuwe mense’ in Christus – en nie volgens hul ‘ou mens’, hul ou sondige praktyke, nie. Die gelowiges moet hulle met die nuwe mens ‘beklee’ (Kol 3:10). Dít het reeds gebeur toe hulle tot geloof gekom het. Hier word hulle aangemoedig om dit voortdurend te doen. In hierdie proses word hulle al hoe meer na die beeld van hul Skepper vernuwe. Hierdie vernuwing vind deur die toename in ware kennis (ʼn prakties-etiese term) plaas. Kennis beteken hier om te weet wie God is en wat sy wil is. Hierdie kennis word bekom deur Jesus Christus te ken. Kennis bring dus ʼn verbetering in die verhouding met God, en so ook met die medemens, mee. Dit alles het tot gevolg dat daar in die kerk ʼn nuwe orde, sonder enige onderskeid tussen ras, volke, godsdiens, kultuur en sosiale kenmerke, heers. In die geloofsgemeenskap heers ʼn nuwe lewenswyse (Kol 3:11).

Ná die negatiewe vermanings in Kolossense 3:5–11, naamlik om die ondeugde van die ‘ou mens’ of ‘ou lewe’ dood te maak en af te lê, volg nou positiewe vermanings, wat op die ‘aantrek’ van die deugde van die ‘nuwe mens’ of ‘nuwe lewe’ klem lê (Kol 3:12–17). Die lesers kry opdrag om hulself, as uitverkorenes van God wat God vir Hom afgesonder het en wat Hy baie liefhet (hul identiteit), met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid te ‘beklee’ (aan te trek) (Kol 3:12). Verder moet hulle mekaar verdra en vergewe, soos die Here hulle vergewe. Hierdie deugde dui op ʼn bepaalde gesindheid teenoor mekaar. Bo al hierdie dinge (Kol 3:14) is die belangrikste morele kwaliteit in die ‘nuwe mens’ se lewe – dít wat alles oortref en wat die gelowige moet ‘aantrek’ – die liefde. Gelowiges moet mekaar liefhê, want dit bind hulle saam in ʼn volkome eenheid. Die liefde bring ook mee dat hulle genoemde deugde teenoor mekaar betoon, en só kom die eenheid tussen hulle tot stand. Sonder die liefde, is hierdie deugde blote wettisisme. Verder moet die vrede wat Christus gee in hul harte/lewe heers (Kol 3:15). Hierdie ‘Christusvrede’ moet die maatstaf wees waarmee menslike gedrag of optrede gemeet word. Dit is beskrywend van die lewe in God se koninkryk. Hierdie vrede is nie net objektief en subjektief nie, maar ook relasioneel. Vrede moet die oordeel oor die verhoudings in die gemeente vel. Die vrede van Christus moet in sy liggaam, die kerk, geleef word. Daartoe word gelowiges deur God geroep: Hulle moet in vrede met mekaar leef. Die gelowiges moet ook dankbaar wees (Kol 3:26).

Die saak van dankbaarheid ontvang spesiale klem in Kolossense. Die ‘nuwe lewe’ is ʼn lewe van dankbaarheid. Dankbaarheid is nie net ʼn innerlike gesindheid nie. Dit moet ook uiterlik in hul verhoudings in die liggaam van Christus manifesteer. Bo alles moet hulle dankbaarheid teenoor God betoon vir die ‘nuwe lewe’, en die woord wat in hulle woon. Dankbaarheid teenoor God moet bewys word deur ʼn nuwe lewenswyse – ook in die erediens deur ʼn verskeidenheid geestelike liedere wat tot sy eer gesing word. Die woord van Christus, die evangelie, moet in sy volle rykdom in hulle bly (Kol 3:16). Dit moet elke faset van die gelowige se lewe deurdring, en beheer uitoefen op elke gedagte, woord en daad. Die rykdom van die evangelie moet gedeel word deur hulle wat dit ontvang. Die gelowiges moet mekaar in alle wysheid leer en vermaan. Wysheid vereis soberheid (die verstaan van wat God se wil is), en moet in konkrete optrede bevestig word. Wysheid is dus ʼn kwalifikasie waaraan lering en vermaning moet voldoen. Hierdie wysheid en kennis word in Christus gevind.

Die opdrag dat alles wat die gelowiges ook al doen (elke woord of daad), gedoen moet word in die Naam van die Here Jesus, som alles op wat vooraf gesê is (Kol 3:17). Dit is die hoogtepunt van die paranese. Die gelowiges moet dus in ʼn lewensbelangrike verhouding met die Here leef. Dít beteken om in harmonie met sy geopenbaarde wil te leef; in onderdanigheid aan sy heerskappy; in afhanklikheid aan Hom, en in vertroue op Hom. In verbondenheid met Hom in die ‘nuwe lewe’, moet gelowiges Hom altyd in hul woorde en dade erken en bely. Hulle moet Hom verteenwoordig en waardig wees, want Christus is alles.

Met die ‘huistafels’ (Kol 3:18–4:1) verduidelik die skrywer uitvoerig aan die hand van drie voorbeelde (die verhouding vrou−man, kind−ouers en slawe−eienaars) hoe die beginsel in Kolossense 3:17 prakties in die sosiale lewe, en spesifiek die huishouding, toegepas moet word. Die gesindheid, optrede en pligte van die huisgenote word duidelik en saaklik gestel. Vrouens moet hul mans onderdanig wees. Dit dui wél op ʼn ondergeskikte posisie wat rolverdeling betref, maar nie op minderwaardigheid nie – alles moet binne die Here se wil geskied (Kol 3:18). Mans moet hul vrouens liefhê. Hierdie liefde is ʼn opofferende en onselfsugtige liefde, wat deur die voorbeeld van Christus gedefinieer word. Mans moet ook nie verbitter teenoor hul vrouens wees nie. Die liefde, wat lankmoedig en vriendelik is en die kwaad nie toereken nie, moet die man van onbillike, harde, wrewelrige en hatige optrede teenoor sy vrou weerhou (Kol 3:19). Kinders moet hul ouers in alles gehoorsaam wees. Sodanige gehoorsaamheid is vir die Here goed en aanneemlik (Kol 3:20). Hierdie gehoorsaamheid word beperk deur die beginsel om God méér gehoorsaam te wees as mense. Vaders moenie gedurig by hul kinders fout vind, onbillike eise aan hulle stel, of hulle verkleineer nie, omdat hul kinders só moedeloos kan word. Hul kinders se lewensvreugde kan só ontneem word. Sulke optrede is nie vir die Here aanneemlik nie (Kol 3:21).

Gelowige slawe moet in alles aan hul eienaars gehoorsaam wees. Hulle moenie net werk om deur hul eienaars raakgesien te word en só in mense se guns te probeer kom nie. Hulle moet eerder met ʼn opregte hart uit eerbied vir die Here werk (Kol 3:22). Wat hulle ook al doen, moet hulle doen asof vir die Here, en nie vir mense nie, terwyl hulle weet dat hulle ʼn beloning van die Here sal ontvang soos Hy beloof het. Jesus Christus is die Here wat hulle moet dien (Kol 3:23–24). Daar word ook gewaarsku dat die een wat onreg pleeg, nie oorgesien sal word nie, omdat niemand voorgetrek word nie. Ten slotte word eienaars vermaan om hul slawe reg en billik te behandel, omdat ook húlle gehoorsaamheid aan die Here verskuldig is (Kol 4:1).

Die paranese word afgesluit met ʼn paar losstaande dog belangrike vermanings (Kol 4:2–6). Die gelowiges moet volhard in die gebed, en waaksaam en dankbaar bly. Hulle moet voorbidding doen vir die skrywer dat God die weg vir die verkondiging van die evangelie van Christus sal baan, en dat die skrywer dit duidelik sal verkondig soos hy moet (Kol 4:2–4). Die gelowiges word ook vermaan om met wysheid teenoor ongelowiges op te tree. Hulle moet die beste gebruik maak van elke geleentheid om die evangelie te verkondig. Hul optrede moet tot eer van God en die evangelie wees. Wat hulle sê, moet met die nodige verantwoordelikheid geskied; met ʼn gesindheid van vriendelikheid en goeie smaak. Hulle moet die regte woord op die regte tyd spreek, sodat die geheimenis van Christus die ongelowiges sonder hindernis kan bereik.

Die identiteit van die gelowiges

Soos hierbo genoem, is die verhouding tussen Christologie en etiek in Kolossense nou verbind met die identiteit van die gelowige wat in Christus is. Paulus beskryf in Kolossense die gelowiges se identiteit deur van verskillende terme en uitdrukkings gebruik te maak. Dít word gedoen om die lesers voortdurend te herinner aan wie hulle is. Die volgende indikatiewe uitsprake in Kolossense ten opsigte van die identiteit van die gelowiges kan in dié verband genoem word:

• geskik gemaak vir die ryk van die lig

• verloste mense

• versoende mense

• in Christus, en Christus is in hulle

• mense wat met hoop leef

• het Christus aangeneem en is met Hom verbonde, in Hom gewortel, op Hom gebou, vas in die geloof, en dankbaar

• saam met Christus begrawe en opgewek

• nuwe mense na die beeld van Christus

• is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet.

Hulle is geskik gemaak vir die ryk van die lig (Kol 1:12–14)
Die gemeente in Kolosse word opgeroep om God te dank, omdat Hy dié wat in Hom glo ʼn erfenis in die ryk van die lig (die lewe by Hom) gegee het. God het hulle reeds daarvoor geskik gemaak. Die gelowiges is vir die erfenis geskik gemaak deurdat God hulle uit die mag van die duisternis weggeruk en onder die heerskappy van sy Seun geplaas het. Deur die Seun het gelowiges verlossing en die vergifnis van sondes verkry. In Christus is daar verlossing en vergifnis; dit is verbonde met sy Persoon. God het Christus ons verlossing gemaak.

God het ʼn radikale en beslissende verandering in heerskappy laat plaasvind. Die gevolg hiervan is dat daar nou by gelowiges ʼn gans nuwe bestaanswyse en bestaansdoel ingetree het (Kol 3:19). Hulle is nie alleen bevry nie; hulle is ook van die mag ín hulle – die sonde – en daarom van hulself bevry (Kol 2:13–15). Hul lewe word nou deur Christus beheer. So onversoenbaar as wat lig en duisternis, en die heerskappy van die Seun en die mag van die bose en Satan, met mekaar is (Luk 22:53; Hand 26:18), so kwalitatief anders is die gemeente (gelowiges) se lewe en hul eindbestemming nou teenoor wat dit voorheen was. Gelowiges besit nou ʼn nuwe identiteit, posisie en status. Hulle is nie net ten opsigte van die verlede nuut gemaak nie, maar veral met die oog op die toekoms. Dit is nie iets wat nagestreef moet word nie; hul besit dit alreeds. Al leef hulle nog in hierdie bedeling, is hulle reeds geskik gemaak om by God in die ryk van die lig te leef.

Hulle is verloste mense (Kol 1:20–22)

Wat op beeldryke en ruimtelike wyse in Kolossense 1:12 en 13 gesê is, word in Kolossense 1:14 geïnterpreteer wat verlossing en vergifnis van sonde betref. Dit is duidelik dat in Kolossense 1:12–14 van verlossingsterme, soos ‘geskik gemaak’, ‘verlos’, ‘redding’ en ‘vergifnis’, gebruik gemaak word. Wat ook duidelik gestel word, is dat die gelowiges die verlossing en die vergifnis van sonde verkry het. Dus word die redding, as oorgang van die duisternis na lig, hier as ʼn bevryding beskryf wat uit die vergifnis van sonde bestaan (Roberts 1997:44).4

Hulle is versoende mense (Kol 1:14)

Vroeër was hulle ver van God, en vyandiggesind teenoor Hom; nou is hulle met Hom versoen. Hulle het voorheen ʼn sondige lewenswyse gehandhaaf; nou is hulle heilig, sonder smet, en onberispelik voor Hom. Soos alle ander mense, het hulle hulself deur hul vyandige gesindheid ver van God verwyder. Hierdie gesindheid het hul totale menswees geraak. Hul gedagtes was vol boosheid, wat in ʼn algeheel sondige lewenswyse, en nie slegs enkele dade nie, tot uiting gekom het. Hulle het hulself van God verwyder, maar God het hulle na Hom toe gebring. Die wyse waarop Hy dit gedoen het, was om hulle met Homself te versoen deur sy Seun vir hulle te laat sterf. Die versoening van die kerk is bewerk slegs deur die prys van ware inkarnasie en ʼn realistiese dood. Dit spreek op ʼn treffende wyse van Jesus se identiteit in verhouding tot mense, en sy onderwerping aan die dood in ʼn menslike liggaam (Martin 1985:67).

Volgens Kolossense 1:22 geld hierdie versoening nou ook vir húlle (die Kolossense). Hulle lewe van toe en nou verskil soos dag en nag. So algeheel sondig as wat dit was, so algeheel nuut is dit nou. Die doel van die versoening is om hulle ‘heilig’, ‘sonder smet’ en ‘onberispelik’ voor Hom te maak. Hierdie terme dui op volkomenheid (vgl Kol 1:28). In werklikheid is hulle dit alreeds voor God; dít is wat Hy van hulle in Christus gemaak het, en dít is hoe Hy hulle beskou. Hierdie terme herinner aan offerterminologie (vgl Heb 12:2; 1 Pet 1:19; 1 Pet 2:5). Waarskynlik is die implikasie dat dit nie net is wat God van hulle gemaak het nie, maar dat hulle self ook hul lewe as so ʼn offer aan God moet wy.

Hulle is in Christus, en Christus is in hulle (Kol 1:2; 27–28; 3:11)
Gelowiges het die verlossing, omdat hulle dit in Christus het – in die geliefde Seun. Roberts (1997:44) en Schweizer (1982:53) merk tereg op dat dit hier nie meer spesifiek gaan oor wat God gedoen het nie, maar oor die gelowiges se ervaring op grond van wat God vir hulle gedoen het.

Die uitdrukking ‘in Hom’ gee ten diepste uiting aan die gedagte dat Christus ʼn besondere eenheid vorm met diegene vir wie Hy gesterf en opgestaan het. Hulle deel ten volle in wat Hy vir hulle gedoen het en wat met Hom gebeur het (Du Plessis 1988:225). Die gelowiges is een met Christus (NAV se vertaling van ‘in Christus’); hulle is deel van Hom; in Hom opgeneem; deel van sy liggaam. Daarom kan Paulus op imperatiewe wyse praat van die nuwe mens ‘aantrek’ (‘beklee’; die NAV vertaal dit met ‘leef nou die lewe van die nuwe mens’; vgl ook Rom 13:14; Ef 4:24; Kol 3:10), wat eintlik beteken dat gelowiges hulle volkome met Christus moet vereenselwig nadat hulle reeds deur die doop en die geloof by Hom ingelyf is (Rom 6; Kol 2–3). Hierdie verbondenheid met en gemeenskap tussen Christus en die gelowiges word byvoorbeeld met die beeld van die wynstok en die lote beskryf (Joh 15:1–8). Hierdie eenheid is ʼn geestelike eenheid met Christus, en word aangrypend in Kolossense 3:1–4 verduidelik.

Variante van die formule ‘in Christus’ kom gereeld in die brief voor: ‘In Hom’ (Kol 2:6); ‘in die Here’ (Kol 4:1; OAV) en ‘saam met Christus’ (Kol 3:1) kan hier as voorbeelde genoem word. Alhoewel die uitdrukking ‘Christus in julle’ (Kol 1:27) wél ʼn bevestiging kan wees van almal wat ‘in Christus’ is, of omgekeerd, is die twee gedagtes nie dieselfde nie. Deur die Gees woon Christus in almal wat tot sy familie behoort en van wie gesê word dat hulle ‘in Hom’ is (Wright 1991:92).

Romeine 8:1–11 bevat goeie voorbeelde van albei uitdrukkings. Romeine 8:1 verwys na dié wat ‘in Christus Jesus’ is, en die daaropvolgende verse verduidelik die nuwe posisie wat die gelowige ‘in Christus’ het. Romeine 8:10 verwys na ‘Christus in die gelowiges’, wat beteken dat die Gees aan hulle die (nuwe) ‘lewe’ op grond van God se vryspraak gee (hul nuwe posisie). Die verse daarná beskryf dan hoe die nuwe lewe onder beheer van die Gees geleef moet word. Dus, omdat die gelowiges ‘in Christus’ ʼn nuwe posisie, status of identiteit beklee, is ‘Christus in hulle’ – en omdat dit só is, het hulle ʼn nuwe lewe. Om ‘in Christus te wees’ en ‘Christus in hulle’ is nie net ʼn waarborg vir die ewige lewe nie; dit is ook, eties gesproke, die bron van en krag vir die lewe (Smalley 1980:97).

Die betekenis van ‘Christus in julle’ word ook duidelik wanneer daar gekyk word hoe ander tekste, soos Johannes 15:4a (‘Julle moet in My bly en Ek in julle’), dit gebruik. Met die ware wingerdstok as beeld, is die gedagte dat vrugbaarheid op wedersydse inwoning berus (vgl Joh 14:11,23). By die opstanding van Christus sal die onderlinge inwoning tussen Vader, Seun en dissipels, vir die dissipels sekerheid bring. Dieselfde gedagte kom in Galasiërs 2:20a voor: ‘En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.’ Die nuwe lewe word nou deur Christus bepaal. Christus is die middelpunt van hierdie lewe (vgl Gal 4:19). Dít stel Kolossense 3:10 ook: ‘En leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.’ Die gelowige word al hoe meer beeld van God (Christus) deur sy/haar lewe en optrede al hoe meer in ooreenstemming te bring met wat dit ‘in Christus’ (verbondenheid) moet wees, want in die nuwe mensheid (kerk) is Christus alles en ‘in almal’ (Kol 3:11), ongeag afkoms (vgl 1 Kor 1:30; Ef 3:17).

Paulus wil sy lesers hierdie twee kante van God se genadewerk laat sien – twee kante wat nie géskei nie dog ónderskei moet word om die omvang van die nuwe lewe te verstaan. Die gelowige verkeer in ʼn nuwe posisie voor God, te wete ‘in Christus’. Hierdie nuwe posisie moet sigbaar word, en dít is alleen moontlik met ‘Christus in julle’. Hierdie verband tussen die gelowige ‘in Christus’ en ‘Christus in die gelowige’ is dan ook een van die kernfaktore in die verhouding tussen die Christologie en etiek in Kolossense.

Lucas (1980:75) maak in hierdie verband ʼn interessante opmerking wanneer hy sê dat Paulus hier besig is om in die behoefte (eis) aan die hoogste ervaring van God – wat (teenoor die dwaalleer) vir die mens toelaatbaar is – te voorsien. Wanneer ons begin om die grootheid van Christus te begryp, en die intieme verbintenis (eenheid) wat ons met Hom kan hê (‘Hy in ons’ en ‘ons in Hom’), hoef ons niks meer van God te vra nie.

Hulle is mense wat met hoop leef (Kol 1:5,23,27)

Tog is dit God se doel om ons nog méér te gee. Die uitdrukking ‘die hoop van die heerlikheid’ in Kolossense 1:5 hou met hierdie ‘meer’ verband. Christus is die bron en waarborg van die gelowige se eskatologiese heerlikheid. Christus se inwoning in die gelowige wek die hoop op die toekomstige heerlikheid. Hy is die voorwerp en inhoud van die gelowige se hoop.

Wat die teologiese gebruik van die term ‘hoop’ betref, blyk dit of die Nuwe-Testamentiese gebruik daarvan feitlik sinoniem is met vertroue op God – ʼn sekerheid wat verder as aardse twyfel en teleurstelling strek (vgl Rom 5:5; 9:33). Dit is nie bloot ʼn menslike verwagting van beter dae nie. Die gelowige se hoop is Christus (1 Tim 1:1). God is die bron van hoop (Rom 15:13; 1 Pet 1:2), en die hoop word sterker deur die krag van die Heilige Gees (Rom 15:13). God het aan gelowiges ʼn roeping gegee sowel as hoop deur die evangelie (Kol 1:23). Die hoop is gerig op die finale verlossing in die opstanding (Hand 23:6; Rom 8:18–25) en op die wederkoms van Jesus Christus (1 Pet 1:13). Christus se inwoning deur die Gees word die gelowige se hoop op die heerlikheid (Kol 1:27; vgl 1 Joh 3:1–3). Hierdie hoop word op verskeie wyses beskryf:

• word in die hemel bewaar (Kol 1:5)

• is hoop op die ewige lewe (Tit 1:2)

• is ʼn lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel in bewaring gehou word (1 Pet 1:3,4)

• is ʼn beter hoop as vroeër waardeur God genader kan word (Heb 7:19).

In die Nuwe Testament word hoop met swaarkry geassosieer – swaarkry wat volharding kweek; volharding wat egtheid van geloof kweek; egtheid van geloof wat hoop kweek, en hoop wat nie beskaam nie (Rom 5:3–5). Sodanige hoop is ʼn lewensanker (Heb 6:18,19). In die lig van hul hoop, moet gelowiges hulself rein hou soos Jesus rein is (1 Joh 1:3), en altyd gereed wees om ʼn antwoord te gee oor die hoop wat in hulle leef (1 Pet 3:15). Terwyl gelowiges met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug leef, sien hulle uit na die vervulling van hul hoop – die verskyning van die heerlikheid van hul God en Verlosser, Jesus Christus (Tit 2:12,13)

Hulle het Christus aangeneem en is met Hom verbonde, in Hom gewortel, op Hom gebou, vas in die geloof, en dankbaar (Kol 2:6–7)

Kolossense 2:6–7 is die kern van Kolossense 2:6–23, sowel as die kernboodskap van die hele brief. Volgens Beasley-Murray (1973:470) word die fundamentele appèl van Kolossense in hierdie twee verse saamgevat. Dit som die voorafgaande op en lê die grondslag vir die weerlegging van die dwaalleer.

In Kolossense 2:6 word gestel dat die gemeente Christus Jesus aangeneem het. Dit word as ʼn feit (indikatief) gestel – daarom die redegewende ‘soos/aangesien’. Uit die voorafgaande (Kol 1:2,4; 2:5) is dit duidelik dat Paulus met gelowiges praat, en dat hulle deur God in Christus versoen is (Kol 1:22,23). Dit is dus duidelik dat die gemeente hulself aan Christus verbind het. In Kolossense 2:12, 13 en 20, en Kolossense 3:1, 9 en 10 verwys Paulus telkens na hierdie waarheid.

Die term ‘aanneem’ verwys na die aanneem van die oorgelewerde tradisie van Christus. Dit is meer as ʼn persoonlike verbintenis met Christus, alhoewel dit natuurlik ook ʼn persoonlike verbintenis insluit. Die gemeente het Christus self as hul tradisie aangeneem (O’Brien 1982:107; Carson 1979:59–60; Pokorný 1991:110–111). Hy is die sentrum van God se geheimenis (Kol 1:27; 2:12), en die Here van sowel skepping as versoening (Kol 1:15–20).

Kolossense 2:6 stel dit verder dat die gelowiges in Hom moet wandel; in verbondenheid met Hom moet leef. Die uitdrukking ‘in Hom’ beteken om in status en verlossing deel te hê aan alles wat Christus jou bied (Van der Watt 1988:53) en kan letterlik met ‘wandel’ vertaal word. ‘Wandel’ is ʼn praktiese en etiese term. Hulle wat Christus Jesus as Here bely, word opgeroep (imperatief) om – in verbondenheid met, afhanklik van, en gehoorsaam aan Hom – tot sy eer te leef. Die woord suggereer ʼn gereelde groei in die gelowige se lewe namate die gelowige se kennis van God toeneem (vgl Kol 1:10; Van der Watt 1988:53; Carson 1979:59–60). Die woord kom ook in Kolossense 1:10, Kolossense 3:7 en Kolossense 4:5 voor. In die paranetiese gedeelte, vanaf Kolossense 3:5, word dit beklemtoon, en word die ‘wandel’ (etiek) toegespits, behandel en verder gevoer. Die begrip ‘wandel’ word verduidelik deur die verdere gedagtes, naamlik ‘gewortel’, ‘opgebou’, ‘geloof’ en ‘dankbaarheid’. Die perfektum-tydsvorm dui op ʼn eenmalige gebeurtenis wat blywend is. Die gelowiges moet gewortel bly. Die passiewe vorm dui op God wat die gelowige in Christus ‘gewortel’ het en deur die geloof in Hom is. Hierdie metafoor dui op die gelowige se verbondenheid met Christus. Christus is die bron van hul geestelike voedsel en groei; hul lewenskrag en vrugdra (vgl Kol 1:10).

Die tweede gedagte wat gebruik word om die wandel in Christus meer presies te definieer is ‘opgebou’. Hierdie metafoor sluit nou aan by ‘gewortel’. Die huidige-tydvorm dui op ʼn teenwoordige en voortgaande gebeurtenis, terwyl die passiewe vorm weereens daarop dui dat God besig is om hulle wat in Hom is, op te bou. Christus is die vaste fondament, en hulle moet al hoe meer soos Hy word (vgl Hand 20:32; Ef 4:13; 2 Pet 3:18; 1 Kor 3:6–11).

Die derde gedagte wat gebruik word, is ‘bevestig/vas in die geloof’. Dié vorm sê nogmaals dat God die gelowiges sterk maak in die geloof. Hier dui geloof in die huidige-tydvorm ook op ʼn voortgaande proses. Só word die verbondenheid met Christus, deur die geloof, beklemtoon.

Die laaste gedagte wat in Kolossense 2:7 gebruik word, is ‘oorvloedig in dankbaarheid’. ‘Oorvloedig’ is in die aktiewe vorm, en dít is ʼn duidelike aanduiding dat dankbaarheid ʼn aktiewe kenmerk van die gemeente se lewe moet wees. Dankbaarheid word op verskeie plekke deur die hele brief genoem (Kol 1:3,12; 2:7; 3:15,16,17; 4:2). Hierdie dankbaarheid moet die gevolg wees van die indikatief ‘in Hom’.

Hulle is saam met Christus begrawe en opgewek (Kol 2:12,13,20; 3:1,3)

Hierdie verse beskryf die inhoudelike van die gelowige se verbondenheid met Christus. Deur Christus se werk is die gelowiges bevry van die bose magte en hul sondige aard. Christus het finaal ʼn einde aan die ou lewe gemaak. Wat met Christus gebeur het, het geestelik met die gelowiges gebeur. Hulle is saam met Christus begrawe en ook saam met Hom opgewek, omdat hulle geglo het in die krag van God wat Christus uit die dood opgewek het. Deur die vergifnis van sonde is die gelowiges uit die sondedood lewend gemaak. Dít het gebeur deurdat God die skuldbewys met sy eise aan die kruis gespyker het, en dit só tot niet gemaak het. Christus het met sy kruisdood die straf vir die sonde op Hom geneem, en dit namens die sondaars gedra. Só is die bose magte ontwapen; is die oorwinning aan die kruis behaal, en is hulle in Christus se triomftog weggevoer.

Die gelowiges is dus bevry van alles wat enige mag oor hulle wou uitoefen, en hoef daarom niks te vrees nie. Hulle het nie nodig om hulle aan enigiets of enigiemand naas Christus te onderwerp nie. Hulle moet hulle aan Christus onderwerp, want alle volheid is in Hom te vinde. Hy is genoeg.

Hulle is nuwe mense na die beeld van Christus (Kol 3:10)

Gelowiges het met die ou, sondige mens en daardie mens se gewoontes gebreek, en leef nou die lewe van die nuwe mens. Hierdie nuwe mens moet ook al hoe meer na die beeld van Christus vernuwe word. Christus moet al hoe meer in die gelowige gestalte kry.

Hulle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet (Kol 3:12)

Letterlik vertaal, lui Kolossense 3:12 soos volg: ‘Beklee julle dan as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes.’ Met die ‘beklee julle’ in Kolossense 3:12 word die beeld van ‘aantrek’ in Kolossense 3:10 voortgesit, wat op ʼn afgehandelde gebeurtenis dui. Die woord ‘dan/daarom’ verwys na Kolossense 3:11 en moontlik ook na Kolossense 3:10. Die ‘nuwe mens’ (vgl Kol 3:10) word nou nader omskryf as uitverkorenes van God. Gelowiges is God se uitverkorenes, omdat Hy hulle deur die vergewing van sondes verlos het (vgl Kol 1:13,14) – dieselfde gedagte as die uitverkiesing van Israel (vgl Deut 4:37; 7:7; Ps 33:12; kyk ook Rom 8:33; 9:11; 11:5,7,28; 1 Pet 2:9).

‘Heiliges’ en ‘geliefdes’ moet as kenmerk tot ‘uitverkorenes’ verstaan word. ‘Heilig’ beteken ‘wat afgesonder is as eiendom van God’ (vgl Kol 1:2; 2 Kor 6:17) en ‘geliefdes’ (vgl 1 Tess 1:4; Ef 1:6) verwys weer na die gelowiges wat die voorwerpe is van God se besondere liefde. Al hierdie benamings beklemtoon die manier waarop die gemeente, deur God se liefde vir hulle, afgesonder is.

Op grond van hierdie verhewe posisie voor God, moet die gelowiges ʼn lewenswyse openbaar wat die ‘nuwe mens’ waardig is. Hierdie gedrag waartoe hulle aangespoor word, weerspieël die Here wat hulle uitverkies het.

Toepassing

Die strategie wat Paulus toepas om die gelowiges te help om teen die dwaalleer staande te bly is eintlik baie duidelik. Die eerste hoofdeel van die brief (Kol 1:13–2:5) vertel hoe hulle gelowiges geword het. Hulle is uit die mag van die duisternis weggeruk en onder die heerskappy van die Seun geplaas. Deur Christus het hulle verlossing verkry deurdat hul sondes vergewe is. Met die Christusbelydenis word die voorrang van die Seun beskryf. Hy het die vrede herstel. God het gelowiges deur Christus met Homself versoen. Die boodskap is dat Christus die geopenbaarde geheimenis van God is. Voortdurend word daarna verwys dat ware kennis, wat tot die korrekte lewenswyse lei, by Christus alleen te vinde is. Die gemeente word teen misleiding gewaarsku, en die gelowiges word vermaan om vas te staan in hul geloof in Christus.

In die tweede hoofdeel (Kol 2:6–23) word die gelowiges versoek om in verbondenheid met Christus te leef, omdat hulle saam met Christus gesterf het en ook saam met Hom opgewek is. Hul lewenswyse moet deur hul identiteit in Christus bepaal word. Hulle moet die nuwe lewe saam met Christus leef.

In die derde hoofdeel (Kol 3:1–4:1) word deur praktiese voorbeelde presies uiteengesit wat die korrekte lewenswyse in verbondenheid met Christus moet wees. Dit raak gelowiges se persoonlike lewe, hul verhoudings in die gemeente en gesinsopset, en hul optrede teenoor buitestanders. Alles word saamgevat in die vermaning dat wat gedoen of gesê word, in die Naam van Jesus Christus moet geskied.

ʼn Logiese verloop kan dus in die brief aangedui word. Dit begin by die werklikheid dat die Kolossense gelowiges is. Hulle besit ʼn identiteit in Christus. Hulle is verbonde met Christus, en moet vanuit hierdie verbondenheid leef. Die brief aan die Kolossense beklemtoon dus baie sterk die onlosmaaklike verband tussen die Christologie en die etiek. Anders gestel: In Kolossense is daar ʼn onlosmaaklike verband tussen die gelowige se identiteit in Christus, en optrede in alle omstandighede. Die woorde ‘aangesien’ en ‘julle is’ verwys na die gelowige se identiteit, en hul optrede word deur die woorde ‘moet’ en ‘daarom’ met hul identiteit verbind. Hul optrede word dus begrond in wie hulle in Christus is.

Vir die postmoderne gelowige en kerk is dit ook die beste raad om in alle omstandighede, soos die Here wil, die opstandingslewe te leef. Hier kan byvoorbeeld ook gedink word aan die poging tot kerkhereniging in die NG Kerk-familie. Die vraag is: Maak almal werklik erns om by die regte uitgangspunt, naamlik Christus, en die gelowige en kerk se identiteit in Christus, te begin? Lê ons uitgangspunt en identiteit nie dalk elders nie?

Slotopmerkings

Die kerk moet daadwerklik meer erns maak om gelowiges vanuit die boodskap van Kolossense, naamlik ‘Christus is alles’, toe te rus. Daarom bepaal en rig die Christologie ook die etiek in Kolossense. Anders gestel: Die gelowiges se verbondenheid met Christus bepaal en rig hul gedrag en optrede. Hulle moet wees wat hulle alreeds is – verlostes in Christus. Hulle is mense met ʼn identiteit, status en posisie in Christus.

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

(Kol 2:6–7)

Literatuurverwysings

Barth, M. & Blanke, H., 1994, Colossians [Kolossense], transl. A.B. Beck, Doubleday, New York.

Beasley-Murray, G.R., 1973,’ The second chapter of Colossians’ [Die tweede hoofstuk van Kolossense], Review and Expositor 70, 469−479.

Boonzaaier, J., 2002, ‘God, skepping en verlossing. ‘n Eksegetiese verkenning van Kolossense 1:13−20’, PhD proefskrif, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika.

Carson, H.M., 1979, The epistles of Paul to the Colossians and Philemon [Die briewe van Paulus aan die Kolossense en Filemon], Eerdmans, Grand Rapids.

Du Plessis, I.J., 1988, Die Pauliniese Christologie, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament: Band V, pp. 213–232, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Du Toit, A.B., 1984, Die brief aan die Romeine, in Verklarende Bybel, Lux Verbi, Kaapstad.

Hooker, M.D., 1973, ‘Were there false teachers at Colossae? New life in Colossians 3:1−17’ [Was daar valse leraars in Kolossense? Nuwe lewe in Kolossense 3:1−7], Review & Expositor 70(4), 481−493.

Lohse, E., 1971, Colossians and Philemon [Kolossense en Filemon], transl. W.R. Poehlman, Fortress Press, Philadelphia.

Lucas, D., 1980, The message of Colossians & Philemon [Die boodskap van Kolossense en Filemon], InterVarsity Press, Downers Grove.

Martin, R.P., 1985, Colossians and Philemon [Kolossense en Filemon], Eerdmans, Grand Rapids.

O’Brien, P.T., 1982, Colossians, Philemon [Kolossense, Filemon], Word Books Publisher, Texas.

Pokorný, P., 1991, Colossians: A commentary [‘n Kommentaar op Kolossense], transl. S.S. Schatzmann, Hendrickson Publishers, Peabody.

Roberts, J., 1984, Die dwaalleer van Kolosse, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament, Band V. Die Pauliniese Briewe: Inleiding en teologie, pp. 147−151, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Roberts, J., 1997, Verlos en vry. Kolossense en Filemon. Die Woord vir die mense, Orion, Halfway House.

Roberts, J., 1998, ‘Jewish mystical experience in the early Christian era as background to understanding Colossians’ [‘n Ervaring van die Joodse mistiek in die vroeë Christelike era as agtergrond vir die begrip van Kolossense], Neotestamentica, 32(1), 161–183.

Schweizer, E., 1982, The letter to the Colossians: a commentary [Kommentaar op die brief aan die Kolossense], transl. A. Chester, SPCK, London.

Smalley, S.S., 1980, The Christ-Christian relationship in Paul and John [Die Christus-Christelike verhouding in Paulus en Johannes], in F.F. Bruce (ed.), Pauline Studies: Essays Presented to F.F. Bruce, D.A. Hagner and M.J. Harris, pp. 95−104, Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids.

Van der Watt, J.G., 1988, Christus is julle hoop. Die brief aan die Kolossense: ‘n semantiese redevoeringsanalise, NG Kerk-Boekhandel, Pretoria.

Vergeer, W.C., 1995, ‘Die dwaalleer in Kolosse (2): Die boodskap van die Kolossensebrief’, In die Skriflig 29(3), 413−442.

Viljoen, F.P., 2002, ‘Die strategiese funksie van die Christus-himne in Kolossense 1:13-20’, In die Skriflig. Tydskrif van die Gereformeerde Teologiese Vereniging 36(1), 67−87.

Wright, N.T., 1991, Colossians and Philemon [Kolossense en Filemon], Eerdmans, Grand Rapids.

Footnotes

1. Hierdie studie gaan nie deurtastend in op die outeurskap van Kolossense nie. Die standpunte vir en teen Pauliniese outeurskap ten opsigte van Kolossense is welbekend. Vir opsommings van hierdie standpunte, kyk byvoorbeeld Boonzaaier (2002:17), Du Toit (1984:18–21), O’Brien (1982:xli) en Roberts (1984:117–124). Hierdie studie gaan van die veronderstelling uit dat Kolossense Paulinies is.

2. Sommige navorsers oordeel dat daar geen dwaalleer in Kolosse bestaan het nie (kyk bv Hooker 1973:315–331).

3. Boonzaaier (2002:xv,124,141) verwys by verskeie geleenthede na Kolossense 1:13–20 as die matriks aan die hand waarvan die inhoud van die brief verstaan moet word. Die interpretasie van die brief word bepaal deur die betekenis wat aan dié gedeelte gegee word. Ook Viljoen (2002:67–87) is van oordeel dat Kolossense 1:13–20 die grondslag lê vir dít wat in die res van die brief betoog word. Die herhaling in die res van die brief van woorde en begrippe wat in hierdie gedeelte voorkom, bevestig hierdie aanname (kyk Kol 2:6,7,9,10,20; 3:1,10,13; 4:1). In die res van die brief word ook telkens na die teologiese perspektiewe van Kolossense 1:13–20 verwys, sonder verdere argumentasie. Die standpunt van Boonzaaier (2002) en Viljoen (2002) word deur Barth en Blanke (1994:194) en Lucas (1980:45) ondersteun.

4. Lohse (1971:39) is korrek wanneer hy oordeel dat verlossing hier dieselfde betekenis het as vergifnis van sonde (vgl Ef 1:7; kyk ook Pokorný 1991:54).

Cited-By

No related citations found

Comments on this article

Before posting your comment, please read our policy.
Post a Comment (Login required)


ISSN: 1609-9982 (print) | ISSN: 2074-7705 (online)

Connect on: Facebook, Twitter, Google+, LinkedIn and YouTube

Subscribe to our newsletter

All articles published in this journal are licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license, unless otherwise stated.

Website design & content: ©2016 AOSIS (Pty) Ltd. All rights reserved. No unauthorised duplication allowed.

AOSIS Publishing | Empowering Africa through access to knowledge
Postnet Suite #110, Private Bag X19, Durbanville, South Africa, 7551
Tel: 086 1000 381 
Tel: +27 21 975 2602 
Fax: 086 5004 974

publishing(AT)aosis.co.za replace (AT) with @

Please read the privacy statement.